GP-hospitale weer sonder water

Die Rahima Moosa-moeder-en-kind-hospitaal. (Foto: Facebook)

Verskeie hospitale in Gauteng is weer vir dae lank sonder water, grotendeels weens ʼn tekort aan krag om water na die onderskeie reservoirs te pomp.

Die Helen Joseph-hospitaal en Rahima Moosa Mother and Child-hospitaal (RMMCH) in Johannesburg ervaar albei sedert Maandag al ʼn tekort aan water. Dit raak die nooddiens, intensiewesorgeenheid en verskeie sale in die hospitale. Volgens die Gautengse departement van gesondheid het die Helen Joseph-hospitaal dit wel reggekry om pasiënte wat dringend mediese aandag nodig het, na ander hospitale te verwys.

Watertekorte by RMMCH word veroorsaak deur water wat nie na die Hursthill 1-reservior gepomp kan word nie.

Die Zola-gemeenskapsgesondheidsentrum in Soweto is al die afgelope twee weke afhanklik van watertenkwaens vir water en die Dr. Yusuf Dadoo-hospitaal aan die Wes-Rand sal ook binnekort van watertenkwaens voorsien word om waterskaarstes hier te verlig.

“Johannesburg Water het ook watertenks aan hospitale beskikbaar gestel, maar dit is nie genoeg om aan die onderskeie hospitale se behoeftes te voorsien nie,” het die departement van gesondheid Donderdagmiddag gesê.

Die probleem is glo te wyte aan skade wat aan City Power se kragstelsels aangerig is, wat veroorsaak het dat Rand Water se Eikenhof-pompstasie nie kon werk nie. Dit het tot gevolg gehad dat water nie na reservoirs in Soweto en Johannesburg gepomp kon word nie. Volgens Johannesburg Water was City Power teen Donderdagmiddag besig om herstelwerk aan die kragstelsel te doen.

“Die departement vra verskoning aan pasiënte en lede van die publiek vir die ongerief wat weens die tekort aan water veroorsaak word. Hospitale is afhanklik van die deurlopende voorsiening van water van die betrokke owerhede om gesondheidsdienste te kan voorsien.”

Verlede jaar moes byna 400 operasies by 16 hospitale in Gauteng gekanselleer word weens ʼn tekort aan water.  Die Helen Joseph-hospitaal alleen het van Maart tot September sewe wateronderbrekings ervaar, wat veroorsaak het dat 36 operasies noodgedwonge gekanselleer moes word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kurt ·

En dan wil hulle die gesondheidssorg oorneem. Sprinkaan gaan maar net weer mier se gesondheids fasiliteite verbruik tot daar ook niks van oor is nie.

Marous ·

Julle is te sleg om asem te haal ! Mense sterf as gevolg van julle patetiese verskoning van ‘n regering en julle doen niks ! Julle is een groot vrot mislukking !

Delia ·

Hou op “apologizeeee”. Kry kundige mense om die gemors uit te sorteer.

Kokerboom ·

En CR bemoei hom met Israel! Israel hanteer hom in elk geval met minagting. Glashuise!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.