Werkloosheid: Een tree vorentoe, twee treë terug

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Suid-Afrika se werkloosheidskoers het weereens net-net die 33%-merk in die werkloosheidsyfer gemis ná ʼn effense verbetering in die eerste drie maande van 2023.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se syfers wat Dinsdag vrygestel is, sit 32,9% van Suid-Afrikaners sonder ʼn werk of ʼn behoorlike inkomste. Dit is ʼn styging van 0,2% in vergelyking met die tweede kwartaal van 2022, ondanks effe verhogings in indiensneming.

Alhoewel die “werklike” of uitgebreide werkloosheidsheidskoers (wat mense insluit wat nie meer werk soek nie) moontlik effens gedaal het, bly dit ook op ʼn ysingwekkende 42,4%.

“Die hardnekkige hoë syfer is ʼn herinnering dat miljoene Suid-Afrikaners nog vir ʼn paar jaar lank in armoede gaan bly, waarvan meeste hoegenaamd nie enige daaglikse inkomste gaan hê om te oorleef nie,” sê Brett Herron, sekretaris-generaal van Good.

“Ondanks optimisme oor nederige ekonomiese groei, laat die werkloosheidskoers ons met geen ander keuse nie as om die dringende behoefte te takel om te voldoen aan die basiese behoeftes van miljoene burgers wat sukkel. Suid-Afrika het ʼn ekonomie nodig wat werk kan skep. Intussen het ons ʼn algehele hersiening nodig van ons maatskaplikesekerheidstelsel – waar maatreëls soos die toelaag op basiese inkomste ingestel word.

Volgens Herron is dit een tree vorentoe, twee treë agtertoe nader aan ʼn ramp.

ActionSA glo ook daar is ʼn dringende behoefte vir die regering om sy benadering tot die ekonomie te verander en nuwe oplossings te vind om werk te skep en mense uit armoede te lig.

Herman Mashaba, president van ActionSA, sê ondanks herhaaldelike beloftes sedert 2018 het pres. Cyril Ramaphosa en sy ANC-regering versuim om werk te skep.

“Dit wil voorkom of president Ramaphosa se ekonomiese beleide die grootste verhoging van die werkloosheidskoers veroorsaak het met ʼn moontlike resessie om die draai weens die land se toenemende vlakke van beurtkrag en ʼn logistieke stelsel wat nie werk nie.”

Mashaba sê die verhoogde koers van jeugwerkloosheid is ʼn krisis met byna drie uit vier skoolverlaters (diegene jonger as 25) wat tans werkloos is. “Dit beteken dat daar ʼn hele generasie is wat deur staatstoelae van die staat afhanklik gaan wees in plaas daarvan dat hulle in staat sal wees om hulself te bemagtig.”

Volgens Mashaba is dit ʼn gekombineerde gevolg van die ekonomiese verlangsaming tydens die Covid-19-pandemie, endemiese fase 6-beurtkrag en ʼn onderwysstelsel waar agt uit elke 10 graad 4-leerders nie kan lees nie.

“Ons het nou, meer as ooit vantevore, ʼn oplossingsgebaseerde alternatief nodig tot die mislukte beleide van die ANC wat ons mense werkloos laat. ActionSA is daartoe verbind om dié alternatief te bied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan ·

Maar, is dit nie die plan nie…meerderheid stem cANCer-EFF, meerderheid moet dus afhanklik gehou word. Baie eenvoudig om dit te verstaan.

melaney ·

Werkloosheid syfers groei. So ook die geboortesyfer. Ons sal nie wen nie.

skurweberg ·

Ja jy reg en beide was skeppingsopdragte gewees. Ook dit word deur die mens uit verband geruk.

Schalk ·

Eenvoudig. Stop BEEE en Drakoniese kwotabeleid tesame met minimumlone.

efjy ·

Hoeveel buurlanders werk in RSA. Hulle beset Suid Afrikaners se poste. Ons kan nie afrika van werk voorsien nie.

Lillian ·

Probleem is net ons lot is te lui om te werk hulle verwag als moet in hul skoot val.

Andries ·

Werkloosheid: Een tree vorentoe, twee treë terug,dis die beleid van die kaders.

Lillian ·

Solank as wat die anc die land regeer sal werkloosheid ‘n probleem bly.

TruthDealer ·

Al het ons ook n ander regering gehad, Geen regering en geen getal privaatsektor besighede, sal genoeg werk kan skep met SA se bevolkingsaanwas nie. Dit is hierdie land se heel grootste probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.