Video: Kanonsaluut vir Belgiese koninklikes met besoek aan SA

Koningin Mathilde, koning Philippe, Lindiwe Zulu en pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die koning en koningin van België is Donderdag deur seremoniële glans, kompleet met ʼn kanonsaluut, op die eerste dag van hul ampsbesoek aan Suid-Afrika by die Uniegebou in Pretoria verwelkom.

Pres. Cyril Ramaphosa sal vir die volgende vyf dae gasheer vir koning Philippe, sy vrou, koningin Mathilde, en verskeie Belgiese leiers speel tydens die groep se besoek aan Pretoria, Johannesburg en Kaapstad.

Maroela Media het vroeër berig dat dié besoek die eerste aan Suid-Afrika deur die Belgiese monargie is, en volgens die Suid-Afrikaanse presidensie is dit ook simbolies van die sterk bilaterale betrekkinge wat tussen dié twee lande bestaan.

Die koninklike egpaar is vandag deur die seremoniële wag van die Suid-Afrikaanse weermag voor die Uniegebou verwelkom. Dr. Naledi Pandor, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Patricia de Lille, minister van toerisme, asook verskeie kabinetslede het die koninklikes en hul afvaardiging saam met die president verwelkom.

Dit blyk dat toerisme, handel, buitelandse beleggings en hernubare energie die hoof gesprekpunte tydens die egpaar se besoek gaan wees. Daar word ook verwag dat die koninklikes gewilde Suid-Afrikaanse besienswaardighede sal besoek.

Die egpaar het na Johannesburg gevlieg op Air Belgium, wat in September verlede jaar sy eerste vlug na Suid-Afrika onderneem het.

Dié besoek is een van vele aan Afrikalande wat die Belgiese koningshuis die afgelope tyd onderneem het.

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, is dit deel van hul poging om België en die Belgiese koningshuis se beeld in Afrika te verbeter.

“Suid-Afrika het sterk bande met België en daarom maak dit vir die Belgiese koning sin om nou Suid-Afrika te besoek. Ons het uiters gunstige handelsbande met België en ons uitvoere na België is byna drie keer meer as ons invoere uit dié land. Ons voer steeds baie diamante en ander metale na België uit, maar die uitvoere van motors en voedsel het ook die afgelope paar jaar gestyg.”

Die feit dat ander Belgiese hooggeplaastes Suid-Afrika saam met die koninklikes besoek, is volgens Kleynhans ook ʼn duidelike teken dat België, net soos talle ander Europese lande, hulle ekonomiese belange in Afrika wil beskerm.

“Aan die een kant is daar kommer oor staatsverval in Suid-Afrika en Suid-Afrika se nouer bande met Rusland en China. Aan die ander kant sien België, net soos Duitsland, Frankryk en ander Europese lande, groot toekomsgeleenthede in Afrika en is Suid-Afrika steeds ʼn logiese toegangsland tot die Afrikamark.”

Kleynhans sê voorts dat die Belgiese koningshuis die afgelope jare in omstredenheid gedompel is weens persoonlike én politieke skandale. Dié koninghuis is veral ook nie in die noordelike Vlaandere-dele van België gewild nie omdat hulle gesinstaal Frans is.

Maroela Media het vroeër berig dat Koning Albert, koning Philippe se pa, in 1968 ʼn buite-egtelike kind, Delphine Boël, saam met sy minnares van 18 jaar, barones Sybille de Selys Longchamps, gehad het.

Die voormalige koning het in 2020 ná ʼn jarelange regstryd erken dat dié 55-jarige kunstenaar sy kind is. Sy heet nou amptelik prinses Delphine van Sakse-Coburg-Gotha.

Kyk na die video van die koninklikes se verwelkoming by die Uniegebou:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.