Alec Baldwin-skietery ‘’n ongeluk’ – verslag

Alec Baldwin (Foto: Mark Sagliocco / GETTY IMAGES NORTH AMERICA)

’n Verslag wat bekend gemaak is ná die nadoodse ondersoek van Halyna Hutchin, die kinematograaf wat verlede jaar op die stel van die rolprent Rust doodgeskiet is, dui daarop dat haar dood ’n ongeluk was.

Die Amerikaanse akteur Alec Baldwin is in die sop nadat ’n Colt-rewolwer op 21 Oktober tydens ’n kleedrepetisie op die stel in Nieu-Mexiko afgegaan en Hutchin getref is. Die vuurwapen was veronderstel om ’n “cold gun”, ’n ongelaaide wapen en dus sonder ammunisie, te wees.

Joel Souza, die regisseur, is in die proses gewond.

CBS News berig die nadoodse verslag is Maandag deur die Nieu-Mexiko se mediese ondersoeker bekend gemaak. Talle verslae van die FBI wat ná die voorval oor die rewolwer en ammunisie ingesamel is, is ook bekend gemaak.

Die verslag van Nieu-Mexiko se mediese ondersoeker dui op “die afwesigheid van duidelike opset om skade of dood te veroorsaak”.

Aanklaers het nog nie besluit of enige aanklagte in die saak aanhangig gemaak sal word nie, en sê hulle sal die jongste verslae hersien en wag op inligting van Baldwin se prokureurs. Speurders het reeds in Desember toestemming gekry om beslag te lê op Baldwin se selfoon as bewysstuk.

Hoewel dit te vroeg is om te sê hoeveel gewig die mediese ondersoeker se verslag sal dra, het Baldwin se regspan voorgestel dat dit ʼn verdere bewys is dat die skietery “ʼn tragiese ongeluk” was en dat hy nie krimineel vervolg behoort te word nie.

“Dit is die derde keer dat die owerhede in Nieu-Mexiko bevind dat Baldwin nie geweet het van die beweerde onveilige toestande op die stel nie. Die persoon wat in beheer van veiligheid op die stel was, het vir hom gesê dat die rewolwer nie gelaai is nie en hy het geglo die wapen is veilig,” het sy regsverteenwoordiger, Luke Nikas, in ʼn verklaring gesê.

Hannah Gutierrez-Reed, die wapenbewaarder op die stel, word ook in die hofstukke – wat beweerde nalatigheid aanvoer – betrek.

Baldwin het in Desember tydens ’n onderhoud met ABC News gesê hy het die rewolwer op Hutchin se instruksies op haar gerig, toe dit afgegaan het. Hy hou vol dat hy nie die sneller getrek het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Hy kon maar net iemand se word vat dat die geweer veilig is, maar nogtans enige iemand wat ‘n geweer by iemand anders neem, moet eers self seker seker maak dat die geweer veillig is. Ek weet ek sit my geweer veillig weg na skoonmaak of gebruik, maar as ek hom weer uit die kluis uithaal om skoon te maak of te gaan skiet, dan maak ek hom eers weer veillig…….elke elke keer. Jy slip noot op met ‘n geweer.

Daizee ·

JohanR jy bevesitig net dat in die geval van énige wapen – kennis en verantwoordelikheid waarborg veiligheid!

Daizee ·

As mnr. Baldwin dalk minder anti-wapen was en moeite gedoen het om meer van wapens af te weet kon hy self seker gemaak het die wapen is veilig en hoef hy nie op ‘n ander man se woord staat te gemaak het nie!! Dis tragies dat sy onkunde iemand haar lewe gekos het!!

KatjieDeKat ·

Maar die punt is, dit was n tragiese Ongeluk. Ek hou nie van Alec Baldwin nie maar laat ons regverdig wees. Die persoon verantwoordelik vir die wapens moes sy/haar werk behoorlik gedoen het!

annie ·

Skoot gaan toe sommer self af. Miskien moes hy maar eerder nie dit gesê het nie. ET het seker nie ‘n rol in die fliek gehad nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.