Winter nog nie verby

‘n Kouefront word teen Donderdag verwag. (ArgieffFoto: Jorge Guillen/Unsplash)

Nes Suid-Afrikaners gedink het dis heerlike lente, kry die winter nog ʼn laaste stekie in.

Suid-Afrikaners kan hulself staal vir ʼn koue naweek met maksimum temperature wat met tussen 6 °C en 8 °C kan daal.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sal ʼn kouefront na verwagting teen Donderdagmiddag die Wes-Kaap tref en teen Vrydag in die Oos-Kaap se rigting beweeg.

Die Kaapprovinsies sal teen Vrydag kouer temperature beleef. Inwoners in die binneland en noordoostelike dele van die land sal na verwagting vanaf Saterdag die impak van die kouefront voel.

Inwoners in Gauteng, Noordwes en die Vrystaat sal volgens Kgoloselo Mahlangu, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, veral bibber.

Rugbyondersteuners wat Saterdag die wedstryd tussen die Bokke en All Blacks op Ellispark, Johannesburg, wil gaan kyk, moet seker maak hulle het ʼn baadjie of trui byderhand.

“Temperature in Gauteng kan teen Saterdagaand tot ‘n koue 8 °C daal,” sê Mahlangu.

Die koue sal teen Sondag ook na Mpumalanga en die suidwestelike dele van Limpopo versprei.

Volgens Mahlangu sal die kouer temperature tot Sondag voortduur. “Temperature sal teen Maandag weer stadigaan begin normaliseer.”

Sy waarsku dat dit waarskynlik ook nie die laaste kouefront sal wees voordat die lente aanbreek nie.

Supermaan

Saam met die kouefront kan inwoners in die Suidelike Halfrond Donderdag die laaste “supermaan” vir die jaar verwag.

AccuWeather berig hoewel die verskil klein is, is ’n supermaan deur die jaar effens groter en helderder as die gewone volmaan.

Ná Donderdag sal die volgende supermaan eers weer op 3 Julie 2023 opkom.

Die jaarlikse Perseid-meteorietreën sal boonop Donderdagaand sy hoogtepunt bereik.

Dié meteorietreën is een van die merkwaardigste van die jaar, met meer as 60 meteore wat na verwagting per uur in die ruimte sal val.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Samuel ·

Van die reën en koue wat vir die Wes-Kaap voorspel word kom dadels.

Rugbytoeskouers hoef nie oor truie en baadjies bekommerd te wees nie. Daar sal heel moontlik genoeg alkoholiese drank beskikbaar wees om hulle in te versuip.

Janine ·

Dis mos nou totaal onnodig om so kommentaar te los? Is jy droog, of maar net suur oor die algemeen?

Samuel ·

Nee, ek is nie suur nie. Geensins nie. Feit is, party ouens onthou nie die wedstryd nie , net die drank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.