2023 dalk die warmste jaar nóg

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Verskaf)

Die Verenigde Nasies (VN) voorspel dat die aarde vanjaar die warmste sal wees wat nog opgeteken is.

Die VN se Wêreld‑ Meteorologiese Organisasie (WMO) sê 2023 het reeds verskeie weerrekords laat spat en ʼn “spoor van verwoesting en wanhoop” agtergelaat.

“Dit is ʼn oorverdowende kakofonie van rekords wat gebreek is,” het Petteri Taalas, hoof van die WMO, gesê.

“Die vlakke van kweekhuisgasse is hemelhoog. Die temperatuur wêreldwyd en die koers waarteen die seevlakke styg is die hoogste nóg.  Dit terwyl die Antarktiese see-ysvlak die laagste nóg is.”

Die WMO het vandeesweek sy voorlopige verslag oor die stand van die wêreldklimaat bekendgemaak, terwyl wêreldleiers in Dubai vergader het vir die VN se COP28-klimaatberaad.

Antonio Guterres, hoof van die VN, het gesê die rekordtemperature en weerstoestande behoort “wêreldleiers rillings te gee”.

Die voorlopige verslag het bevind dat die konsentrasies van die drie vernaamste kweekhuisgasse – koolstofdioksied, metaan en stikstofoksied – verlede jaar rekordvlakke bereik het, met voorlopige navorsing wat aandui dat die vlakke vanjaar aanhou styg het.

Die vlakke van koolstofdioksied was 50% hoër as tydens die pre-industriële era, wat beteken dat “temperature nog vir baie jare sal styg”, selfs al word die vrystelling van kweekhuisgasse drasties verminder.

Die 2015 Parys-klimaatooreenkomste het ten doel gehad om klimaatsverandering te help stop deur gemiddelde temperature tot onder 2 °C van pre-industriële vlakke te beperk – en 1,5 °C indien moontlik.

In sy verslag het die WMO egter gesê dat vanjaar se syfers tot einde Oktober getoon het dat dit reeds sowat 1,4 °C bó die pre-industriële basislyn is.

Die verslag het ook aangedui dat die afgelope nege jaar die warmste jare was sedert moderne rekords begin is.

Die WMO se finale verslag vir 2023 word eers in die eerste helfte van volgende jaar voltooi om ʼn geheelbeeld oor die jaar te skets.

Die WMO sê egter die laaste twee maande van die jaar sal waarskynlik nie ʼn groot uitwerking op die verslag hê nie, aangesien die eerste tien maande se syfers van so ʼn aard is dat dit reeds ver bo die ander twee warmste jare – 2016 en 2020 – uitskiet.

Die WMO het gemaan dat die El Niño-weerstelsel “waarskynlik die warm weerstoestande in 2024 sal aanvuur”. Dit is omdat dié klimaatpatroon, wat tipies warmer en droeër weerstoestande tot gevolg het, dikwels temperature wêreldwyd verhoog in die jaar nadat dit ontwikkel het.

Klimaatchaos

Luidens die verslag het die koers waarteen seevlakke styg oor die afgelope dekade verdubbel vergelyke met die eerste dekade wat satellietrekords (1993-2002) gehou is.

Die vlak van Antarktiese see-ys was boonop vanjaar die laagste volgens rekords. Trouens, teen die einde van die Suidelike Halfrond se winter was dit ʼn miljoen vierkante kilometer minder as die vorige rekordlaagtepunt. Dit is ʼn gebied groter as Frankryk en Duitsland saam.

Intussen het gletsers in Noord-Amerika en Europa weer ʼn uiterste smeltseisoen beleef, met Switserse gletsers wat die afgelope twee jaar 10% van hul ysvolume verloor het.

“Hierdie is meer as net statistieke,” het Taalas gesê.

“Ons loop duidelik die gevaar om die stryd te verloor om ons gletsers te red en die koers waarteen seevlakke styg in toom te hou.

“Ons kan nie terugkeer na die klimaat van die 20ste eeu nie, maar ons moet nou optree om die risiko’s van ʼn toenemend onherbergsame klimaat in hierdie en die komende eeue te beperk.”

Volgens kenners veroorsaak uitermatige weerstoestande dikwels “dramatiese sosio-ekonomiese toestande”.

“Vanjaar het ons gesien hoe gemeenskappe wêreldwyd deur brande, oorstromings en rekordtemperature getref is,” het Guterres gesê.

Hy het ʼn beroep op wêreldleiers gedoen om hulle te verbind tot maatreëls om klimaatsverandering in toom te hou, insluitend die uitfasering van fossielbrandstowwe en verdriedubbeling van hernubare energiekapasiteit.

“Ons het die padkaart om die styging in globale temperatuur tot 1,5 °C te beperk en die ergste klimaatchaos te vermy. Maar ons het leiers nodig om die wegspringskoot by COP28 te laat klap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marisa W ·

Die diesel en steenkool wat ons verbrand om die krag die afgelope jaar of 2 aan te hou, help ook glad nie

annie ·

Nee wat, dit is mos hoekom die geskiedenis mos ‘his story’ genoem word. Volgens ou-ou Sjinese geskrifte het snaakse dinge al gebeur soos dat die aarde agv ‘n botsing vir ‘n tyd lank selfs op sy sykant gedraai was, ‘n Erge vulkaniese uitbarsting in die Donker Middeleeue het ‘n geel laag asrook vir ‘n hele paar jaar oor Europa laat hang wat die klimaat erg beïnvloed het. Omdat mense nie insae in ou geskrifte het nie kan ‘wetenskaplikes’ wat ‘weet’ baie kluitjies bak en dit ten duurste aan ons verkoop.

Highlander ·

Annie. Jy slaan die spyker op die kop. En die geskiedenis word geskryf deur die oorwinnaars.

Henry ·

snaaks hoe hulle n week van hoe temperature gebruik om te sè dit is die warmste jaar. so paar maande gelede het hulle die koudste winter gehad. in amerika het hulle 2 voet of dan 60 sm sneeu gister gehad. daarvan sè hulle niks.
vanaf 1968 tot so 2000 het hulle gesè ons beweeg na n ys tydperk.
wat moet ons nou glo. dit gaan net om geld.

Gaitsigubib ·

Ek wonder in watter land is die foto geneem. Dit lyk lekker om daar te woon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.