Amsterdam-lughawe sal magdom toeriste vergoed

Toue by Schiphol-lughawe. (Foto: Jeroen Jumelet/ANP/AFP)

Goeie nuus wag op die magdom toeriste wat gedurende die Europese somer ʼn vlug van die Amsterdamse lughawe moes haal, maar dit verpas het weens ellelang toue.

Die Schiphol-lughawe in Amsterdam, een van die besigste lughawens in Europa, sal nou passasiers vir hul verpaste vlugte vergoed en vir enige ander bykomende uitgawes wat weens die vertragings aangegaan is.

“Baie mense het uitgesien na hul vakansies in die buiteland, veral ná twee jaar van die Covid-19-pandemie wat internasionale reise beperk het,” het Dick Benschop, uitvoerende hoof van Schiphol, gesê.

“Ons is baie jammer dat sommige mense hul vlugte verpas het weens die lang veiligheidsbeheertoue. Ons weet van baie mense wat ʼn gedeelte of hul hele vakansie misgeloop het en ons het regtig simpatie daarmee.”

Soos verskeie ander lughawens in Europa, het die Nederlandse lughawe die afgelope paar maande grootskaalse ontwrigting ervaar. Dit is glo as gevolg van personeeltekorte wat weens die Covid-19-pandemie veroorsaak is.

Die lughawe, en die hele lugvaartbedryf, skarrel nou om poste te vul nadat hulle duisende mense tydens die pandemie afgedank het.

Heathrow, die lughawe aan die weste van Londen, het selfs in Julie lugrederye gevra om voorlopig die verkope van vliegkaartjies op ys te plaas vir reisigers wat gedurende die Europese somervakansie van dié lughawe af wil vertrek. ʼn Tekort aan personeel is ook toegeskryf as die rede vir die stampvol lughawe.

Die vergoedingskema wat die Schiphol-lughawe intussen bekendgestel het, is in oorleg met ʼn Nederlandse verbruikersgroep uitgewerk. Dit sal die koste terugbetaal wat aangegaan is deur reisigers wat vlugte tussen 23 April en 11 Augustus verpas het.

Dié uitgawes sluit in vlugte wat weer bespreek moes word of plaasvervangingvlugte wat bespreek is, alternatiewe vervoer wat verkry moes word of verblyfkoste wat naby Schiphol aangegaan is.

Reisigers wat dié soort uitgawes moes aangaan, het tot einde September om ʼn eis in te dien.

Passasiers wat deur Schiphol reis, het by verskeie geleenthede gesê dat hulle nie vlugte kon haal nie nadat hulle ure lank in lang toue vasgesit het wat tot buite die terminaalgebou gestrek het.

Schiphol het sedert Julie die aantal passasiers wat die lughawe mag ingaan, beperk. Dié beperking sal na verwagting tot Oktober voortduur in ʼn poging om die toue korter te maak. Volgens die lughawe is “feitlik alle afdelings binne die lughawe onderbeman”.

Hoewel die aantal toeriste na verwagting ná Augustus sal verminder, verwag die lughawe dat daar nietemin lang wagtydperke gaan wees weens die koue weer wat mense noop om baie lae klere te dra en dus veiligheidsbeheertoue se vloei vertraag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Ek het in Junie vir 80 minute in ‘n doane ry gestaan op Schiphol. Net 1 uit die 6 doane hokkies was beman gewees, maar die persone wat uit panniek in opstand gekom het is vinnig deur die sekuriteit gedreig.

Volgens my was dit uiters swak beplanning deur Schiphol (en Heathrow / da Vinci / de Gaulle) bestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.