Amerika dood nóg ’n Al Kaïda-leier in reaksie op 9/11

Die Al Kaïda-leier Ayman al-Zawahiri. (Foto verskaf deur AFP)

Die Al Kaïda-leier Ayman al-Zawahiri is die naweek in ’n Amerikaanse hommeltuigaanval in Afghanistan gedood.

Zawahiri – wat Al Kaïda oorgeneem het nadat Osama bin Laden in 2011 deur Amerikaanse spesiale magte gedood is – word sedert die 9/11-terreuraanvalle in 2001 gesoek. ’n Beloning van $25 miljoen is sedertdien uitgereik vir inligting wat Amerikaanse magte na Zawahiri kon lei.

Pres. Joe Biden sê nou die Al Kaïda-leier se dood bring berusting vir die families van die 3 000 mense wat destyds in die 9/11-terreuraanvalle vermoor is.

“Geregtigheid het geskied en hierdie terreurleier bestaan nie meer nie,” het Biden Maandag aangekondig nadat hy verlede week die finale goedkeuring gegee het dat Zawahiri in die Afghaanse hoofstad Kaboel gedood kan word.

Volgens ’n senior administrasiebeampte het Zawahiri Sondag kort ná sonsopkoms op die balkon van ’n huis in Kaboel gestaan toe twee Hellfire-missiele afgevuur is.

“Ons is nie bewus daarvan dat hy ooit dié skuilplek verlaat het nie. Ons het Zawahiri op verskeie geleenthede vir ’n lang tydperk op die balkon geïdentifiseer waar hy uiteindelik getref is,” het die amptenaar gesê.

Dit was die eerste bekende aanval deur die Verenigde State op ’n Al Kaïda-teiken in Afghanistan sedert Amerikaanse magte op 31 Augustus 2021 uit die land onttrek het. Geen Amerikaanse soldaat was in Afghanistan ten tyde van die aanval nie.

Rook borrel op 11 September 2001 uit die World Trade Center. (Foto: HENNY RAY ABRAMS / AFP)

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, het Maandagaand gesê die Taliban het die Doha-ooreenkoms wat in 2020 onderteken is, “gruwelik geskend deur Zawahiri te huisves”.

Die Taliban het ingevolge die Doha-ooreenkoms van 2020 belowe om nie toe te laat dat Afghanistan weer as ’n lanseerplek vir internasionale djihadisme gebruik word nie, maar kenners meen die groep het nooit sy bande met Al Kaïda verbreek nie.

“Wat ons weet, is dat die senior Haqqani Taliban bewus was van [Zawahiri] se teenwoordigheid in Kaboel,” het die Amerikaanse senior administrasiebeampte gesê.

Die Afghaanse ministerie van binnelandse sake het die naweek sosialemediaberigte van ’n hommeltuigaanval in Kaboel ontken en aan AFP gesê ’n vuurpyl het “’n leë huis” in die hoofstad getref.

Volgens die ministerie is niemand tydens die aanval dood nie.

Zabihullah Mujahid, woordvoerder van die Taliban, het egter Dinsdag vroegoggend getwiet dat ’n “lugaanval” op ’n woning in die Sherpur-gebied van Kaboel uitgevoer is.

“Die aard van die voorval is eers nie bekend gemaak nie. Die veiligheids- en intelligensie-agentskappe van die Islamitiese Emiraat het die voorval ondersoek en in hul voorlopige ondersoeke gevind dat die aanval deur Amerikaanse hommeltuie uitgevoer is,” lui die twiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan ·

Daar is maar baie aan daardie storie wat nie sin maak nie. Hoe op aarde het hulle dit reg gekry. En nou skielik na soveel jaar word nog n skuldige uitgewis. Wat gee Amerika inelkgeval die reg om mense sommer tereg te stel, is dit nie ook maar n “inval” in n ander land nie? Of mag hulle dit doen, net soos die honderde aanvalle in Yemen? Julle het lekker dubbele standaarde as dit by die VSA kom.

Treurwilger ·

Stem saam, Johan.
Om ‘n stokou, onaktiewe ou terroris uit die bloute met ‘n “drone” uit te vat, is bloot ‘n poging om die aandag van hul misrabele vertoning op politieke front af te lei.
Dis onnodige haatstoking, verwag die volgende “twin tower”- tipe wraakaanval.

Heinrich ·

Die hellfire misiele was toe heel profeties vir sy toekoms…

Hendrik ·

Knap gedaan. Wat nou nodig is, is vir gemadigde Moslems om hulle steun vir die uitwissing van hierdie terroris uit te spreek. Of is hulle nie bly daaroor nie?

dada ·

Net jammer daardie daad gaan net nuwe haat kweek teenoor die Weste. “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.” Haat kweek haat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.