51 sterf in twee tragedies in Pakistan

Die busongelukstoneel in Baloetsjistan. (Foto: Ismail Sasoli / AFP)

Minstens 51 mense is Sondag in twee afsonderlike transportongelukke in die weste van Pakistan dood.

Altesame 41 mense is dood toe die bus waarin hulle gereis het in ʼn ravyn in die suidwestelike Baloetsjistan-provinsie gestort het, terwyl minstens tien kinders in ʼn bootongeluk in die noordweste van Khyber Pakhtunkhwa omgekom het. Die kinders was almal tussen die ouderdomme sewe en 14.

Drie kinders word in dié stadium nog vermis.

Hamza Anjum, die Pakistanse senior administrasiebeampte, het op die busongelukstoneel in Baloetsjistan gesê die bus het ʼn pilaar op ʼn brug getref voordat dit in die ravyn gestort het.

“Die liggame… is onherkenbaar,” het Anjum gesê.

Die busongelukstoneel in Baloetsjistan. (Foto: Ismail Sasoli / AFP)

Altesame 40 liggame en drie beseerdes is ná die ongeluk met behulp van meganiese toerusting uit die buswrak bevry. Een van die beseerdes is kort daarna dood.

Die oorblywende twee oorlewendes is albei in ʼn ernstige toestand.

Asghar Ramazan, hoof van die plaaslike reddingsdiens, het aan AFP gesê die bus het 48 passasiers en houers olie vervoer ten tyde van die ongeluk. “Toe die bus die grond tref, het dit dadelik aan die brand geslaan.”

Die bus was oornag van Baloetsjistan se provinsiale hoofstad Quetta na die suidelike hawestad Karatsji op pad.

Daar word vermoed dat die busbestuurder aan die slaap geraak het en te vinnig gery het.

In Khyber Pakhtunkhwa is 17 oorlewendes uit die water gebring nadat ʼn boot met kinders op die Tanda-dam omgeslaan het.

Omstanders op die toneel ná die bootongeluk in die noordweste van Khyber Pakhtunkhwa. (Foto: Basit SHAH / AFP)

Adbul Rauf, distrikspolisiehoof, sê die groep leerders het op die water “uitgegaan vir ʼn piekniek en ʼn bootvaart”.

Voorlopige inligting dui egter nou daarop die boot was in ʼn vervalle toestand én oorlaai.

“Alles was normaal totdat die boot skielik omgeslaan het,” het die 11-jarige oorlewende Muhammad Mustafa intussen in sy hospitaalbed in die nabygeleë stad Kohat gesê.

“Ek het onder die boot vasgesit,” het hy aan AFP gesê. “My tjalie en trui het my afgetrek, so ek het dit uitgetrek.

“Die water was vreeslik koud en ek het gevoel in my liggaam verloor. Ek het gedink ek gaan flou word toe ʼn man op ʼn opblaastoestel my gered het.”

Sleg geboude snelweë, onvoldoende veiligheidsmaatreëls en roekelose bestuur dra by tot Pakistan se haglike padveiligheidsrekord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

Sou die term “vervoerongelukke” nie beter gewees het as “transportongelukke”?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.