Aktrise Anne Heche oorlede ná motorongeluk

Anne Heche (Foto: Jesse Grant / Getty Images via AFP)

Die aktrise Anne Heche is dood verklaar, een week ná sy met haar voertuig teen ʼn Los Angeles-woning vasgery het, het ʼn woordvoerder Vrydag gesê.

Heche (53) was in ʼn koma in ʼn hospitaal ná sy ʼn ernstige breinbesering tydens die ongeluk op 5 Augustus opgedoen het. Sy het alle breinfunksie verloor “en is dood verklaar volgens Kaliforniese wetgewing”, alhoewel haar hart steeds klop. Haar gesin hou haar liggaam op lewensondersteuning terwyl orgaanskenking ondersoek word, het woordvoerder Holly Baird aan AFP gesê.

“Ons het vandag ʼn helder lig verloor, ʼn goedhartige en vreugdevolle siel, ʼn geliefde ma en ʼn lojale vriendin,” het die familie in ʼn gesamentlike verklaring gesê. “Anne sal baie gemis word, maar sy leef voort deur haar mooi seuns, haar ikoniese werk en haar passievolle liefdadigheid.”

Heche is veral bekend vir haar flieks in die 1990’s soos Donnie Brasco en Six Days, Seven Nights.

Luidens mediaberigte het die 53-jarige aktrise eers teen ʼn woonstelgebou se motorhuis vasgery voordat sy weggejaag het. Dieselfde motor het later by die huis in Mar Vista ingeploeg. Groot skade is aan die huis aangerig. Die ongeluk het ʼn brand veroorsaak en 59 brandbestryders het ʼn uur lank gespook om die brand te blus.

ʼn Vrou wat in die huis was tydens die voorval, het ligte beserings opgedoen.

Plaaslike media het Donderdag berig voorlopige toetse van Heche se bloed het positief getoets vir dwelmmiddels, maar verdere inligting is nodig om te bepaal of dit dalk medikasie was as deel van haar behandeling.

TMZ berig volgens anonieme bronne het sy positief getoets vir kokaïen en fentaniel, waar fentaniel soms vir pynverligting deur dokters voorgeskryf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Psyggie ·

Dit is so bitter hartseer en onnodig. Sy was een van my gunsteling aktrises.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.