Botswana se Tebogo soek dubbelgoud by Spele

Letsile Tebogo, naelloopsensasie van Botswana. (Foto: X)

Letsile Tebogo, naelloopsensasie van Botswana, beoog om die eerste Afrika-atleet te wees om as wenner weg te stap in items wat vantevore deur sy held, Usain Bolt, oorheers is.

Die 20-jarige atleet van ʼn land bekend vir sy diamante, het goud by vanjaar se Olimpiese Spele in sy visier. Tebogo, ʼn 100 m- en 200 m-atleet, word in Junie vanjaar 21 jaar oud en dit sal waarskynlik vir hom die ideale (laat) verjaarsdaggeskenk wees om dié mylpaal te behaal.

Bolt spog met agt Olimpiese goue medaljes en is die enigste naelloper wat drie agtereenvolgende Spele (2008, 2012 en 2016) oorheers het. Die Jamaikaan het 11 medaljes by wêreldkampioenskappe tussen 2007 en 2017 ingeoes.

Ná sy se silwermedalje in die 100 m en sy derde plek in die 200 m in Boedapest verlede jaar, het Tebogo sy visier selfs hoër gestel.

“Hy [Bolt] is my held, die mens na wie ek die meeste opkyk. Wat hy bereik het, was werklik ongelooflik.”

Tebogo het Bolt oor die jare op die TV dopgehou en sê syne is ʼn naam wat almal onthou.

“Ek sal daarvan hou dat hulle my ook onthou wanneer ek my drafskoene ophang,” sê die atleet van die Universiteit van Oregon aan die Amerikaanse weskus.

Letsile Tebogo. (Foto: X)

“Ek hoef nie die nommer een van alle tye te wees nie; om onder die topdrie te wees, sal goed genoeg wees.”

Tebogo het in Kanye, suid van Botswana se hoofstad Gaborone, grootgeword.

Sy toewyding getuig van ʼn plan wat veel verder strek as Botswana.

“Die tyd het aangebreek vir Afrika-atlete om naelloopbyeenkomste op die internasionale verhoog te oorheers,” het hy gesê.

Daar was nog nie voorheen ʼn atleet van Afrika wat die topdrie in die 100 m by ʼn wêreldkampioenskap kon haal nie – tot Tebogo dit verlede jaar in die Boedapest-stadion reggekry het.

Hy het 9,88 sekondes gehaal, 0,30 sekondes meer as die wêreldrekord wat Bolt in 2009 opgestel het toe hy tweede, ná die Amerikaner Noah Lyles, in die finaal geëindig het.

Lyles het ook die 200 m in die Hongaarse hoofstad gewen, gevolg deur sy landgenoot Erriyon Knighton, met Tebogo derde – ʼn skamele 0,29 van ʼn sekonde agter die kampioen.

Die twee medaljes was die eerste wat by ʼn wêreldkampioenskap deur ʼn atleet van Botswana gewen is. Landgenoot Amantle Montsho het goud en silwer in die 400 m vir vroue by die wêreldkampioenskap in onderskeidelik 2011 en 2013 verower.

Tebogo se ma, Seratiwa, ook ʼn voormalige atleet, speel ʼn sleutelrol in sy lewe.

Sonder sy medewete het Seratiwa ʼn vlug na Boedapest gehaal en later aan ʼn Gaborone-radiostasie oor haar voorwedloop-senuwees om haar seun dop te hou, vertel.

Letsile Tebogo. (Foto: X)

“Hoekom was ek senuweeagtig? Daar is altyd die vrees vir ʼn ongelyke begin, diskwalifikasie, of dat hy ʼn spier kan verrek of ʼn ander besering kan opdoen.”

Sy ma was dalk angstig, maar Tebogo was heel ontspanne en het later gesê dat “my gedagtes helder was; dit moet wees omdat jy nie ʼn goeie wedloop kan hardloop as jy gestres is nie”.

“Ek ontspan voor wedrenne deur na tradisionele musiek uit my geboorteland te luister. Buiten die pragtige klanke, herinner dit my aan waar ek vandaan kom en wie ek verteenwoordig.”

Seratiwa sê uiteindelik hardloop Tebogo nie net vir Botswana nie.

“Hy dra die vlag vir die hele Afrika. Dit maak my uiters trots.

“Die wêreld beskou Letsile Tebogo waarskynlik as ʼn opkomende atletiekster, maar wanneer hy terugkom na Botswana is hy my nederige, eerbiedige seun.”

Seratiwa het opgemerk dat haar seun van kleins af lief was vir sport. Botswana, nes baie ander Afrika-lande, is groot sokkergeesdriftiges. Tebogo het met sokker gesukkel, maar het gou besef atletiek is sy groot liefde en was gou ʼn ster by agtereenvolgende o. 20-wêreldkampioenskappe.

In die Keniaanse hoofstad Nairobi in 2021 en in die Colombiaanse stad Cali een jaar later, het hy die 100 m gewen en tweede in die 200 m geëindig.

Tebogo het in Cali sy held Bolt nagedoen en vir silwermedaljewenner Bouwahjgie Nkrumie geglimlag terwyl hy oor die wenstreep geseil het.

“Geen disrespek was bedoel nie. Ek wou net hê almal wat by die huis kyk, moet die wedloop geniet – om hulle ʼn bietjie te herinner aan wat Usain destyds gedoen het,” het Tebogo verduidelik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.