‘Wonderwerk’ toe jong man bewussyn herwin

Damian du Toit. (Foto: Verskaf)

“Mense kan nie vir my sê dat die Here nie wonderwerke verrig nie, want Hy het een vir ons verrig.”

Só sê Lottie du Toit, ma van Damian du Toit wat in Februarie in die hoësorgeenheid beland het nadat ʼn vermeende dronkbestuurder teen die motorfiets waarop hy ʼn saamrygeleentheid gekry het, vasgery het.

Damian, wat nou al vir langer as ʼn maand in Kimberley in die hospitaal is, het dokters verbaas toe hy verlede maand sy bewussyn begin herwin het. Dít nadat dokters aanvanklik gedink het hy gaan breindood wees of aan sy beserings beswyk.

Die 19-jarige Damian is geruime tyd lank onder verdowing gehou nadat hy deur die lug geslinger en onder meer kop- en rugbeserings opgedoen het. Hy het reeds sy bewussyn op die ongelukstoneel verloor en is by sy aankoms in die hospitaal aan ʼn ventilator gekoppel.

Lottie sê nadat die verdowing gestaak is, was daar min reaksie van Damian, maar hy het dae later begin om sy oë op ʼn skrefie oop te maak.

“Ek was by die hospitaal toe hy sy oë oopgemaak het. Ek kon nie praat nie, ek het net gehuil,” sê sy.

“Ek kon op daardie oomblik nie genoeg vir die Here dankie sê nie, want dit is al wat ek wou gehad het – dat hy sy oë oopmaak.

“Dít is wat gebed kan doen.”

Damian is intussen van die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal na die Lenmed Royal-hospitaal oorgeplaas waar hy van krag tot krag gaan.

“Vandat hy in die ander hospitaal is, kan hy ʼn paar woorde praat, skryf en selfs eet. Hy gebruik ʼn bordjie om met ons te kommunikeer en hy kan al self ʼn lepel vashou om te eet,” sê Lottie.

“Die dokters kan skaars glo watter vordering hy gemaak het, want hy het nie eers beweeg toe hy in die hospitaal opgeneem is nie.”

Volgens Lottie lyk dit nie asof Damian enige blywende kopbeserings opgedoen het nie en onthou hy alles van die ongeluk en ook dinge wat in die verlede gebeur het.

“Ons het wel agtergekom dat hy nog sukkel met sy korttermyngeheue en dat hy nie lekker met een van sy oë kan sien nie.”

Damian is nou al vir langer as ʼn maand in Kimberley in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Hoewel Damian weens sy rugbeserings nog nie probeer het om te loop nie, sê hy elke dag vir sy ma en pa, Edrich, dat hy net wil opstaan en huis toe gaan.

“Die fisioterapeut is positief dat Damian sal kan loop, veral omdat hy sy tone kan beweeg en sy voete kan oplig.”

ʼn Gedeelte van Damian se skedel is ná die ongeluk verwyder, maar sy ouers hoop dat dokters Vrydag hierdie gedeelte sal begin opbou en sommer ook die voedingsbuis sal verwyder, sodat hy weer self kan eet.

Hulle wag ook nog op terugvoer oor Damian se rugbeserings, aangesien die moontlikheid bestaan dat hy ʼn spesiale stut gaan benodig sodat hy weer kan leer om te loop.

“Lede van ons gemeenskap het ons reeds finansieel begin bystaan, sou Damian wel ʼn spesiale soort stut nodig kry,” sê Lottie.

“Ek is so dankbaar vir al die ondersteuning wat ons die afgelope tyd gekry het, want daarsonder en sonder die Here se krag, sou ons dit nie kon maak nie.

“Die eerste week ná die ongeluk het dit gevoel asof my hele lewe stilstaan, maar elke dag word Damian beter en dit gee ʼn mens nuwe krag om aan te gaan.”

Lottie meen dat die ongeluk ook ʼn positiewe uitwerking op Damian gehad het en dat die Here soveel verandering in sy hart gebring het.

“Hy vou elke keer sy hande in mekaar wanneer hy wil hê ons moet vir hom bid,” sê sy.

“Ons het al soveel gebedsessies vir hom gehou en dit is nie eers net ons in Kimberley wat vir hom bid nie, maar mense van oral af – selfs so ver as Mosselbaai.

“Hy is inderdaad ʼn getuienis van die Here se wonder.”

Lottie dra nie kwade gevoelens teen die motoris wat Damian raakgery het nie, maar voel wel dat die vrou meer kon doen nadat sy gehoor het van Damian se toestand.

“Ek voel sy kon net uitgereik het, sy weet hoe om in kontak te kom met ons. Sy kon net gebel en gevra het hoe gaan dit met my seun gaan.

“Hy kon weens haar besluite dood gewees het.”

Damian en sy pa, Edrich. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

AmY ·

Damian; jy is ‘n, wonderwerk. Ek glo jy gaan baie mooi herstel. Sterkte vorentoe.

Casper ·

So van die vrou gepraat,wat het met haar gebeur of is sy deel van our people wat haar lisensie “gekoop ” het.

Swerwer ·

So dankbaar daar is vordering, geloof, hoop en liefde is tot alles in staat deur ons Hemelse Vader wat ons krag gee.

Wondermaarnet ·

By God is niks onmoontlik nie. Mag jy ten volle herstel Damian.

Sandra ·

Dit is so dat die vrou wat verantwoordelik is vir sy toestand kon uitreik, maar die belangrikste is dat julle gebede verhoor was en dat julle seun se toestand so mooi verbeter het. Laat daardie vrou in God se hande. Ek se altyd vir God, as ek voel ek kan nie met mense “deal” nie, dat ek dit by Sy voete nou neersit om te doen wat Hy goed dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.