‘Wat steek Eskom weg?’ vra DA oor kontrakte

(Argieffoto: Rodger Bosch/AFP)

Wat steek Eskom weg?

Dít is die vraag op politieke partye se lippe nadat Eskom aangedui het dat hy gaan appelleer teen verlede week se hofuitspraak van die Gautengse hooggeregshof waarin daar gelas is dat die kragvoorsiener inligting oor sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte aan AfriForum moet openbaar.

Die DA sê nou Eskom se “voorliefde vir geheimhouding” nadat hy ’n reddingsboei van meer as R180 miljard ontvang het en R254 miljard van sy skuld op belastingbetalers gepak het, is verstommend.

“In eenvoudige terme, Eskom spandeer graag miljarde rande van belastingbetalersgeld, maar wil nie hê dieselfde belastingbetalers moet weet hoe of aan wie hy daardie geld bestee nie,” sê Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie.

Mileham sê Suid-Afrikaners verdien om te weet met wie Eskom kontrakte aangegaan het, of enige van dié mense politieke band het en onder onder watter omstandighede sy kontrakte aangebied is.

Die opposisieparty sê landsburgers verdien ook om te weet of die kontrakte wettig is met betrekking tot hoe dit toegeken is, of hoe dit hernu word.

Die DA wil ook weet of Eskom waarde vir geld ontvang vir die dienste wat deur gekontrakteerde maatskappye of individue gelewer word.

“Die feit dat belastingbetalers geen toegang het tot inligting oor hoe Eskom sy R140 miljard jaarlikse begroting bestee nie, is ’n nasionale fout wat reggestel moet word. Dit was hierdie geheimhouding wat die argitekte van staatskaping gelok het om verkrygingsbesluite ten gunste van hul frontmaatskappye te beïnvloed, wat gelei het tot die vinnige ineenstorting van Eskom.”

Mileham sê ook dat die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, nie te lank gelede nie beweer het dat private individue en maatskappye ʼn wurggreep op steenkool, konstruksie en instandhouding gehad het.

De Ruyter het voor sy bedanking die vinger gewys na hooggeplaaste politici en georganiseerde misdaadsindikate wat in wese kragstasies se vloei van geld oorgeneem het deur verkrygingsprosesse in hul guns te manipuleer.

Mileham sê Eskom se weiering om die besonderhede van sy kontrakte bekend te maak, laat ernstige vrae ontstaan ​​of Eskom sommige individue en maatskappye probeer beskerm.

“Eskom se besluit om te appelleer, is ligsinnige litigasie en ’n vermorsing van geld wat hy nie het nie,” meen Mileham.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Papsak ·

Dankie DA ek stem Eskom steek baie goed weg gee hulle gas dankie

Jacobus ·

Dit is presies hoekom Eskom Andre de Ruyter gefire her. Hy het te naa aan die been gekom. Daar is mos nog n paar kaders wat moet eet.

Manie ·

As julle nou nog nie weet wat hulle wegsteek nie, hoort julle nie in die politiek nie.

Johann ·

Hulle steek krag weg…by die kaders en kamerade se huise en paleise.

DJ ·

Ons moet dankbaar wees vir ‘n party soos die DA wat hierdie skelmstukke ontbloot

Henry ·

eskom moet hulle uitgawes sny nie net elke keer pryse verhoog nie hoe dink hulle met die groot buitengewone inkomste moet ons as pensionarisse kop bo water hou

Sobymykoolkop ·

DJ lees WEER. Dis nie die DA nie maar wel AFRIFORUM wat dit ontbloot wil hê.

Casper ·

Die buitengewone pryse a g v NERSA wat elke keer prys verhogings goedkeur laat my wonder.Munisipaliteite skuld eskom miljarde rand en wend geen poging aan om skuld van verbruikers te verhaal nie.Hoe hoër die krag hoe minder mense kan dit betaal.Is die trog darem nog vol.

kaplyn ·

Dit is AfriForum en nie die DA wat die inligting aangevra het. Lees weer die berig. Die DA het agterna op die wa geklim.

skurweberg ·

Is dit moontlik vir enige politieke party om mense wat nie dieselfde morele en etiese waardes besit as wat jy het te rehabiliteer. Tyd vir sendingwerk is verby. Die harde werklikheid skop ‘n bietjie laat in vir alle partye wat by die politieke betrokke is. Geen mens kan sy kliente bekeer nie. Dit werk nie so nie.

skurweberg ·

Is dit moontlik vir enige politieke party om mense wat nie dieselfde morele en etiese waardes besit as wat jy het te rehabiliteer. Tyd vir sendingwerk is verby. Die harde werklikheid skop ‘n bietjie laat in vir alle partye wat by die politiek betrokke is. Geen mens kan sy kliente bekeer nie. Dit werk nie so nie.

Cassie Carstens ·

Hulle het geen rede om te appelleer nie. Hulle werk met belastingbetalers se geld en ons is geregtig om dit te weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.