Australië maak nekskerms verpligtend teen snelboulers

Die Aussies se David Warner tydens die span se kragmeting met Suid-Afrika. (Foto: Phil Magakoe/AFP)

Australiese kolwers sal voortaan nekbeskerming op hul kolfhelms moet dra wanneer hulle teen medium- of snelboulers in die 2023-’24-seisoen te staan kom, het Krieket Australië Donderdag bekend gemaak.

Die beheerliggaam het aanbeveel dat nekskerms gebruik word nadat die Australiese kolwer Phil Hughes in 2014 dood is toe ʼn bal hom tydens ʼn wedstryd in Sydney in die nek getref het.

Ster-spelers soos Usman Khawaja, Steve Smith en David Warner het hulle egter teëgesit teen die dra van die bykomende stutte, maar dit sal voortaan tydens wedstryde vir mans en vroue verpligtend wees wanneer die nuwe seisoen vroeg volgende maand begin.

“Beskerming van die kop en nek is geweldig belangrik in ons sport,” het Peter Roach, bedryfshoof van Krieket Australië, in ʼn verklaring gesê.

Volgens hom berus die besluit op “heelwat insette en raadpleging van ʼn groot verskeidenheid kundiges en belanghebbendes”.

Die besluit kom ʼn week nadat die veelsydige Australiese speler Cameron Green die veld met harsingskudding moes verlaat nadat ʼn aflewering van die Proteas se Kagiso Rabada die kant van sy kolfhelm in die span se eendagtoets teen Suid-Afrika getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Ek dink die reël behoort wêreldwyd toegepas te word.Dit sal veral jong en onervare kolwers beskerm teen ervare boulers wat opslagballe afstuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.