Van wegspring tot wenstreep – Gerda is die beste!

Gerda Steyn vier haar oorwinning. (Foto: X/Two Oceans)

Doen solank aansoek om iewers vir Gerda Steyn ʼn standbeeld op te rig; want Suid-Afrika se marathonheldin is ongetwyfeld haar gewig in goud werd.

Die 34-jarige langasem het vandag nie net haar vyfde Twee Oseane-titel op ʼn streep gewen nie, sy het sommer haar eie wedlooprekord verpletter.

Steyn se wentyd van 3:26:54 is meer as twee minute vinniger as verlede jaar se rekordtyd van 3:29:06.

Sy het oudergewoonte van die wegspring tot die wenstreep beïndruk, maar sy het in die pylvak die spoedkrane oopgedraai om op ʼn drafstap te wen.

’n Uitstekende Irvette van Zyl het haar bes gedoen om by die uiteindelike kampioen te bly, maar sy het tweede klaargemaak met haar tyd van 3:29:30. ʼn Vertoning wat in 2022 goed genoeg sou gewees het vir die eerste plek.

Maar tans is Steyn in ʼn klas van haar eie.

“Ek het nie presies geweet hoe groot my voorsprong was nie, maar ek het vermoed dat ek vinniger as my vorige beste tyd was. Dit was ʼn lekker meevallertjie toe ek sien dat die horlosie 3:26 wys! Dit is ʼn groot voorreg om die rekord te verbeter en ek is dankbaar vir die geleentheid,” het sy na afloop van die aksie gesê.

Die Bothaville-boorling se drafgetuigskrif sorg ongetwyfeld vir indrukwekkende leesstof; daar is die Comrades-rekord, die sterk Olimpiese vertoning in Japan en die gereelde uitblinksessies by van die wêreld se grootste wedlope. In Desember 2023 het sy die Suid-Afrikaanse marathonrekord na 2:24:03 verbeter.

Ja-nee, Gerda Steyn is ongetwyfeld die koningin van Suid-Afrikaanse padwedlope.

In die mansafdeling het Onalenna Khonkhobe die eerste plaaslike atleet sedert 2019 geword om met die louere weg te draf.

Sy wentyd was 3:09:30.

Saterdag se Twee Oseane-ultramarathon strek oor 56 km. Duisende atlete durf Sondag die 21 km-roete aan.

  • Steyn se tye in die Twee Oseane-marathon:

2024: 3:26:54

2023: 3:29:06

2022: 3:29:42

2019: 3:31:28

2018: 3:39:31

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.