Wes-Kaapse premier, Intercape vergader

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, in ‘n Intercape-bus. (Foto: Verskaf)

Die bestuur van Intercape het Dinsdag aan Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, verduidelik hoe groepe afpersers langafstandbusse teiken – nie net in die Wes-Kaap nie, maar ook in die Oos-Kaap waar aanvalle al hoe wreedaardiger word.

Winde en Daylin Mitchell, Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit, het ook tydens die vergadering gehoor dat busbestuurders van Intercape dit nie op sommige Oos-Kaapse roetes kan waag nie, terwyl polisiebegeleiding in ander gebiede nodig is.

Hulle is ook meegedeel dat winkelsentrums dreigemente ontvang indien hulle langafstandbuskaartjies verkoop. Intussen word busmaatskappye gedwing om hul tariewe te verhoog om dit in ooreenstemming met taxi-tariewe te bring.

“Dit is onaanvaarbaar,” was premier Winde se reaksie hierop tydens die vergadering.

Alan Winde en Daylin Mitchell vergader met die bestuur van Intercape. (Foto: Verskaf)

Mitchell het op sy beurt gesê hoewel dit nie binne sy mandaat val om hierdie misdade te ondersoek nie, het sy departement ’n gekoördineerde benadering aangeneem om wetstoepassing te ondersteun sodat oortreders vervolg kan word.

Die Wes-Kaapse vervoerprioriteitskomitee het reeds verlede week met Intercape se prokureurs vergader om te beraadslaag hoe die aanvalle bekamp kan word.

“As die minister verantwoordelik vir die regulering van vervoer in die Wes-Kaap, sal ek nie toelaat dat ’n paar misdadigers die hele vervoerstelsel gyselaar hou nie. Wettige operateurs het die reg om langafstandreise te bedryf en om nie deur misdadigers geteister en geïntimideer te word nie.”

Winde is van mening dat wetstoepassingsowerhede intussen hul teenwoordigheid op paaie moet verskerp aangesien tienduisende mense oor die komende weke tussen die Wes-Kaap en die Oos-Kaap gaan reis.

“Mense verdien veilige, betroubare en waardige openbare vervoer, wat die nasionale regering nie kan voorsien nie.”

Die vergadering volg nadat nóg ’n Intercape-busbestuurder die naweek tydens die uitvoering van sy pligte geskiet is. Hy was Sondag na ʼn bushalte in die Kaapstadse middestad onderweg toe daar op hom geskiet is.

Winde en Mitchell het tydens die vergadering gesê die Wes-Kaapse regering werk reeds saam met onder meer die polisie aan planne om die probleem te takel. Die provinsiale verkeerspolisie en blitspatrollie sal intussen voortgaan om alle nasionale roetes te patrolleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Dup ·

Die taxi MAFIA duld geen opposisie nie.Hulle vermoor mekaar elke dag en teiken nou ook busdienste.

Marcello ·

Wow !!! Dit is nogal onrusbarend, want ek gaan self gebruik maak van Interkaap se vervoer gedurende die seisoen, van die Wes-Kaap na die Noord-Kaap.

Samuel ·

Die nasionale departement van vervoer en die agbare minister is in die taxibase en mafia se sakke. Die nasionale regering gee ook nie ‘n flenter om vir die passasiers van langafstandbusse nie.

Althes ·

Ek wonder of die publiek en die interkaap busdienste siviele eise teen die minister van vervoer kan insit? Die hof het tog ten gunste van Interkaap beslis

Lillian ·

So wat gaan die premier nou uitgerig kry? Niemand gee om nie, die taxi mafias regeer en die regering gee telke male in

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.