Winde pleit dat SA deel van Agoa bly

Premier Alan Winde het verlede week die VSA besoek. (Foto: Verskaf)

Wes-Kaapse premier Alan Winde het tydens sy onlangse besoek aan die VSA ʼn pleidooi aan die Amerikaanse owerhede gerig dat Suid-Afrika deel bly van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, beter bekend as die Agoa-ooreenkoms.

Senior Amerikaanse Demokratiese én Republikeinse wetgewers het onlangs in ʼn brief aan pres. Joe Biden gevra dat dit oorweeg moet word om die Agoa-beraad – wat later vanjaar in Suid-Afrika aangebied word – na ʼn ander Afrika-land te skuif en dat Suid-Afrika dalk in die toekoms uit die verdrag geskop word.

Dit volg ná die wetgewers hul kommer oor Suid-Afrika se verhouding met Rusland te kenne gegee het.

Winde het tydens sy onlangse besoek aan Washington gesê die Wes-Kaapse regering is “skerp gekant teen Rusland se wrede inval van Oekraïne”.

Winde en sy afvaardiging het verlede week met Amerikaanse amptenare van die komitee vir buitelandse sake vergader. Dié komitee is verantwoordelik vir onder meer toesig en wetgewing wat verband hou met buitelandse hulp, strategiese beplanning en ooreenkomste, internasionale reg en die toepassing daarvan.

Deelname aan Agoa kom met streng verantwoordelikhede wat begunstigde lande moet handhaaf.

Winde sê die Wes-Kaap het ʼn “diepgaande verbintenis tot die oppergesag van die reg” wat ʼn sleutelvereiste is om deel van Agoa te bly.

“Ons is bereid om saam met al ons Amerikaanse vennote te werk wat ons prioriteite van werkskepping en betekenisvolle ekonomiese transformasie deel. Die Amerikaanse regering moet in ag neem hoe Wes-Kaapse maatskappye, sakeondernemings en werkers by Agoa gebaat het.”

ʼn Lid van Delaware se senaat, Christopher Coons, het daarop gewys dat daar ʼn behoefte is om die Agoa-ooreenkoms in geheel opnuut te magtig, voor die hernuwingstydperk in 2025 inskop.

Coons het ʼn voorliefde vir Suid-Afrika, maar het onder meer sy teleurstelling te kenne gegee oor die Suid-Afrikaanse regering se onverbonde standpunt jeens die Rusland-Oekraïne-konflik.

Winde sê hierop dat die VSA ook moet ag slaan op Suid-Afrika en die VSA se dekade lange verhouding wat “vaste fondamente in die ideale van vryemarkbeleid” het.

“Baie werkers in albei lande het gebaat by handelsbetrekkinge met die VSA wat die naasgrootste uitvoermark vir Suid-Afrika is en in die geheel meer as R192 miljard in 2021 beloop.”

Nog handel in die Kaap

(Foto: Verskaf)

Winde en sy afvaardiging het ook samesprekings met die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) gehou om Suid-Afrika se verhouding met hierdie finansiële instellings te versterk. Daar is ook met private beleggers vergader wat hul sakebedrywighede in die Wes-Kaap wil uitbrei.

Die VSA-Afrika-sakesentrum het ʼn inligtingsessie tussen die afvaardiging en maatskappye gelei wat óf reeds sake in die Wes-Kaap doen óf dit oorweeg om handelsbande met die provinsie te vestig. Onder diegene wat die sessie bygewoon het, was verteenwoordigers van verskeie maatskappye, waaronder Pepsico, John Deere en AT&T.

Die sentrum het kommer geopper rakende die funksionaliteit van die provinsie en die land se hawens, kragverskaffing, misdaad en algemene rompslomp.

Winde het hulle egter gerusgestel dat die Wes-Kaapse regering hard werk “om goeie bestuur te bevorder om die grondslag vir ekonomiese groei te bou”.

“Soveel as wat plaaslike ondernemings die lewenskrag van ons ekonomie is, is die opening van ons ekonomiese deure vir internasionale maatskappye net so belangrik om werkskepping aan te wakker. Daarom is ons ʼn oplossingsgedrewe regering wat reeds daaraan werk om die Wes-Kaap veerkragtig en die maklikste plek in Afrika te maak om sake te doen.”

Verteenwoordigers van verskeie Amerikaanse staatsdepartemente het in ʼn afsonderlike vergadering onderneem om die Wes-Kaap by te staan in sy pogings om kragverskaffing te verbeter.

“As ons sterk bande met ons bondgenote in die VSA bou, sal ons in staat wees om die voortslepende kragonderbrekings in ons land te verminder en sodoende ons handelsbande verder verbeter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Jack ·

Dankie Mnr Winde.Jy moet nou die werk doen van die nuttelose regering wat nie verstaan wat Agoa vir die land beteken nie.As mense soos Winde nou self moet begin rondvlieg en probeer die land red van ondergang kan jy maar weet hoe sleg dit gaan.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wanneer Noordwes se premier die dag rondreis om die land te probeer red moet jy weet dit gaan wragtig sleg.

marius ·

Die spul wat op plaaslike bodem gil en skreeu oor sy teenwoordigheid daar voer niks in of uit nie. Staan net voor die trogte en lippe aflek. Dis die waarheid.

domheks ·

Iemand wat darem iets probeer doen vir die vervalle, vrot en riool besmette land. Dankie Mnr Winde en jou afvaardiging.

Harley Davidson ·

Stig die weskaap af van die res van Suid-Afrika en word ‘n onafhanklike land.

Blomkind ·

Jy bly seker in die Weskaap. Onthou daar is ander Suid Afrikaners ook in die Land…

Republikein in die Wes Kaap ·

Jammer, dis nou elkeen vir homself. “Ander” Suid Afrikaners moet maar doen wat goed is vir hulle.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jip, en realisties. Die reenboogland spat nou behoorlik uitmekaar. Transvalers kan ook kom kuier, mits julle ‘n paspoort en visum het.

KatjieDeKat ·

Fran en Marcello, dis nie net van oppak en trek nie. Wat vd mense wie se werk in ander provinsies is? Soms is mense vasgeketting aan die werk wat hul kos en n dak oor hul kop gee. En die Wes Kaap is n DUUR plek vir behuising, of jy nou koop of huur. As jy n werk daar kan vind wat genoeg betaal, sou ek sê, beslis oorweeg dit. Maar die Kaap het uiters “yuppified” geraak wat alle pryse opjaag. Dis nie meer die Kaap van my kinderjare nie, dis nou vir rykes.

JohanR ·

Sal verkies dat die ANC @Voertsak, en SA word weer ‘n heel land wat sy mense kan op trots wees, en nie net die Wes-Kaap!

Aai ·

Nou moet die ander partye wat ANC glad nie eers oor omgee die ANC se gemors uitsorteer.

Di ·

Iemand wat darem bietjie verstand het. ANC kaders het geen idee watse GROOT invloed dit op ons land se reeds swak ekonomie gaan he nie. Hulle bekommer hulle net oor waar hulle nog geld kan buit iewers

Gaitsigubib ·

….en die land was so mooi op dreef gewees, Diline. Die VSA het altyd gesorg dat die gled wat hulle maak uit ons minirale weer teruggeploeg word, die dat die paaie, hospitale, ens so goed onderhou word en nou gaan dit verander……

Jr ·

Laat dit net beklemtoon dat meeste mense is teen die oorlog wat hulle die anc meesters voer teen Okraïne. Hulle die cANCer praat nie vir ons nie.

Gaitsigubib ·

n Berig wat vandag op MM verskein het, beweer dat n meningspyling bewys het dat meeste mense in SA meen “Rusland is NIE die agressor nie”. Jy verskil van hulle, dis die dat jy gevra word vir jou bron, tog word mens afgemerk, maar nie geantwoord nie. Jy weet dat mens die afmerkie dalk kan beskou as gereedskap vir n persoon wat nie kan antwoord nie?

annie ·

Ongelukkig is ek teleurgesteld in Winde en hele DA-boksendaais met hul oorgretige kruipery by die VSA met sy goddlose beleid om verkeerd as human rights uit te maak. Hulle het ons met sanksies gedwing tot verandering en die ANC tot landsleier te maak. Nou moet Winde mos nie kla nie. Ons is nou soos Japan op ons knieë voor Biden…

piet ·

Ons het die VSA nodig of jy nou daarvan hou of nie, dis ons grootste hndelsvennoot.

Gaitsigubib ·

Jy stoomroller net voort met jou kommentaar, maar ek het jou laas al gese dat Sjina is ons grootste handelsvenoot – grootste op invoer en uitvoer.

piet ·

Wie’s Sjina, klink soos ‘n nies. Jyt’s reg dis China en dit raak groter. Maklik om gou te bevestig met google ne?

Gaitsigubib ·

Natuurlik bevestig ek dit, mens kan mos nie net sit en snert praat nie, en onthou asb, ek verskil van jou ek veg nie met jou nie……. maar ons het wel n paar groot verskille.

Geert ·

Dit sal goed wees as die Amerikaners net onthou hulle het destyds, en Biden was n voorbok om Suid Afrika te skop sodat n bedeling ingestel is wat onmoontlik nie kon werk nie. ń federasie of nog beter n konfederasie sou baie beter gewerk het. En natuurlik is dit meer uitvoerbaar as wat nou die met huidige bedeling die geval is.

piet ·

Die huidige bedeling kan werk as die mense reg stem. Die probleem is dat die mense nie reg kan stem nie weens hulle omstandighede. 50% van die bevolking leef onder die broodlyn en hierdie mense word aan die lewe gehou deur grants. Nou dink vir jouself, as dit al is wat jou aan die gang hou, hoekom sou jy vir iets anders stem wat dalk nie jou voortgesette grant gaan waarborg nie.

Geert ·

Die punt is dit het nie gewerk nie, inteendeel, dit is reuse mislukking.

LANA is ELANè ·

Julle gaan nie my kommentaar plaas nie, daarom rol ek maar net my oë.

Owlie ·

Na al die skade wat ons regering aan gerig het sal dit meer as net smeek onderhandel en wonderwerke wees om deel van Agoa

Marthinus W ·

“Die Agoa-wetgewing stel dit as ’n duidelike vereiste dat ’n begunstigde land nie betrokke mag raak by aktiwiteite wat Amerikaanse nasionale veiligheid of buitelandse belange ondermyn nie.” [vert VWB]
In eenvoudige Afrikaans: as ons Agoa onderteken, moet ons afstand doen van ons soewereiniteit; ons moet doen wat Amerika se ons moet doen. Maak dit ons n vry land? Of n vasalstaat van Amerika?

Terwyl Winde Amerika toe hardloop, wat maak Amerika se rykste burgers? Bezos, Elon Musk, Bill Gates was almal die afgelope ruk in China. Weet hulle iets wat nie aan Winde vertel word nie?

Kobus ·

So as ek jou eenvoudige Afrikaans verstaan, is daar volgens jou redenasie geen land wat meer soewerein is nie, want geen land kan bestaan sonder gunstige handelsbande gekoppel aan voorwaardes nie. Verder n land kan n ander se nasionale veiligheid of buitelandse belange ondermyn, en steeds verwag om biljoene dollar se hulp en ondersteuning te kry, met gunstige handelsbetrekkinge wat SA baie meer bevoordeel as by die VSA. Jou redenasie klink baie soos die ANC, een van entitlement.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.