‘Wonderman van Winterton’ praat oor wonderwerk dat hy leef

Jannes Olivier en sy dogter, Rolinda Fick (Foto: Verskaf)

“Die dokters noem hom ‘Iron Man’” skerts sy dogter.

Sy vrou het te vertelle dat sy veels te vroeg grys geraak het met dié man aan haar sy…

En hý, Jannes Olivier (64), die “wonderman van Winterton” in KwaZulu-Natal, sê hy kan nie wag om weer in die lug te wees nie.

Olivier het Saterdag sy rug in ʼn vliegongeluk gebreek, met sy dokters wat stomgeslaan is dat hy “wonderbaarlik en sonder ʼn mediese verduideliking steeds kan loop”.

Olivier en een van sy werkers, Christopher Hadebe, het Vrydag in die Mooirivier-omgewing naby Kamberg gewerk toe die ongeluk gebeur het. Olivier bedryf sy eie landbou-bespuitingsonderneming.

“Ek het gehoop om Vrydag klaar te maak, maar my tweede kliënt het my baie opgehou en ek sou die Saterdag moes terugkeer om die werk klaar te maak. Ek het egter nie klere gehad om die aand in ʼn gastehuis te oornag nie, waarna ek en Christopher besluit het om terug te gaan Winterton toe.”

Hulle het die volgende oggend vroeg met Olivier se vliegtuig, ʼn Savannah S, teruggekeer Mooirivier toe om die werk te gaan afhandel.

“Dit is omtrent ʼn vlug van 40 minute. Ek het op pad Kamberg se kant toe gesien dat daar paar wolke in die lug is, maar dit was niks ernstig nie. Toe ons later, omstreeks 09:00, terugkeer huis toe, was daar ʼn bank wolke voor my in die lug en aan die linkerkant van die wolke was daar ʼn groot berg.

“Ek het toe weg van die berg probeer swaai, maar ek was reeds in die wolke en in daardie stadium reeds heeltemal gedisoriënteerd,” sê hy.

“Ek het gedink ek draai die vliegtuig net ʼn bietjie weg, maar ek het hom 180 ° gedraai. Die mis was so dig, ek kon niks voor my sien nie. Ek het op die navigasiestelsel probeer bepaal waar ons is, maar ek wou nie fokus verloor nie.

“Ek het oomblikke later vir Christopher geskree dat ons naby iets is omdat ek klippe op die grond kon sien.

“Ek het die vliegtuig opgetrek en net toe ek dit doen, tref ons die berg.”

Olivier het Saterdag sy rug in ʼn vliegongeluk gebreek, met sy dokters wat stomgeslaan is dat hy “wonderbaarlik en sonder ʼn mediese verduideliking steeds kan loop”. (Foto: Verskaf)

Die vliegtuig se deur, waar Olivier gesit het, het heeltemal afgebreek. Hadebe het kwalik ʼn skraap opgedoen en kon Olivier, met ʼn gebreekte rug, uit die vliegtuig help.

“Ek het dadelik gevoel iets is heeltemal fout. Christopher het ʼn paar takke weggetrap en ek het gaan lê, daarna het ek vir Christopher gevra om te gaan kyk of daar ʼn pad naby is. Intussen het ek my seun van die voorval in kennis gestel en my presiese ligging met hom gedeel. Ek het vir hom laat weet dat hy asseblief die nooddienste moet ontbied.

“Daarna het ek vir Christopher gebel om te hoor of daar ʼn pad is. Toe hy laat weet dat daar wel ʼn pad is, het ek hom gevra om daar te bly en vir die ambulanse te wag om hulle te wys waar die vliegtuig geval het,” sê Olivier.

Hy het ongeveer twee ure met ʼn gebreekte rug op die harde grond gelê voordat hulp opgedaag het.

Jannes Olivier en sy kleinseun (Foto: Verskaf)

“Dit was glad nie lekker om daar te lê en wag nie. Ek was in ongelooflik baie pyn. Ek het tussen takke en bosse gelê wat oral krap en steek, dit was regtig nie lekker nie.”

Die ambulanse kon egter ook nie ry tot waar Olivier gelê het nie en hy is agterop ʼn Toyota Land Cruiser gelaai en na die pad geneem waar ʼn ambulans hom ingewag het.

Rolinda Fick (36), Olivier se dogter, sê die deel wat haar pa se lae rug en bo-rug verbind, het heeltemal versplinter.

“Hy het Sondag ʼn rugoperasie ondergaan om dit te herstel, maar die dokters sê hulle kan nie begin om te verstaan hoe sy ruggraat nie seergekry het nie.

“Die dokters kan nie verduidelik hoe my pa met al sy beserings nog steeds kan loop nie. Hulle noem dit ʼn ‘mediese wonderwerk’, veral met sy geskiedenis. Hy het op die oomblik net in sy nek nie staal of skroewe nie.”

Beskermengele werk oortyd

Olivier was in 2000 in ʼn baie ernstige motorongeluk. Hy en sy ma was reg van voor in ʼn botsing teen ʼn ander voertuig betrokke en net Oliver het oorleef. Hy het egter sy enkels, sy heup en sy kakebeen gebreek.

Hy was twee jaar gelede ook in ʼn vliegtuigongeluk, maar het ongedeerd daarvan weggestap.

Fick meen haar pa se beskermengele sloof hulle behoorlik af en dat ʼn string wonderwerke hom deur die jare lewend gehou het.

“My pa is ʼn ongelooflike sterk mens. Vandag, skaars drie dae ná die vliegongeluk hom nou met ʼn staalrug ook gelaat het, is hy so reg soos ʼn roer om uit die hospitaal ontslaan te word en weer aan sy vliegtuig te begin bou.

“Die mense noem hom die ‘wonderman van Winterton’ omdat hy al soveel beserings opgedoen het, maar steeds lewend van noodlottige ongelukke weggestap het. Die mense noem hom ook ‘Iron man’, óf ‘ysterman’ óf ‘man van staal’, omdat hy letterlik so baie staal in sy liggaam het,” skerts sy.

Benabie (59), Olivier se vrou van 38 jaar, sê haar man is ook twee jaar gelede deur 30 bye gesteek, waarvan hy ongedeerd weggestap het.

“God se hand is regtig oor my man, maar my senuwees hou dit nie meer nie,” sê sy.

“Hy is egter glad nie iemand aan wie jy moet voorskryf wat om te doen nie; as jy eers sê hy mag nie, dan wil hy veral. Die dokters sê hy is ʼn adrenalien-verslaafde en dat ons dit nie kan verander nie.”

Ná al die ongelukke sê Olivier egter dat hy nie kan wag om sy vliegtuig te herbou en van voor te begin nie en dat hy alles in sy vermoë sal doen om so gou moontlik weer in die lug te wees.

“Dit is moeilik om te sê wat my gunstelingdeel van vlieg is, want alles van vlieg is lekker. Ek geniet die vryheid daarvan, maar om tog in dieselfde tyd heeltemal in beheer te voel.

“Om in die lug rond te speel is iets heeltemal anders, dit is iets wat mens self moet ervaar voor jy sal verstaan. Daar is nie regtig woorde om die gevoel te beskryf nie,” vertel Olivier.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Impact ·

Mense verstaan dit nie, as vlieg jou bloed is, is dit daar en niks kan dit ooit verander nie. So bly hy herstel so mooi – vlieg weer en vlieg hoog

Jaco ·

VFR into IMC. Verkeerde toerusting in die verkeerde plek op die verkeerde tyd. Ernstige vrae oppad van BLO. Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.