Wanneer gaan Zuma die geld terugbetaal?

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die staatsprokureur het steeds nie die R18,2 miljoen in belastingbetalergeld – wat gebruik is vir oudpres. Jacob Zuma se regskoste in sy korrupsieverhoor – by hom verhaal nie.

Die appèlhof het die staatsprokureur in 2021 beveel “om alle nodige stappe te doen, waaronder die instel van siviele stappe, om die geld wat die staat aan mnr. Zuma se regskoste bestee het, te verhaal”.

Zuma het destyds aangevoer dit sal ʼn skending van sy grondwetlike regte wees om die betaling vir sy regskoste op te skort, maar die appèl het dié argument verwerp.

Die hof het bevind dit is teen die openbare belang om toe te laat dat amptenare, wat staatshulpbronne gebruik om vervolging te pootjie of te vertraag, dié aanspreeklikheid omseil.

Twee jaar later het die staatsprokureur egter steeds geen dagvaarding teen Zuma uitgereik nie.

Adv. Glynnis Breytenbach, die DA se woordvoerder oor justisie en konstitusionele ontwikkeling, sê dít is geld wat gebruik kon word om ʼn reeds sukkelende strafregstelsel te help regruk.

“Pleks daarvan is die geld gebruik om ʼn voormalige ANC-president te help om aanspreeklikheid te ontduik en nie op die korrupsieaanklagte teen hom te antwoord nie,” sê Breytenbach.

“Vir veels te lank het Zuma skaamteloos openbare geld gebruik om verskeie mislukte regspogings van stapel te stuur wat daarop gemik is om aanspreeklikheid vry te spring.”

Breytenbach sê dit ondermyn die oppergesag van die reg en is in teenstelling met die beginsels van aanspreeklikheid soos vervat in die Grondwet.

“Dit is onaanvaarbaar dat die staatsprokureur versuim het om ʼn dagvaarding teen Zuma uit te reik – ʼn jaar ná die aanvanklike betalingsaanmaning geïgnoreer is.”

Dit dui op ʼn gebrek aan dringendheid deur die staat om belastingbetalers se geld te herwin wat onsuksesvol gebruik is om ANC-leiers wat van misdrywe beskuldig word, te verdedig. “Dit dui ook op die minister se algehele gebrek aan beheer oor sy portefeulje, aangesien hy uiteindelik verantwoordelik is vir hierdie gebrek aan optrede.”

Zuma se korrupsieverhoor word op 15 en 16 Augustus in die hooggeregshof in Pietermaritzburg hervat.

Die oudpresident is in hierdie stadium klaarblyklik nog in Rusland waar hy mediese behandeling ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nonnie ·

Yip, hy’s ‘kastig’ so siek dat GEEN dr in Suid Afrika hom kon behandel nie….AND I’M THE SUGARPLUM FAIRY, GREW WINGS AND IS FLYING…
.

Di ·

Hy gaan nie gou terug kom nie, die skelm is glad nie siek nie. Hy wag dat die stof eers gaan le voordat hy weer huiswaarts keer. Glo hy gaan ook nie terug wees om die 15de in die hof te verskyn nie.

Pietertjie ·

Soos my oupa altyd gesê het: wanneer die koeie huistoe kom. Of die perde horings kry. Die moderne weergawe is: wanneer Ramaphosa skuld erken.

SjN ·

Appelhof het dan bevel volstrek, hul maak dus n bespotting van die regstelsel, tree drasties op soos vervat in wetgewing teen die onaantasbare burger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.