Boris Johnson oorleef mosie van wantroue

Boris Johnson (Foto: Tolga AKMEN / AFP)

Boris Johnson bly aan as Britse eerste minister.

Johnson het Maandagaand ʼn mosie van wantroue oorleef wat sy Konserwatiewe Party (Tories) teen hom ingestel het in die lig van die sogenaamde “Partygate”-skandaal.

Altesaam 59% van die stemme was ten gunste daarvan dat Johnson in sy amp aanbly. Dit blyk egter dat die premier se gesag tog skade gely het, aangesien meer as 40% van Tory-LP’s aangedui het dat hulle nie vertroue in hom het nie.

Altesaam 211 LP’s het gestem dat hulle vertroue in Johnson se leierskap het, terwyl 148 teen hom gestem het.

BBC berig Johnson het minder stemme ontvang as die voormalige premier Theresa May (63%) toe sy ʼn mosie van wantroue in 2018 oorleef het. May het ses maande daarna bedank weens ʼn dooiepunt oor die destydse Brexit-ooreenkoms.

Downing Street sê Maandagaand se stemuitslag “hernu die eerste minister se mandaat” en laat die Britse regering toe om “meedoënloos te fokus op die kwessies wat ons kiesers kwel”.

Sir Keir Starmer, die leier van die Arbeidersparty, wys egter nou daarop dat Johnson se Konserwatiewe Party “verdeeld” is.

Die liberaal-demokratiese leier, sir Ed Davey, het op sy beurt gesê Johnson kon dalk daarin slaag om aan bewind te bly, maar “sy reputasie is aan flarde en sy gesag nou heeltemal daarmee heen”.

Maroela Media het vroeër berig ʼn verdoemende interne ondersoek het verlede maand bevind dat Johnson tydens die inperking ʼn “kultuur van partytjies” in Downingstraat toegelaat het.

Johnson is onder die talle mense in Downingstraat wat boetes van die polisie ontvang het vir die oortreding van die Covid-19-regulasies. Johnson en sy party het onder hewige kritiek deurgeloop oor die partytjies wat tydens die Covid-19-inperking in Downingstraat plaasgevind het, terwyl Britse burgers in hul huise vasgekluister was.

Die mosie van wantroue volg boonop op ʼn onstuimige drie jaar vir Johnson, waartydens die premier onder hewige kritiek deurgeloop het oor die instelling van Brexit en Brittanje se reaksie op die Covid-19-pandemie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Dries ·

Daar hou hulle net partytjie en hulle gooi jou uit.
Moordenaars, korruptes, diewe sit ons parlement vol. Dit is die verskil tussen 1e en 3e wereld

Dries ·

Boris Johnson is op die oomblik een van die sterkste leiers in die wereld

Rudi ·

Die regulasies was in elke geval ‘n klug. Hulle moes bietjie “unwind”

annie ·

Onthou hy het ‘n besoek aan Zelenskyy gebring… en betower teruggekom. Nou sien hy kans vir enigiets…. met sy nuwe jong vroutjie aan sy sy. Die Pous beplan glo ook ‘n besoek vir ‘n oudiënsie aan sy edele die kordate grapjas van Kïev. Sien? CR benodig dalk ook nou ‘n vinnige geheime blitsbesoek via Dubai, Duitsland en Pole.

Treurwilger ·

“sy edele die kordate grapjas”
Kan nie anders as lekker giggel hiervoor nie!

stargazer ·

Dit gaan nie oor die drinkery nie, dit gaan oor die feit dat hulle almal gelockdown het oor vreese van n vernietigende virus, wat Hulle (govermen) nie geglo het nie, want al hulle reels het hulle geignoreer. Maw dit was vals. Hy is klaar

annie ·

… en sovele het gehoop Borrie en Kerrie gaan vir die volgende 70 jaar die party se naam hoog hou…

Charl ·

Lekker ou Boris, geniet dit terwyl jy kan, die lewe is te kort !

annie ·

Boris en Cyril (John ken die pad) sal maar (weer) na Oekraïene móét reis vir vrywaring, seënwense en wêreldwye tv-blootstelling saam met die visioenêre-afperser (met elke land se achilleshiel in gedagte), bv die VSA vir hul 46 giftige chemiese biolabs so op Rusland se grens. Dit sal kos maar ons het mos ‘n wapenfabriek wat oulike goedjies maak. Vra net eers toestemming van die Guptabase.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.