‘Want die Wes-Kaap werk!’ – DA

Alan Winde (Janice du Plessis/Maroela Media)

“Want die Wes-Kaap werk!”

Dít was die Demokratiese Alliansie (DA) se hooftema Saterdag by die Hillsong-kerk by Century City in Kaapstad tydens die party se vyfde verkiesingskongres vanjaar.

Die DA se leier, John Steenhuisen sowel as die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, was by die geleentheid teenwoordig en het die meer as 1 000 skreeuende raadslede geesdriftig en optimisties aangespreek.

Winde het talle voorbeelde gelys oor hoe die ANC “waarlik een en elkeen van ons as landsburgers in die steek gelaat het”.

“Die ANC het ons almal vir die wolwe gegooi, hulle het ons kinders, en universiteite gefaal – ons almal verdien ʼn beter toekoms.

(Janice du Plessis/Maroela Media)

“Ons sal die 2024-verkiesing aanpak soos wat die Springbokke die Wêreldbeker vanjaar aangepak het. Hulle het ʼn plan gehad; hulle het leierskap gehad en hulle het waardes gehad.

“Die Bokke het vir ons gewys dat dit moontlik is om te wen, selfs al is dit met net een punt.”

Hy sê die afgelope jaar was nie ʼn pretrit nie. “Ons is die afgelope jaar deur baie ernstige uitdagings in die gesig gestaar, pandemies, vloede…

“Maar ons staan op en ons kry dinge gedoen, want die Wes-Kaap werk!”

Alan Winde (Janice du Plessis/Maroela Media)

Winde sê die Wes-Kaapse regering is die enigste regering in die wêreld wat maandeliks met inwoners vergader om probleme op te los en met nuwe idees vorendag te kom.

“Ons doen dit omdat ons kiesers se stemme gehoor moet word! Dit is hoekom ons hier is. Ons is nie soos ander partye wat jy net in die aanloop na die vierjaarlikse verkiesings sien nie, ons vergader maandeliks met ons inwoners. Ons is hier om ʼn diens te lewer en die beste moontlike toekoms vir ons kiesers te verseker.

“Ná byna 15 jaar van ʼn ononderbroke DA-regering, is daar geen twyfel dat die Wes-Kaap die bes bestuurde provinsie in hierdie land is nie.”

Maroela Media het vroeër berig John Steenhuisen, leier van die DA, het Saterdag tydens die party se provinsiale kongres gesê vir die eerste keer sal ʼn stem vir die DA in die Wes-Kaap volgende jaar ook ʼn stem vir ʼn nuwe nasionale regering wees.

“Dit sal volgende jaar vir die eerste keer sedert 1994 moontlik wees om die ANC landswyd te oorwin.

(Janice du Plessis/Maroela Media)

“In samewerking met ons vennote in die veelparty-handves, is die DA in die perfekte posisie om ʼn groot, sterk anker te word vir ʼn nuwe nasionale koalisieregering,” het Steenhuisen gesê.

Steenhuisen meen terwyl die ander agt provinsies agteruitgegaan en onder die gewig van ANC-wanbestuur ineengestort het, het Alan Winde, DA-premier, en sy span die Wes-Kaap tot nuwe hoogtes verhef.

“Dit sal geen oordrywing wees om te sê dat die Wes-Kaap, danksy die DA, nou die bes bestuurde streeksregering op die hele Afrika-kontinent is nie – en dit wys!” sê hy.

“In hierdie provinsie het ons beter paaie, beter sanitasie, beter openbare gesondheidsorg en beter openbare onderwys as enige ander plek in Suid-Afrika.

“Terwyl die ANC belastinggeld in ander provinsies vermors, het 100% van die Wes-Kaapse regering se departemente verlede jaar ongekwalifiseerde oudits ontvang.”

Steenhuisen het bygevoeg dat ʼn stem vir die DA in die Wes-Kaap ook ʼn stem vir die party op nasionale vlak is, en gesê as dit die ANC onder 50% in drie provinsies sleep, sal dit gelyk wees aan ‘n nuwe nasionale regering.

“Dit is eenvoudig: Die Wes-Kaap + KwaZulu-Natal + Gauteng = ʼn nuwe nasionale regering. Dit beteken dat ons vir die eerste keer sedert 1994 die ANC op nasionale vlak kan verslaan.”

“Suid-Afrika kan nie floreer onder die huidige nasionale regering wat verbind is tot voortgesette staatskaping, ingewortelde korrupsie, gebroke beloftes en swak leierskap nie. Slegs ʼn sterk DA kan ʼn  beter toekoms in Suid-Afrika bou.”

Die provinsiale leiers is ook tydens die geleentheid aangewys. Tertuis Simmers is as die provinsiale leier aangewys en Geordin Hill-Lewis as provinsiale adjunkleier. Jaco Londt is die provinsiale voorsitter.

Tertuis Simmers (Janice du Plessis/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

annie ·

Mmmm! Solank die witbase in Ingels flikvlooi? Die DA wil slinks Afrikaners beheer en uitsuig maar g’n een mag ‘n woord spreek. Kom Kaap toe kom, maar hou den bek en sit op jou plek. Net Brittanje weet hoe. John vee die vloer met sy naaste soos De Klerk en wil dan groot speel? Die Kaap gaan in 2024 sy naam gestand doen… storms….

Samuel ·

Ons kla soms met die witbrood onder die arm, maar die Wes-Kaap werk beslis.

Jaco ·

Seker in die DA se opinie, sekere dinge werk soos wets toepassing ens, ander is ‘n klaaglike mislukking soos plaaslike onderwys onder die DA, groot tekort aan skole en DA onderwys minister skitter in sy stilte.

Ook DA maak altyd seker almal weet Kaspstad is ‘n vlak minder as die aankondiging, wat hulle gerieflik vergeet om te noem dit is slegs vir die mense wat by Kaapstad direk krag kry, maar tog betaal almal vir die infra struktuur.

DA dalk ‘n klein bietjie beter as ANC maar alles werk nie by verre nie

Jaco ·

Seker in die DA se opinie, sekere dinge werk soos wets toepassing ens, ander is ‘n klaaglike mislukking soos plaaslike onderwys onder die DA, groot tekort aan skole en DA onderwys minister skitter in sy stilte.

Ook DA maak altyd seker almal weet Kaapstad is ‘n vlak minder as die “Loadshedding” aankondiging, wat hulle gerieflik vergeet om te noem dit is slegs vir die mense wat by Kaapstad direk krag kry, maar tog betaal almal vir die infra struktuur.

DA dalk ‘n klein bietjie beter as ANC maar alles werk nie by verre nie

Hussin ·

Ek sou graag weer die jaar vir die DA wou stem, maar, hulle trek hulle skouers op as dit by my probleem kom, en dit betrek mense handel. Dus, nee dankie.

Delia ·

Die DA werk verseker in sekere gebiede waar die inwoners geld het.
Hou op om gratis alles aan die plakkerskampe te verskaf en jy sal moeilikheid sien soos nooit tevore.
Wat is die oplossing vir bende voorvalle op die Kaapse vlakte en Phillippi. Die moordsyfer is hoog daar.
Die Kaap is nie net die see, Kampsbaai, Clifton, die Waterfront ens nie.

Hussin ·

Waar, my area was goed. Mens sou dink dat dit onderhou sal word en ander areas bietjie bietjie reg getrek word. Maar nee, my area is nou ook besig om verwoes te word. Ek het niks meer om te verloor nie. Was die DA houding nie so swak nie sou ek dalk anders daarna gekyk het. maar nee. Ons is arrogant.

Richard ·

Ai, al die kommentaar oor die DA. Julle weet dat om vir julle klein, onbenullige partye wat NOOIT in SA tot bewind sal kom nie, vergerger ons probleme?

Hussin ·

Wel, as dit is wat die DA wil hê, dan is dit wat hulle gaan kry. Ek het niks meer om te verloor nie. Dankie DA.

Delia ·

Richard. Verseker is jy reg. En dis hoekom ek steeds DA stem, maar dit sê nie mens kan nie kritiseer met feite nie.

Twallie ·

100%. Daai verkwiste stemme kom help om die ANC te sink, maar mense stem met hul harte en nie hul verstand nie.

Hussin ·

Ek stem met my beursie wat verwoes is deur die DA. Ek het 100% niks meer om te verloor nie. Wag maar, jou beurt sal kom…

Willem ·

Richard ; Liewer vir ‘n onbenullig party stem – ek slaap rustig slaap – GEEN politieke party kan my beskerm – net God alleen – solank ek binne Sy wil leef

MC ·

‘n Politieke vergadering in ‘n kerk en dan wonder mense nog hoekom alles in so ‘n toestand is. Goeie goeie genade is daar geen ander plek waar dit gehou kon word nie?

Bolandse Nooi ·

Ja, Mnr. Winde, die Wes-Kaap werk, ons weet dit, maar as julle nie gou plan maak nie, gaan die Wes-Kaap uit sy nate bars met al die inkomelinge uit Gauteng, Noord-Wes, Mpumalanga, Kwa-Zulu Natal en Oranje Vrystaat. Jan Alleman ervaar dit elke dag op voetsoolvlak: huise/werk/kos wat reg voor ons neuse en uit ons monde weggeraap word deur diegene wat vlug uit hul bankrot, verrotte, uitmekaar-val provinsies onder ANC-regering.

Twallie ·

Sien baie negatiewe kommentaar en ek is seker van dit is verdiend, maar ek bly in die Kaap en teenoor Gauteng is die Kaap ‘n juweel. Dienste word gelewer, ek sien waar my belasting geld heen gaan en ek bly nie waar die geld is nie. Water pyp bars, en word reggemaak binne ure, waar ek hoor in Gauteng word dit sommer geignoreer. Ons paaie is begaanbaar, in Gauteng het die snelwee dire verskillende oppervlaktes.
Julle kan maar kla, maar ek sal DA stem, want hulle is die lesser of the evils, en ek sien resultate. Stem vir die klein partye as jul wil, maar dit help die land niks want hulle kom nerens en dan wil mense kla oor die ANC aan bewind bly.

Willem ·

Twallie – ek stem liewer vir die klein party – en behou my beginsels , en slaap rustig – DA se vir alles ja.

annie ·

In die volgende verkiesing gaan godsdiens bygesleep word en die bloed gaan vloei. Die Engelse DA se vyandigheid jeens Rusland en gekruip by Biden en sy pro-aborsie en pienk-onderbroek-uitgehaaktes was die laaste strooi. Die ander Kaapse ‘huwelike’ is netso big show. En die lelike ou VF Plus-ooms speel net op Afrikaners se lojaliteit-snaar.

Boon ·

Ek is verstom oor die afbrekende aard van die kommentaar. Wat egter waaar is, is dat die munisiaple raadslede baie laks is en selde of nooit met kiesers vergader nie. Hulle is eenvoudig nie in staat oom ‘n openbare vergadering in hulle wyke te hou nie. Net die grootbase mag skynbaar praat. Hulle is skynbaar bang omdat hulle die bruinmense so skandelik afskeep , bv met nehuising, en werksgeleenthede.

Manie ·

Vir ‘n geruime tyd al word die getroue betalers van dienste erg afgeskeep.

gatgogga ·

“…..omdat ons kiesers se stemme gehoor moet word……”. Aldus Winde.
Hoekom wil hy dan nie via ‘n referendum uitvind hoe ons voel omtrent afstigting nie?

Samuel ·

Baie goeie vraag. Indien Wes-Kaap afstig sal Winde en kie nooit die geleendheid kry om dalk President van SA te word nie.

Willem ·

Kan DA glad nie ondersteun nie. Geen Bybelse waardes . Ek hou by VF Plus – my mense !

JohanR ·

En in die Wes-Kaap wie gaan al julle nee-seers voor stem in 2024? Vir die ANC, vir die EFF. Selfs het die DA ook sy probleem leef julle te lekker onder ‘n redelike skoon beleid. Het al ‘n ANC regeering in die Wes-Kaap gehad en hulle was ‘n volslae mislukking!

Petro ·

Julle kla met ‘n witbrood onder die arem. Ons hier in Noord Wes weet van sukkel. Sukkel met water, krag. Daar is nie ‘n Dep. wat werk nie. staan in lang ry om voertuiglisensies uit te neem en as dit “lunch” is word die venster in jou gesig toegemaak. Nie ‘n saak hoe lank jy in ‘n ry staan nie. Regtig mens,kom kuier net vir ‘n paar weke hier en julle sing ‘n ander deuntjie.

Seef ·

Ek lees so al die kommentare en besef dat hierdie land NOOIT sal regkom nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.