Aanvaller slaan toe in supermark in NZ

Ambulanse staan Maandag buite die Countdown-supermark in Dunedin, Nieu-Seeland. (Foto: Dunedin-antics/Facebook)

’n Aanvaller het Maandag vier mense by ʼn supermark in Nieu-Seeland met messe aangeval. Drie van die slagoffers is in ʼn kritieke toestand.

Die plaaslike owerhede sê dié hoogs ongewone aanval in die gewoonlik vreedsame Nieu-Seeland was “lukraak” en nié terreurverwant nie.

Volgens ooggetuies het ʼn man twee messe by hom gehad toe hy die personeel van ’n Countdown-supermark in Dunedin omstreeks 14:30 gesteek het. Omstanders het die aanvaller probeer keer en sommige is in die proses self beseer.

Die aanvaller is ná die voorval in hegtenis geneem.

Premier Jacinda Ardern het intussen gesê haar eerste vraag aan die polisie was of die aanval in Dunedin gevolge vir nasionale veiligheid inhou. Die polisie het haar daarvan verseker dat dit nie die geval is nie.

“Daar is volgens die polisie in dié stadium niks wat daarop dui dat die aanval ʼn binnelandse terreurvoorval was nie,” het Adern aan verslaggewers gesê.

Paul Basham, plaaslike polisiebevelvoerder, het die voorval as ʼn “lukrake aanval” bestempel en gesê die vermeende aanvaller sal Dinsdag in die hof verskyn.

Die owerhede het aanvanklik gesê vyf mense is in die aanval gewond, maar het dié verklaring later hersien en gesê vier mense is gewond. Basham het verduidelik dat die aanvaller ʼn ligte besering tydens die voorval opgedoen het.

Hy het ook die optrede van diegene wat die man gekeer het, as “heldhaftig” bestempel en gesê dat hulle verdere beserings voorkom het.

Drie van die slagoffers moet wel operasies ondergaan weens die beserings wat hulle in die voorval opgedoen het.

Die besturende direkteur van Countdown, Spencer Sonn, het gesê die kettingwinkel is “geskok en verpletter” deur die aanval.

Die mees onlangse gewelddadige aanval in Nieu-Seeland was die skietvoorvalle by twee moskees in 2019.

Maroela Media het vroeër berig Brenton Harrison Tarrant het op 15 Maart 2019 tydens ’n gebedsbyeenkoms by twee moskees in Christchurch op aanbidders losgebrand. Altesaam 51 mense is in dié aanvalle dood.

Nieu-Seeland het intussen streng wapenwette in die lig van die aanval in Christchurch ingestel om toegang tot vuurwapens te beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

NZ is geskok en dis wereldnuus en daar is dadelik opgetree. In SA gebeur dit daagliks en haal gewoonlik nie eers die nuus nie. Dis al deel van ons daaglikse bestaan en ons regering swyg

Annelize ·

Dit gaan oor wie en wat aan die stuur van sake is. Wat anders verwag mens van ‘n plek waar die ANC aan bewind is?

Werner ·

Net die feit dat hulle die terrorisme so probeer toesmeer se vir my twee dinge.Die aanvaller is nie blank nie en dit is n terroriste aanval.En aangesien hulle hulle vuurwapens ingehandig het kan hulle nou nie eers die nare wapens die skuld gee nie.Ek kry die arme ou jammer wat die aanvaller beseer het hy gaan seker nou lewenslank tronk toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.