Werkloosheidskoers net-net laer

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Suid-Afrika se amptelike werkloosheidskoers het in die derde kwartaal van 2023 tot 31,9% gedaal – effe laer as die werkloosheidskoers van 32,6% in die vorige kwartaal, het Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) Dinsdag bekendgemaak.

Risenga Maluleke, statistikus-generaal, sê die aantal werkende mense staan tans op 16,7 miljoen teenoor die 16,4 miljoen mense wat voor die Covid-19-pandemie gewerk het.

In die tweede kwartaal van 2023 het 16,3 miljoen mense werk gehad; 154 000 meer as in die eerste kwartaal.

Die “werklike” of uitgebreide werkloosheidskoers (wat mense insluit wat nie meer werk soek nie) het met 0,9 gedaal en in die derde kwartaal op 41,2% te staan gekom.

Luidens die verslag het die aantal werkloses in dieselfde kwartaal met 72 000 tot 7,8 miljoen mense afgeneem.

“Daarmee saam het die aantal mense wat weens ander redes as moedeloosheid ekonomies onaktief was, met 160 000 tot 13,1 miljoen mense afgeneem, terwyl ontmoedigde werksoekers in die derde kwartaal van 2023 met 26 000 teenoor die tweede kwartaal afgeneem het.

“Dit het gelei tot ʼn netto afname van 186 000 onder diegene wat ekonomies onaktief is.”

Die verslag dui voorts aan dat die algehele getal werkendes vergeleke met ʼn jaar gelede met 6,2% (979 000) toegeneem het. Die aantal werkloses het in dié tydperk met 1,6% (124 000) toegeneem, terwyl die aantal mense wat ekonomies onaktief was, met 3,2% (539 000) gedaal het.

Sektore wat in die derde kwartaal van 2023 die meeste groei ten opsigte van indiensneming getoon het, is die finansiële sektor (237 000 meer mense in diens), die maatskaplike sektor (119 000 meer werkendes), landbousektor (61 000 meer mense in diens) en die boubedryf (53 000 meer werkendes).

Volgens StatsSA was daar afnames in onder meer die vervaardigingsektor (50 000 minder werksgeleenthede), mynbousektor (35 000 minder werkers) en vervoersektor (20 000 minder werkers).

Die toename in die derde kwartaal van 2023 (vergeleke met dieselfde kwartaal in 2022) kan hoofsaaklik aan die toename in indiensneming in die finansiële en maatskaplike sektore, handelsektor en boubedryf toegeskryf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sean ·

Want die “werkers” staan of slaap of lê op hulle fone Soms 5 per besem

Johann ·

Daars nie ‘n manier wat ek ‘n woord of nommer glo wat uitgereik word nie. Hoekom sal die een instelling funksioneel wees?

Ronél ·

Duidelik is Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) nie bewus wat in die Mynsektor aan die gang is nie…………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.