Bitcoin duik ná Chinese waarskuwing

‘n Bitcoin-mynsentrum op ‘n olieveld in Texas in die VSA. (Foto: Matt Lohstroh/AFP)

Bitcoin het Woensdag vir die eerste keer in drie maande tot minder as $39 000 – sowat R547 000 – geduik nadat China gewaarsku het dat kriptogeld nie toegelaat word vir transaksies nie. Die land het ook gewaarsku teen spekulatiewe handel daarin, ten spyte daarvan dat China die meeste van die wêreld se sogenaamde myn van kriptogeld aandryf.

Die opmerking het die eenheid met meer as 10% laat tuimel en was nog ʼn slag kort nadat dit ook houe gevat het weens opmerkings van die sakemagnaat Elon Musk en sy Tesla-motormaatskappy.

Die handel in kriptogeld word sedert 2019 in China verbied om geldwassery te voorkom en mense te keer om hul kontant na die buiteland te verskuif. Die land was voorheen die tuiste van sowat 90% van wêreldwye handel in die bedryf.

In ʼn verklaring het drie staatgesteunde nywerheidsverenigings gesê “kriptogeldpryse het die hoogte ingeskiet en getuimel waarna spekulasiebedrywighede in kriptogeld weer kop opgetel het”.

Die prysskommelings “skend mense se bateveiligheid baie erg en ontwrig die normale ekonomiese en finansiële bestel”, lui die verklaring wat deur die People’s Bank of China op sosialemediaplatforms gedeel is.

Die kennisgewing waarsku verbruikers teen wilde spekulasie en die verliese wat hulle kan ly omdat Chinese wetgewing hulle glad nie daarteen beskerm nie.

Dit benadruk ook dat dit onwettig is vir Chinese finansiëlediensverskaffers om kriptogelddienste en  kriptogeld-gebaseerde finansiële produkte aan klante te verskaf.

Ondanks die verbod kan Chinese beleggers egter steeds maniere vind om kriptogeld deur onwettige handelaars te koop.

Bitcoin het Woensdag van $45 600 tot $38 570 gedaal, die laagste vlak sedert vroeg in Februarie en heelwat minder as die rekordhoogtepunt van $64 870 wat verlede maand behaal is. Dit het later teruggeval na meer as $40 000, maar ontleders waarsku die eenheid kan selfs tot $30 000 terugsak.

Bitcoin het die afgelope paar dae wipplank gery. Dit het aan die begin van die week kwaai houe gevat nadat Musk oënskynlik daarop gewys het dat Tesla beoog om sy groot voorraad van die eenheid te verkoop. Dit het gevolg enkele dae nadat die elektriesemotorreus aangekondig het hy gaan kriptogeld weens omgewingskommer ook nie meer in transaksies gebruik nie.

“Elon Musk het die bal aan die rol gesit. Dit gaan ʼn geruime tyd duur voordat hulle van hierdie skok herstel,” het Timo Emden, ʼn Duitse kripto-ontleder, gesê.

Die ontginning, oftewel myn, van kriptogeld is ʼn energie-intensiewe proses wat groot hoeveelhede elektrisiteit en reusedatasentrums vereis.

China, wat sowat 80% van die wêreldwye kriptogeldhandel aandryf, maak staat op ʼn besonder besoedelende soort bruin steenkool, bekend as ligniet, om sommige van sy mynwerk aan te dryf.

“As bitcoin ʼn land was, het dit nagenoeg dieselfde hoeveelheid krag per jaar verbruik om te myn as wat Switserland in die geheel benodig,” het ʼn ontleder van Deutsche Bank gesê.

Bykomende verslaggewing deur Bloomberg News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wakkerslaper ·

Moet eerlik sê, die geld en groei op my beleggings wat ek al op hierdie “foefie” gemaak het was nie te kunsmatig nie… ????????????

piper ·

ek hou maar verby. verstaan dit nie. dit maak net smokkelhandel makliker en die skelms hou van bidcoin.

Kruidjie-roer-my-nie ·

Maroela media: van van ñ in diepte artikel wat verduidelik in leke taal hoe hierdie “bitcoin myn” werk? Baie van ons verstaan dit glad nie. Hoe kan “niks” of 0e en 1e waarde hê?

johann ·

Bitcoin is deur skelms ontwerp om skelm transaksies te verdoesel. Ek hoop die geldgieriges wat dink hulle gaan ryk word daar uit word net so hard geslaan as die wat in hulle onnoselheid dink dat hulle geld kan maak met piramideskemas.

marius ·

Monopoly geld kan ook mos werk . Ek het vier hotelle en agtien huise wat as sekuriteit dien .Wat het bitcoin ? “n Biljoen goue balonne ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.