Wes-Kaap versoek provinsiale ramptoestand vir landbou

Oorstromings in Citrusdal (Foto: Facebook/Stephen du Plessis Grondverskuiwing)

Die DA in die Wes-Kaap het ʼn versoek gerig dat ʼn provinsiale ramptoestand afgekondig moet word ná vloede in die provinsie in Junie vanjaar.

Ivan Meyer, provinsiale minister van landbou, het in ʼn parlementêre reaksie gesê sy departement werk hard daaraan om die omvang van die skade te bepaal wat deur die vloede en oorstromings veroorsaak is. ʼn Verslag sal vir die Wes-Kaapse regering saamgestel word om by die nasionale rampbestuursentrum in te dien.

“ʼn Provinsiale ramptoestand sal fondse van die nasionale regering aan die Wes-Kaapse regering moontlik maak om herstelpogings te ondersteun,” sê Andricus van der Westhuizen, die DA se provinsiale woordvoerder oor landbou, omgewingsake en ruimtelike beplanning. “Landbou speel ʼn sleutelrol in die Wes-Kaap se ekonomie. Dit is uiters belangrik dat dié proses so vinnig as moontlik afgehandel word.”

Skade aan landbou-infrastruktuur word beraam op meer as R1 miljard deur die departement van landbou. Die provinsiale regering sal voldoende finansiering benodig om noodsaaklike infrastruktuur te herbou, soos paaie en energie- en waterinfrastruktuur, sodat die boere hul produkte van die plaas tot by die mark te kry.

“Landbou skep baie werksgeleenthede in die provinsie. Die bedryf het ons ondersteuning nodig om seker te maak dat die boere hul produkte by die verbruiker kan kry. Die verklaring van ʼn provinsiale ramptoestand sal help om fondse van die nasionale regering te bekom wat uiteindelik hierdie werksgeleenthede kan beskerm.”

Die DA-geleide Wes-Kaapse regering werk ook hard daaraan om seker te maak dat die korrekte prosedure gevolg word om aansoek te doen vir rampfinansiering. “Die DA sal alles in sy vermoë doen om seker te maak ons boere en hul arbeiders word in die beste posisie geplaas om hul aktiwiteite te kan hervat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.