Blinken na Israel vir taai gesprekke oor Gaza

(Foto: Menahem Kahana/AFP)

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, word weer in Israel verwag vir “moeilike gesprekke” oor die konflik in Gaza, namate vrese ontstaan dat die oorlog tussen Israel en Hamas nou verder in die streek sal uitkring.

Blinken het Sondag in Katar gesê die inwoners van Gaza wat weens die vier maande lange oorlog ontheem is, moet toegelaat word om “huis toe te keer”, terwyl hy gemaan het dat die geweld tussen die twee gebiede “maklik in ʼn streekkonflik kan verander”.

Sedert die begin van die konflik tussen Israel en Hamas, het voorvalle van geweld in die Wesoewer en op Israel se noordelike grens met Libanon toegeneem. Jemen se Houthi-rebelle het boonop meer as 100 hommeltuig- en vuurpylaanvalle na teikens in die Rooisee en Israel gelanseer.

Blinken sal Saoedi-Arabië Maandag besoek voordat hy in Israel aankom waar hy Dinsdag samesprekings met Israeliese leiers sal hou. Dit sal die vierde keer wees wat die VSA se minister van buitelandse sake die gebied besoek.

Die VSA is een van Israel se vernaamste bondgenote en voorsien die land gereeld van miljarde dollar se militêre hulp. Die VSA is egter toenemend bekommerd oor die burgerlike sterftes in Gaza wat week ná week toeneem.

Washington sê dat Blinken druk op Israel sal plaas oor sy nakoming van internasionale humanitêre reg en gaan vra vir “onmiddellike maatreëls” om hulp aan Gaza te verleen.

Hamas se departement van gesondheid het Maandag gesê agt mense is dood in ʼn aanval naby Deir al-Balah in sentraal-Gaza.

Die konflik tussen Gaza en Israel het in Oktober verlede jaar ontstaan toe Hamas ʼn aanval op Israel geloods het wat die lewe van sowat 1 140 mense geëis het. Hamas, wat deur die VSA en die Europese Unie (EU) as ʼn terreurgroep beskou word, het ook 250 gyselaars geneem, waarvan 132 steeds in aanhouding is. Minstens 24 gyselaars is vermoedelik dood.

Sedertdien het Israel meedoënlose aanvalle op Gaza geloods. Volgens Hamas is meer as 22 000 mense reeds in die konflik dood, en minstens 85% van sy 2,4 miljoen bevolking ontheem.

Twee joernaliste verbonde aan die nuusagentskap Al Jazeera is ook onlangs in ʼn aanval op Gaza dood.

Blinken het die voorval as ʼn “ongekende tragedie” beskryf. Die komitee om joernaliste te beskerm sê minstens 79 joernaliste en lede van die media is sedert die begin van die konflik dood.

Israel se weermag het onlangs onthul dat sy troepe ʼn ondergrondse “wapenproduksieterrein” in die noorde van Gaza ontdek het wat glo deur Hamas bedryf word.

Benjamin Netanyahu, premier van Israel, het Sondag opnuut by ʼn kabinetsvergadering verklaar dat “wat op 7 Oktober gebeur het, nie weer sal gebeur nie”.

“Dit is die verbintenis van my regering en dit is die rede waarom ons soldate hul lewens opoffer.”

Geweld vlam op

In die Wesoewer, wat sedert 1967 deur Israel beset word, het geweld die afgelope tyd opgevlam.

Sewe Palestyne is Sondag in die noordelike stad Jenin dood en nog ʼn persoon is in ʼn afsonderlike voorval dood.

ʼn Israeliese grensbeheerbeampte is dood toe ʼn bom haar voertuig tydens ʼn klopjag op Jenin getref het. ʼn Israeliese burger is ook dood in ʼn afsonderlike skietery naby Ramallah.

Voorvalle van geweld het ook langs Israel se noordelike grens voortgeduur.

Die politieke party en militantegroep Hezbollah van Libanon het Saterdag gesê hy het 62 vuurpyle op ʼn Israeliese militêre basis gelanseer, slegs dae nadat dit Israel die skuld gegee het vir ʼn aanval in Beiroet wat die lewe van ʼn adjunkleier van Hamas, Saleh al-Arouri, geëis het.

Die Israeliese weermag het gesê dat dit Hezbollah se “militêre terreine” in reaksie op die aanval geteiken het.

Daniel Hagari, woordvoerder van die Israelse weermag, het Hezbollah ook gewaarsku om nie “Libanon in ʼn onnodige oorlog in te sleep” nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ore ·

As ek so luister en lees is dit net Israel wat skiet? Hoop maar VSA sal die oorlog kan stopsit. Wat is nog daar om te skiet? Alles wat gestaan het is reeds verwoes. Wanner gaan die voorsangers van oorlog besef dat nie gaan oor ” who’s right” maar “who’s left?”

Anel ·

Almal is nou kwaad vir Israel! Wat moes hulle doen? Terug sit en maar toelaat dat Hamas 1400 mense vermoor en niks daaromtrent doen nie? Hulle is deur terroriste aangeval en verdedig hulle self. Nou skree Hamas die hardste oor kastige oorlogd misdade teen Israel!!! Lafaards!!!!!

Vincent ·

Die som dit die beste op :
“The popular folk saying asserts, “He who becomes compassionate to the cruel will ultimately become cruel to the compassionate.” This adage, whose origins are in the Midrash of our Sages (see below), is utilized these days regarding the government’s treatment of Arab terrorism, since the beginning of the present wave of violence, called “intifada”, which has lasted more than twelve years with no end in sight. More specifically, the reference is to the government’s treatment of terrorism since the signing of the Oslo Accords, as on the one hand, it declares its commitment to a continued war on terrorism, while at the very same time, supplies weapons to organizations which have not abandoned the path of terrorism and refrains from targeting individuals with whom they are engaged in “peace” negotiations, though those same individuals are responsible for the continued terrorist activity against Israel.”

Sedert die dae van Jasser Arafat (wat die wereld as n terroris bestempel het en die ANC as vriend)
Het die wereld nogsteeds nie geleer nie , die enigste manier hieruit is om daardeur te gaan , Ek ondersteun nie die Zioniste nie , maar wel Israël as staat, hulle is die laaste linie as Israël val is die RES van die wereld volgende en moenie dink ons in Suid Afrika gaan daai chaos Vryspring nie , dit gaan net so erg hier gaan indien nie erger nie

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

Die “Palestyne” moet emigreer na die Arabiese state of Iran of Rusland. Die Arabiese state het groot gronde beskikbaar. ‘n Twee-staat oplossing is ‘n onuitvoerbare drogbeeld.

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

In holistiese geopolitiese perspektief: Die nie-Westerse lande voel minderwaardig teenoor en jaloers op die Westerse lande se ekonomies/tegnologiese/kulturele voorspoed en suksesse.

John ·

Israel doen wat julle gese het julle sal doen en dan stuur al die oorblywendes Rusland toe. Suid Africa bly uit iets wat julle niks van weet nie en probeer liewer om ons land te red.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.