Watertoevoer na Gautengse hospitale herstel

Die Rahima Moosa-moeder-en-kind-hospitaal. (Foto: Facebook)

Watertoevoer is Vrydagoggend na verskeie Gautengse hospitale herstel.

Verskeie hospitale in Gauteng, onder meer die Helen Joseph-hospitaal, Rahima Moosa Moeder-en-Kind-hospitaal, die Zola-gemeenskapsgesondheidsentrum en die Dr. Yusuf Dadoo-hospitaal, was sedert Maandag sonder water, grotendeels weens ʼn tekort aan krag om water na die onderskeie reservoirs te pomp.

Die Gautengse departement van gesondheid het bevestig die probleem is nou opgelos en watertoevoer gestabiliseer na die meeste instellings, behalwe die Dr. Yusuf Dadoo-hospitaal in die Wes-Rand. Watertenkwaens sal steeds daar gebruik word. Hoewel die krag herstel is, sal dit dae neem vir reservoirs om te hervul en te stabiliseer.

“Die departement van gesondheid gaan voort om saam met die betrokke owerhede te werk om betroubare en volhoubare watervoorsiening vir die gesondheidsfasiliteite te verseker. Dit sal ons in staat stel om ononderbroke gesondheidsorgdienste aan die gemeenskap te verskaf,” lui die verklaring.

Maroela Media het vroeër berig die probleem is glo te wyte aan skade wat aan City Power se kragstelsels aangerig is. Dit het veroorsaak dat Rand Water se Eikenhof-pompstasie nie werk nie en het weer beteken dat water nie na reservoirs in Soweto en Johannesburg gepomp kon word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.