Wekroep en medelye ná leeu man doodbyt

Leon van Biljon (Foto: Facebook/Mahala View Lion Game Lodge)

Die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) het gesê die voorval waartydens ʼn man vandeesweek deur ʼn leeu by ʼn leeukamp in die omgewing van Cullinan in Gauteng doodgebyt is, beklemtoon net weereens die veiligheidsrisiko’s wat wilde diere in aanhouding inhou.

Leon van Biljon (70) is Dinsdag in ʼn wildkamp by die Mahala View Lion Game Lodge deur een van sy leeus doodgebyt toe hy aan die heining van die wildkamp gewerk het.

Konst. Connie Moganedi, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die polisie ondersoek ʼn saak van onnatuurlike dood nadat Van Biljon die betrokke dag omstreeks 12:00 deur een van die leeus doodgebyt is. Hy het na bewering met sy rug na die leeus gesit en ʼn stukkende heining reggemaak toe een van die leeus hom van agter aan die nek gegryp het.

Volgens Moganedi het die ander twee leeus reageer en ʼn opsigter het later Van Biljon in die kamp opgemerk waarna hy om hulp geskree het. Van Biljon was reeds dood toe paramedici omstreeks 12:30 na die toneel ontbied is. Drie leeus was ook reeds van kant gemaak.

Die leeus word op die reservaat se webblad as Rambo, Nakita en Katryn geïdentifiseer. Van Biljon het opvoedkundige praatjies oor leeus en wildbesigtigingsritte by die reservaat aangebied.

Leon van Biljon tydens ‘n opvoedkundige praatjie oor leeus. (Foto: Facebook/Mahala View Lion Game Lodge)

Die EWT het in ʼn verklaring sy medelye met Van Biljon se familie en vriende betoon. “Die EWT is hartseer oor die nuus van nóg ʼn sterfte aan die hand van leeus in aanhouding.”

Luidens die verklaring is daar sedert 1996 al meer as 40 voorvalle van dié aard aangeteken waarvan 13 noodlottig was.

Een van die ernstiger voorvalle voor vandeesweek se voorval het in Mei vanjaar plaasgevind. ʼn Vierjarige kleuter het in dié voorval ernstig seergekry toe ʼn leeu by die Weltevrede-leeuplaas tussen Sasolburg en Heilbron haar deur ʼn draad beetgekry het.

Die EWT beklemtoon dat leeus in aanhouding geen rol in die rehabilitasie en herstel van die leeubevolking speel nie. Hy is van mening dat wilde diere in aanhouding slegs vir kommersiële gewin gebruik word ten koste van die veiligheid van die mens en die welstand van die diere.

“Daar is geen regverdiging vir die publiek om met karnivore in aanhouding te verkeer en mense se lewens te waag nie,” lui die verklaring.

“Die EWT doen weereens ʼn ernstige beroep op die regering om regulasies in te stel wat – ten minste – direkte kontak tussen mense en karnivore in aanhouding kan voorkom en om alle gevorderde karnivoorfasiliteite te sluit wat mense en karnivore in aanhouding laat verkeer vir kommersiële gewin.”

Dr. Kgosientso Ramokgopa, LUR vir ekonomiese, landbou- en landelike ontwikkeling in die provinsie, het intussen ook die voorval betreur.

Ramokgopa het op sy beurt ʼn beroep gedoen op private wildplaaseienaars en -werkers om waaksaam te wees wanneer hulle daagliks met wilde diere omgaan.

“Die nakoming van veiligheidstandaarde en protokolle deur almal betrokke is nie onderhandelbaar nie, want ons streef daarna om ʼn veilige en groeiende besoekersekonomie in die provinsie op te bou wat werk en ʼn onvergeetlike besoekerservaring skep,” het die LUR gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

broos ·

hoekom altyd die diere van kant maak? dis hulle natuur! dis ons wat hulle territory indring…. ek dink dis die laaste ding wat hy sou wou gehad het, dis duidelik dat hy baie vir die leeus omgegee het :(

Ora ·

Nou moet die leeus boet met hul lewens omdat hul waarskynlik net hul natuurlike instink gevolg het. Hoe jammer ek ook mag voel vir die familie van die oorledene, ‘n wilde dier is en bly’ n wilde dier.

Arno Scheepers ·

Leeus kry die doodstraf en dadelik….maar as n mens ander mense vermoor met voorbedagde rade mag daar nie doodstraf wees nie. Hoe baie het jy van leeus af geweet as jy hulle hokke betree, veral waar daar meer as een leeu in is.
Wanneer word mense as “kenners “ beskou en hoekom word so gereeld van hulle aangeval.
Respekteer wilde diere vir wat hulle is.
Tragies dat die pragtige diere nou vermoor is.

Leeus ·

Die arme diere het ook geen kans in hierdie wrede wereld. En eintlik enige diere om die waarheid te se.

Jozi ·

Ek kan nie verstaan waarom moes die leeus van kant gemaak word nie.
Die man moes van beter geweet het as om met sy rug na die leeus te sit.

Ekke ·

Mense wat met die wilde diere werk, word “mak” en dink dis troeteldiere omdat hulle elke dag saam beweeg. ‘n Wilde dier bly egter ‘n wilde dier, so ek stem saam. Dit maak geen sin dat die diere van kant gemaak moes word nie.

Mossie ·

Dis baie hartseer om te hoor van die man se dood en alle sterkte vir sy familie.
Tog was hy n kenner van leeus en het hy geweet hoe onvoorspelbaar wilde diere is. Hy het verkeerd opgetree en met sy lewe geboet. Die leeus het egter in hul natuur opgetree en nou moes hul ook boet met hul lewens vir n menslike fout. Dis bitter onregverdig!

Faidan ·

Ek voel as diere so vinnig van kant gemaak kan word as hulle ‘n mens se dood veroorsaak, moet mense wat moorde pleeg ook vinnig van kant gemaak word.

Michelle ·

Jy het die woorde uit my mond gevat Faidan
Ek stem 100% saam

JohanL ·

Jozi – vra ek ook. Ek moet egter ook se dat ons oor te min info beskik. Ons kan net bespiegel wat PRESIES gebeur het – veral itv die presiese tydslyn.

Die mense wat die eerste leeu doodgeskiet het, het dalk gedink die eienaar leef nog en hom so probeer red. Dan kan mens hulle seker nie kwalik neem vir hul optrede nie.

Maar die hele ding het begin met (ekskuus) agterlosigheid. Met wilde diere maak mens 200% seker alles is reg en veilig alvorens mens iets doen.

Die uiteinde in die geval is dat ‘n persoon en 3 leeus onnodig dood is.

ANDRE ·

Reel nr 1…jy draai NOOIT jou rug op enige dier nie , dan word jy prooi.Hy het dan die diere geken en dit geweet , was maar seker onoplettend…

El ·

Ek is bitter jammer vir die man se gesin en naasbestaandes. Maar ek stem, as hy ‘n kenner van leeus was moes hy geweet het, jy draai nooit jou rug nie en jy daal ook nie laer as die dier nie. Dis vreeslik dat die diere eenvoudig net uitgeroei word. Ek self was as ‘n jonger persoon mal daaroor om diere van nader te beskou, tot ek tot die besef gekom het watse skade die diere ly. Ek stem saam die berig, sulke plekke moet behoorlik bestuur word en geeneen moet eers die kans kry om aan so dier te vat of ‘n ou foto’tjie saam die dier te neem nie!!

LK ·

Ek stem saam die diere is geskape as wildediere. Ek sien nou die dag in Vereeniging in Askew straat Boltonwold is daar nou ook wilde diere in hokke in aanhouding, ek praat onder korreksie om ‘n sirkus daar te begin. Ek is nie doodseker oor die sirkus nie – maar daar is wildediere in aanhouding dit het ek self gesien.

Swanna ·

Ben ek stem saam met Jozi. Gee daardie die r’n tweede kans. As dit weer binne ‘n sekere tydperk weer gebeur dan maak jy hom van kant. Dit is nie sy skuld nie maar die mens faktor want hy is net ‘n dier en ook wild. Dit is ons wat maak word en agterloosig. Jammer om van die man te hoor maar onnodig om die dier die skuld te gee. God het ons in beheer van Sy skepping geplaas om na dit om te sien maar ek dink partykeer wil onself god speel.

Leeus ·

Ja, diere het geen kans in hier die wereld nie. Miskien is hulle nou beter af as om in aanhouding te wees.

Skoolgeld ·

Die “Leeu man” soos hy bekend gestaan het, het ongelukkig nie sy eie raad gevolg nie. As jy op jou hurke met jou rug na ñ leeu toe sit en draad regmaak in sy hok is dit die gevolge wat jy sal moet dra! Wat die drie dooie leeus aan betref, kan ek nie glo hoe mense ñ dier se lewe wat (10 jr) is bo ñ mense lewe stel nie. As iemwnd die man te hulp gesnel het, sou hulle lewe ook in gevaar gewees het!

Arie ·

Ek stem!! Hoekom die leeus doodmaak??? Dit bly wilde diere en die mense behoort dit te weet

Arial ·

Ek is nie ‘n leeu kenner nie, maar so ver my kennis strek moet hulle die leeus doodmaak omdat hulle nou begin om mense te jag. Ek het jare terug die ware verhaal van the ghost and the darkness gekyk, waar die leeus mense begin jag het.
Maar ja. Ek verstaan nie hoekom hou mense die tipe diere aan nie. Dit bly gevaarlik en hartseer omdat 3 leeus en ‘n mens dood is.

PK ·

Is ek blind want ek lees nêrens dat die leeus van kant gemaak is nie.

Erasmus Nicolene ·

Paragraaf 4 wat begin met “volgens Moganedi”.

Gaitsigubib ·

Genesis 9 vers 5: ” as n dier n mens doodmaak dan sal Ek die dier doodmaak. Imand wat n ander mens doodmaak moet ook sterf.” Ek sou graag my siening in hierdie verband wou verduidelik maar mense weet mos nou van beter so gaan maar en gaan maak julle eie reels.

Gawie ·

Gaitsigubib, ek sien waar kom jy vandaan, en stem 100% saam met die beginsel. Ek dink egter (en hierdie is maar net my siening) dat hierdie leeus in ‘n onnatuurlike situasie aangehou is wat deur die mens sélf geskep is. Gen 1:26 stel dit wel duidelik dat die mens oor die diere aangestel is en oor hulle sal heers, maar vers 27 stel dit ook dat die mens in die beeld van God geskape is, wat vir my sê dat die mens met God se liefde oor die diere moet heers, wat beteken om vir hulle die bes moontlike omgewing te skep om in te lewe – iets wat in hierdie situasie glad nie gebeur het nie.

n feit ·

Soos ek verstaan was dit nie vir n salaris wat die man met leeus gewerk het nie. Dit was absoluut sy passie. So hy wou dit doen.
Net iets wat ek weet is, dat jy as mens moet nooit naby leeus laer as die leeus wees nie. Die man se leeus was mak vir hom en ek dink net hy het in sy arbeid dalk bietjie die natuur se reels vergeet. Hy kon net in n oomblik gebuk het. As jy op jou hurke sit dan bekruip n leeu jou, as jy regop staan, dan verloor hy dadelik sy belangstelling. En ja toe die eerste leeu hom vat, het die res begin.
So jammer dat n legende met baie kennis so moes sterf. Ek glo hy het vir baie mense meer geleer oor leeus. n Mens is net n mens, dalk het iets geval wat hy moes optel en sy rug was na die leeus, nie die leeu gesien regmaak vir aanval nie.

Kat ·

As hy werklik nie geld uit dit gemaak het nie ,Dan “salute” ek hom !!! Die man het deer sy liefde vir die leeus gesterf. En miskien sou hy dit so verkies het… Los die diere om vaders naam uit . Genade nou moet hulle sterf omdat mens hulle nie in vrede kan los NIE. Die man maak my eintlik kwaad en hy het mos gesoek vir dit..

jakes ·

Die slagoffer het mense ingelig oor leeus maar kon nie dink dat n leeu se natuurlike instink is om dod te byt nie.

LESSE VAN N OU MAN ·

My pa het altyd gese my kind n leeu word nooit mak nie, sodra hy agter kom sy krag is groter as joune word jy sy maaltyd. ek kry die naasbestaandes jammer. Los die wilde diere in die wild dis hoekom ek ook nie lief is vir n dieretuin nie.

Adel ·

Mense raak te gemaklik met wilde diere, of jy hom nou van baba af groot gemaak het of nie!!! Dit bly ñ wilde dier, dit is in sy natuur om te jag. Nou moet die leeus daarvoor boet, ja dit is bitter jammer oor die oom wat sy lewe verloor het. Sterkte aan sy geliefdes.

Laat al die diere wat so in hokke aangehou word vry en laat die natuur sy gang gaan! Dis inelkgeval flippen wreed om hulle so in te hok. Hulle is nie gemaak om mooi te lyk in hokke nie!!!

Lee ·

Leeus hoort eenvoudig nie in aanhouding nie. EWT se kommentaar in die berig staaf dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.