‘Tintin’-kunswerk kan nuwe veilingrekord laat spat

Hergé se oorspronklike kunswerk met India-ink, waterverf en gouache op papier vir die oorspronklike voorblad van die album Le Lotus Blue (The Blue Lotus) in 1936. (Foto: Artcurial/Hergé/Moulinsart/Barnebys.com)

‘n Oorspronklike kunswerk deur Tintin-skepper Hergé kan moontlik Donderdag ʼn nuwe rekord opstel vir die verkope van ʼn strokiesprent wanneer dit in Parys, Frankryk, op ‘n aanlyn veiling aangebied sal word.

Afslaersgroep Artcurial beraam dat die kunswerk vir tussen €2,2 en €2,8 miljoen (sowat R52 miljoen) sal verkoop ondanks duidelike voumerke. Die veiling sou aanvanklik in November plaasgevind het.

Tintin het in 2014 die vorige rekord vir die verkope van ʼn strokiesprent opgestel toe ʼn dubbelbladsy-inkskets, wat gedien het as ʼn binneblad vir Tintin-volumes wat van 1937 tot 1958 gepubliseer is, vir €2,65 miljoen (sowat R50 miljoen) verkoop is.

Die klein kunswerk wat Donderdag te koop is, is 34 cm groot. In die kunswerk verskyn Tintin en sy hond Snowy wat uit ʼn porseleinbotteltjie voor ʼn dreigende Chinese draak te voorskyn kom.

Volgens Artcurial was dit oorspronklik bedoel vir die voorblad van The Blue Lotus (1936), maar dit was volgens die uitgewer te duur om te kopieer en dus is ʼn vereenvoudigde weergawe van dieselfde toneel uiteindelik gebruik.

Die volume, die vyfde in die Tintin-reeks, word beskou as ʼn mylpaal in Hergé se ontwikkeling van die karakter, met sy meer dinamiese en realistiese storielyn saam met sy foutlose kunswerk.

In 2016 is ʼn oorspronklike tekening uit die Tintin-boek Explorers on the Moon verkoop vir €1,55 miljoen (sowat R28 miljoen), ʼn rekord vir ʼn enkele bladsy uit ʼn strokiesprentboek.

Die Belgiese kunstenaar Hergé, wie se regte naam George Remi was, het sowat 230 miljoen Tintin-albums verkoop ten tyde van sy dood in 1983.

Volgens die eienaars – erfgename van die Tintin-uitgewer Louis Casterman – was die kunswerk wat Donderdag te koop is ʼn geskenk van Hergé aan Casterman se seun, wat dit opgevou in ʼn laai gebêre het.

Ander kenners trek dit egter in twyfel en sê die tekening is moontlik deur Hergé self opgevou toe hy dit na sy uitgewers gepos het.

“Die teorie dat dit ʼn geskenk vir ʼn kind was, is ongehoord,” het Benoit Peeters, ʼn Hergé-kenner wat die kunstenaar se biografie geskryf het, in September aan die Franse dagblad Le Monde gesê.

“Wat meer waarskynlik is, is dat Hergé dit nooit teruggevra het nie en dit toe aan Casterman se seun gegee is.”

Nick Rodwell, die Britse eggenoot van Hergé se tweede vrou en regtehouer Fanny Vlamynck, het gesê die kunswerk behoort na regte in die Hergé-museum in België.

Volgens Philippe Goddin, voormalige sekretaris-generaal van die Hergé-stigting, nou genaamd Studios Hergé, is Casterman se bewering dat die kunswerk ʼn geskenk was “hoogs verdag”.

“Die Castermans het egter niks verkeerd gedoen deur dit op veiling te plaas nie. Hulle glo in die legende wat hulle pa oorgedra het,” het Goddin aan AFP gesê.

Tintin se avonture vermaak al sedert die 1930’s wêreldwyd mense van alle ouderdomme.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

As kind het ek graag Tintin se avoture gelees. Maar ek ken die hondjie as Milou. Het dit in Frans gelees. Het ook verskeie animasie reekse gesien. Daar was op ‘n stadium flieks ook gemaak wat ons op televisie gesien het.

Queline ·

Ons het ook die Tintin boeke uitgeneem en gelees as kinders. Nou het my seun amper die hele reeks in sy boekrak. Hy geniet dit om dit te lees en self ook net deur te blaai. Sy versameling bestaan uit die boeke, dvd’s, en die nuwe fliek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.