Vervaardigers beboet oor skietery op filmstel

Alec Baldwin (Foto: Mark Sagliocco / GETTY IMAGES NORTH AMERICA)

Vervaardigers van die fliek Rust het “duidelike onverskilligheid” teenoor vuurwapengevare getoon en veiligheidsvoorskrifte op dié fliekstel herhaaldelik oortree, het owerhede in Nieu-Mexiko Woensdag gesê.

Die filmmakers van dié Western-rolprent waar kinematograaf Halyna Hutchins verlede jaar deur die akteur

op stel doodgeskiet is, is gevolglik die maksimum toelaatbare siviele boete van $136 793 (meer as R2 miljoen) vir veiligheidsoortredings opgelê.

Maroela Media het vroeër berig dat Hutchins doodgeskiet is terwyl Baldwin ʼn kleedrepetisie vir ʼn toneel in die Western-fliek gedoen het, waarin hy ʼn vuurwapen op die kamera rig.

Die koeël het deur Hutchins se liggaam getrek en het regisseur Joel Souza in die skouer getref.

ʼn Afsonderlike en onverwante strafregtelike ondersoek na die voorval duur intussen voort.

Luidens ʼn verslag deur die omgewingsdepartement het die vervaardigers duidelike onverskilligheid teenoor die gevare aan vuurwapens verbonde getoon deur te versuim om gereeld hul eie veiligheidsvoorskrifte na te kom en af te dwing.

Hulle het voorts ook klagtes oor gevalle dat vuurwapens voorheen al verkeerdelik op stel afgevuur is, geïgnoreer.

Volgens die verslag het die veiligheidskoördineerder van die stel geen direkte stappe gedoen om veiligheidskwessies aan te pak nie, terwyl die bestuur “veelvuldige geleenthede gebied is om regstellende stappe te doen, maar gekies het om dit nie te doen nie”.

Daar is bevind dat Hutchins se dood en Souza se besering “weens hierdie mislukkings” veroorsaak is.

Die departement se buro vir beroepsgesondheid en -veiligheid het onderhoude met altesame 14 mense gevoer en meer as 500 dokumente nagegaan voordat hulle tot dié gevolgtrekking gekom het.

Die buro sê in ʼn verklaring die boete wat eindelik opgelê is, is “die hoogste vlak van dagvaarding en maksimum boete wat deur staatswetgewing in Nieu-Mexiko toelaatbaar is”.

Verskeie oortredings begaan

Die verslag het oortredings van verskeie bedryfsriglyne gelys, waaronder om skerp ammunisie op stel te bring, wapens vooraf te laai en wapens sonder toesig te los.

Ander oortredings sluit in die versuim om elke dag veiligheidsvergaderings oor die hantering van vuurwapens te hou en ʼn gebrek aan wapenhanteringsopleiding vir akteurs.

Akteurs het tydens “talle kameraskote” gewere op die kamera of op ʼn ander persoon gerig sonder om ʼn wapenkenner te raadpleeg, lui die verslag.

“Ons ondersoek het bevind dat hierdie tragiese voorval nooit sou gebeur het as Rust Movie Productions die nasionale rolprentbedryfstandaarde vir vuurwapenveiligheid gevolg het nie,” het James Kenney, sekretaris van die Nieu-Mexiko-omgewingskabinet, gesê.

“Dit is ʼn algehele versuim van die werkgewer om erkende nasionale veiligheidsriglyne te volg wat werknemers veilig hou.”

Stefan Friedman, ʼn woordvoerder van Rust Movie Productions, het in ʼn verklaring aan AFP gesê hoewel die vervaardigers die owerheid se “tyd en moeite” in sy ondersoek “waardeer”, stem hulle nie met sy bevindings saam nie. Hulle beplan glo ook om teen dié bevindings te appelleer.

“Ons gedagtes en gebede bly by Halyna se familie,” het Friedman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Dit bly duister waarom Baldwin skynbaar skotvry hiervan afkom. Enige 5 jarige kind behoort te weet jy hardloop nie met ‘n skêr in jou hand nie……

Mariaan ·

Presies Hennie…Alec ook skuldig..mens maak tog eers OOK seker..akteurs raak te laks en arrogant..nou is HAAR lewe net n boete werd? Nee wat..

Realis Thailand ·

Die kriminele klagtes moet nog bekend gemaak word
In my opinie was Baldwin uiters nalatig en glo ek hy sal een of ander tyd aangekla word.
Op die minste strafbare manslag of soos die Amerikaners se Murder in the Third Degree Maw daar was nie opset nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.