‘Wonderwerk op wonderwerk’ ná spoegkobra pa, seun pik

Lennie en Lex Vermeulen (Foto: Verskaf)

Dit gaan elke dag beter met die pa en seun van Botswana wat Maandag albei deur ʼn Mosambiekse spoegkobra op hul plaas in die Tuliblok gepik is.

Pa Lennie Vermeulen kan moontlik binnekort ontslaan word. Hy en sy 22 maande oue seuntjie Lex is in die Mediclinic Kloof-hospitaal in Pretoria waar hulle vandeesweek onder meer wondbehandeling ontvang het. Hulle het ook hiperbariese suurstofbehandeling by die Life Eugene Marais-hospitaal ontvang.

Sonet Stofberg, familievriendin en nou ook familiewoordvoerder, het die gesin die week in die hospitaal besoek waartydens Jolandie Vermeulen vertel het dat sy, haar man en seuntjie vandeesweek “wonderwerk op wonderwerk” in die hospitaal beleef het.

Klein Lex se wond is vandeesweek in die teater skoongemaak en die dokters het bevind dat die skade wat deur die spoegkobra se gif berokken is, nie die vetlaag onder sy vel bereik het nie. Klein Lex se beentjie is wel nog geswel.

Volgens Stofberg is klein Lex se wond sedertdien bedek met ’n pleister wat met ʼn suig-aksie funksioneer en die wond deurlopend dreineer.

“Sodra die swelling gesak het en die dokter tevrede is met die toestand van die wond, sal daar ʼn veloorplanting wees,” verduidelik sy.

“Intussen gaan Lex voort met die hiperbariese suurstofbehandeling wat tans opsigself wonders verrig … Jolandie sê dat Lex ʼn regte charmer is met die verpleegsters.”

Stofberg sê Lennie het ook geen weefselskade nie. Sy nierfunksie word daagliks getoets en verbeter by die dag.

“Sodra die dokter gelukkig is met Lennie se nierfunksie, gaan hy ontslaan word.

“Jolandie betuig haar dank aan almal wat saam met en vir die gesin intree in gebed. Boodskappe van so ver as Londen en Columbia het hulle bereik. Sy sê dis hierdie gebede wat haar twee manne gesond hou.

“Die gesin is dankbaar vir elke wonderwerk”.

Maroela Media het vroeër berig klein Lex en Lennie is Maandag in die vroeë oggendure in Lex se bed deur die Mosambiekse spoegkobra gepik – Lex aan die enkel en pa Lennie op sy hand.

Volgens Jolandie was Leo – Lex se tweelingboetie – die aand baie onrustig. “Ek het hom probeer rustig maak deur hom by my in die bed te laat lê; Lennie het by Lex in die bed gaan klim,” het sy vroeër vandeesweek aan Maroela Media vertel.

“Lex het egter wakker geword toe Lennie by hom in die bed klim. Hy het wakker geword en net begin huil. Lennie wou vir Lex troos en hom op sy borsie vryf, toe hy skielik voel hoe iets hom ook byt.”

Die gesin moes inderhaas reël om daardie tyd van die nag die grenspos oor te steek en is toe na ’n dokter op Ellisras – die naaste Suid-Afrikaanse dorp aan die gesin se plaas.

Die dokter het teengif toegedien voordat Lennie en Lex per ambulans na die Mediclinic Kloof-hospitaal in Pretoria geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

OU SAAR ·

So bly dit gaan goed met pappa en seun. Dinge kon baie lelik geraak het vir hulle.

Mens kan ook nie help om te wonder wat sou gebeur het as hulle nie medies gehad het en deur die staat behandel moes word nie?
Sou die uitkoms nog so wonderbaarlik positief gewees het…?

Miena ·

@ou saar
Ons staatshospitale in SA het almal inligting en hulpbronne t.o.v. anti-venom. Glo my ; van hulle is beter toegerus as privaat hospitale. Dit is in 98% nie eens nodig vir antivenom nie omrede die pasient simptomaties behandel word en met masjiene vir hulle asemgehaal word om die longfunksie kans te gee om te herstel. Ek is n slanghanteerder (in my vrye tyd) en werk baie nou saam in MP en GP met die nodige partye vir slangvangers asook hospitalisasie vir mens en dier (indien gepik) en die vervoer van anti-venom.

Casper ·

Nou die dag was daar nog ‘n tekort aan teengif,is dit nog die geval.Ek haat slange en ‘n slangvanger is gewoonlik te laat om die slang ter red.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.