Alec Baldwin pleit onskuldig ná skietvoorval

Alec en sy vrou, Hilaria Baldwin. (Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File)

Die akteur Alec Baldwin, wat van onwillekeurige manslag aangekla is in verband met die dood van ʼn kinematograaf op die stel van die rolprent Rust, pleit steeds onskuldig.

Baldwin (65) is in Januarie aangekla vir sy aandeel in ʼn noodlottige skietery op die stel van die Western-fliek, waartydens die kinematograaf, Halyna Hutchins, doodgeskiet en die regisseur van die fliek, Joel Souza, ernstig beseer is met ʼn Colt .45-vuurwapen.

Skokgolwe is in 2021 deur Hollywood gestuur toe dit aan die lig gekom het dat Baldwin, ʼn vervaardiger van die fliek én akteur in die hoofrol, vermoedelik die sneller getrek het terwyl hy die vuurwapen hanteer het.

Hy ontken egter ten sterkste dat hy die skote afgevuur het en hou vol dat hy nie verantwoordelik was vir Hutchins se dood nie. Hy voer ook aan dat die vuurwapen uit die staanspoor nie met skerp ammunisie gelaai moes gewees het nie.

Luke Nikas en Alex Spiro, Baldwin se regsverteenwoordigers, het gevra vir ʼn spoedige verhoor. Baldwin sou Donderdag virtueel in die distrikshof in Santa Fé, Meksiko, verskyn, maar sy prokureurs het ʼn kwytskelding ingedien wat ook sy onskuld bepleit.

Die aanvanklike klagte van manslag teen die akteur is in April verlede jaar laat vaar weens wat staatsaanklaers bestempel het as “nuwe feite wat verdere ondersoek en forensiese ontleding verg”.

Sou ʼn jurie hom egter nou skuldig bevind, staar tronkstraf van tot 18 maande hom in die gesig.

Twee alternatiewe klagte van manslag staar hom ook in die gesig; een wat die nalatige gebruik van ʼn vuurwapen behels, asook een van die versuim om omsigtig op te tree in die hantering van ʼn vuurwapen.

Hy word ook in sy hoedanigheid as akteur aangekla, en nie as vervaardiger van die fliek nie.

Alec Baldwin (Foto: Mark Sagliocco / Getty Images / North America)

Volgens die akteursunie SAG-AFTRA is die aanklagte geskoei op die “verkeerde evaluering van die werklike take van ʼn akteur”.

“ʼn Akteur se werk is nie om ʼn vuurwapenkenner te wees nie. Vuurwapens word verskaf vir die gebruik op ʼn rolprentstel onder die toesig van verskeie kenners wat direk verantwoordelik is vir die veiligheid en akkurate hantering van die vuurwapen.”

Hannah Gutierrez-Reed, die fliek se wapensmid, was verantwoordelik vir die verskaffing en onderhoud van die wapens op die stel van Rust. Sy sal later vandeesmaand in die hof verskyn op aanklagte van onwillekeurige manslag en die inmenging met bewysstukke.

Dave Halls, die fliek se veiligheidskoördineerder en assistentregisseur wat die vuurwapen aan Baldwin oorhandig het toe die voorval plaasgevind het, het ingestem tot ʼn pleitooreenkoms met die staat en is tot ses maande probasie gevonnis.

Die verfilming van Rust, wat deur die tragedie tot stilstand geruk is, is verlede jaar hervat. Die kinematograaf se wewenaar, Matthew Hutchins, het reeds ʼn skikkingsooreenkoms met die vervaardigers van die fliek bereik en het verder as uitvoerende vervaardiger vir die projek opgetree.

Souza het ook na die stel teruggekeer en het gesê dit sal “bittersoet” wees om die fliek te voltooi en dat die rolverdeling en span van die fliek “toegewyd is om klaar te maak wat ek en Halyna begin het”.

Baldwin is steeds op borgtog.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Hy het miskien die sneller getrek maar my gooiste iemand moes daai geweer “safe” gemaak het en ge check het voor dit aan Alex Baldwin oorhandig is. Maar toe Alex Baldwin die geweer ontvang moes hy weer ge check het. Ander is ook hier skuldig.

Seef ·

Belaglik. Dit is nie die akteur se werk om seker te maak die wapen is veilig nie. Daarvoor is daar ‘n spesiale deskundige aangestel ” prop master” om dié werk te verrig. Blameer die persoon wie dit toekom.

Oosieoos ·

As jy a vuurwapen lisensie besit moet jy ten alle tye seker maak hy is veilig of jy is net so skuldig

Niklaas ·

My ouma het altyd gesê “Die duiwel laai soms vuurwapens sonder dat mens dit besef ”
Enige hof sal beslis dat ‘n redelik verstandige mens (Diligense paterfamilias) moes met die nodige sorg , daardie wapen eers weer nagegaan het , om seker te maak daar is nie lewendige rondtes in die wapen , voordat die sneller getrek word nie. Die hele gebeure was steeds ongelukkig , tragies en onnodig.

Cherokee ·

Interessant dat mense wat opinies wil uitspreek oor wat gebeur het, nie eens die verskil ken tussen ‘n handwapen en geweer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.