BBC verswyg naam van aanbieder in foto-skandaal

Foto bloot ter illustrasie van die BBC. (Foto: Mitch Hodge/Unsplash)

Tim Davie, hoof van die BBC, het Dinsdag daarop aangedring dat die identiteit van ʼn hoëprofiel-aanbieder, wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn tiener betaal het vir seksueel eksplisiete foto’s, nié bekend gemaak word nie.

Dié mansaanbieder van die BBC is geskors nadat ʼn verdoemende mediaberig verlede week die lig gesien het. Die aanbieder word in dié berig van die poniekoerant The Sun daarvan beskuldig dat hy oor drie jaar £35 000 (sowat R845 000) betaal het vir eksplisiete foto’s van ʼn tiener.

Daar word sedertdien op sosiale media bespiegel oor wie die aanbieder is.

Die Daily Mail berig dat “een uit ses” Britte weet wie die aanbieder is.

Davie van die BBC hou egter vol daar bestaan vasgestelde “prosesse en protokol” en dat dié uitsaaier ʼn plig van sorg teenoor alle betrokkenes in die skandaal het. “Ons neem hierdie sake altyd ernstig op en probeer om dit met sorg te bestuur,” het hy Dinsdag aan verslaggewers gesê.

Die vermeende slagoffer se familie beweer in die berig van The Sun dat transaksies tussen die aanbieder en hul kind drie jaar gelede begin het toe dié 17 jaar oud was. Die tiener het glo die geld vir dwelms gebruik.

Die vermeende slagoffer (nou 20 jaar oud) se regspan het egter intussen ʼn regsbrief uitgestuur waarin daar aangevoer word dat daar hoegenaamd geen waarheid in The Sun se berig steek nie.

“Dis snert … Niks onvanpas of onwettig het tussen ons kliënt en die BBC-persoonlikheid plaasgevind nie,” sê die vermeende slagoffer se regsverteenwoordiger.

Luidens die regsbrief het die vermeende slagoffer boonop The Sun gevra om nie die bewerings te publiseer nie.

Die skandaal het sedertdien die aandag gevestig op Brittanje se verwikkelde en toenemend streng privaatheidswette. Die Britse media is tans baie versigtig om iemand se identiteit te openbaar voordat die persoon formeel ondersoek of in hegtenis geneem word.

Die BBC is juis in 2018 gedwing om aansienlike skadevergoeding vir privaatheidsbreuk aan die sanger Cliff Richard te betaal nadat die Britse uitsaaier regstreekse beeldmateriaal van ʼn 2014-polisieklopjag op sy huis uitgesaai het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

HPJ ·

Die BBC is in elk geval net n liberale spreekbuis wat uit hulle pad gaan om normale christelike waardes af te breek en die famalilie as n INSTELLING te probeer vernietig Nuus is nie hulle sterkpunt nie Ek dink hulle het laas in Churchill se tyd iets gepubliseer wat op feite gebasseer is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.