Al agt uit kabelkar in Pakistan gered

ʼn Soldaat hang van ʼn helikopter tydens die reddingspoging (22 Augustus 2023) (Foto: – / AFP)

Al agt persone, insluitend ses skoolseuns, wat Dinsdag ure lank in ʼn kabelkar vasgekeer was, is gered.

Die reddingspoging in ʼn afgeleë gebied in Pakistan het begin toe ʼn helikopter ʼn kind ná byna 12 uur na veiligheid kon bring. Die helikopter moes egter terugkeer na die basis toe dit donker geword het.

Lede van Pakistan se spesiale soldatediensgroep, ook bekend as die Maroon Berets, het die kabel, waaraan die kabelkar gehang het, as ʼn glyspoor gebruik om die res van diegene wat nog op die kabelkarretjie vasgekeer was, na veiligheid te bring.

“Ek het gedink dit is my laaste dag,” het een van die seuns, Attaullah Shah (15), aan AFP gesê. “God het vir my ʼn tweede lewe gegee.”

Pakistan se tussentydse eerste minister Anwaar-ul-Haq Kakar het die reddingswerkers “helde van die land” genoem.

“Dit is uitstekende spanwerk deur die weermag, reddingsdienste, distrikregering en plaaslike inwoners,” het hy op X (voorheen Twitter) gesê.

Plaaslike beamptes het vroeër gesê twee kinders is met die helikopter gered, maar die weermag het later bevestig slegs een kon op só manier gered word.

“Ná vermoeiende pogings deur hoogs ervare vlieëniers en SSG-personeel is ʼn kind gered, maar die sending moes weens slegte weer gekanselleer word,” het die weermag se woordvoerder in ʼn verklaring gesê. “Die soldate het verdere pogings aangepak en ʼn spesiale glykabelspan is met weermaghelikopters na die toneel ontplooi.”

Bilal Faizi, ʼn beampte by Pakistan se nooddiens, het gesê die twee volwassenes is laaste gered.

“Toe almal gered is, het die families begin huil uit vreugde en hulle het mekaar omhels,” het nooddienstebeampte Waqar Ahmad aan AFP gesê.

“Mense het deurlopend bly bid, want daar was vrees dat die tou kon breek. Mense het bly bid totdat die laaste persoon gered is.”

Die ses kinders was omstreeks 07:00 (0200 GMT) saam met die twee volwassenes op pad skool toe, toe ʼn kabel op ʼn hoogte van sowat 365 meter in die middel van die rit oor die Allai-vallei gebreek het.

Inwoners het moskee-luidsprekers gebruik om owerhede in kennis te stel van die noodgeval. Honderde mense het aan weerskante van die ravyn bymekaar gekom – ure van enige groot dorp.

Skoolhoof Ali Asghar Khan het vroeër telefonies aan AFP gesê die skoliere is almal tienerseuns en skoliere aan sy staatskool Battangi Pashto. Die skool is in ʼn bergagtige gebied geleë en daar is geen ander veilige manier om die ravyn oor te steek nie.

In 2017 is 10 mense dood toe ʼn kabel gebreek het. Passasiers het in ʼn ravyn naby die hoofstad Islamabad na hul dood geval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Magriet ·

As Pakistan soveel moeite en onkoste kan aangaan om hulle kinders in afgeleë gebiede by skole te kry, hoekom doen ons regering niks om ons kinders op afgeleë gebiede veilig oor riviere en spruite te help nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.