Bowie-boedel verkoop musiekregte

David Bowie. (Foto: Stephen Chernin/AP)

David Bowie se boedel het die publikasieregte vir al sy musiek aan Warner Chappell Music (WCM) verkoop, het dié maatskappy Maandag gesê.

WCM het nie die finansiële voorwaardes van die ooreenkoms bekend gemaak nie, maar volgens handelspublikasies beloop die transaksie na raming $250 miljoen (sowat R4 miljard).

Die verkope van musiekregte aan groot maatskappye is die jongste tendens in die vermaakbedryf, met supersterre soos Bob Dylan en Tina Turner wat ook hul regte aan groot maatskappye verkoop het.

Bruce Springsteen, Stevie Nicks, Paul Simon, Motley Crue, The Red Hot Chili Peppers en Shakira het ook onlangs hulle musiekregte verkoop, met Springsteen s’n wat vir ʼn stewige $500 miljoen (sowat R8 miljard) aan Sony verkoop is.

Die Bowie-ooreenkoms sluit in honderde liedjies uit die rockpionier se loopbaan wat oor ses dekades gestrek het, waaronder treffers soos “Space Oddity”, “Changes”, “Life on Mars” en “Heroes”.

“Almal van ons by WCM is uiters trots daarop dat die David Bowie-boedel ons gekies het om die musiek van een van die mees grensverskuiwende, invloedrykste en blywende katalogusse in musiekgeskiedenis te bewaar,” het Guy Moot, hoof van WCM, gesê.

“Dit is nie net buitengewone liedjies nie, maar mylpale wat die rigting van moderne musiek vir ewig verander het.”

WCM is nou die eienaars van Bowie se werke as liedjieskrywer en kunstenaar. Die eienaars van ʼn liedjie se publikasieregte ontvang ʼn gedeelte van die inkomste uit ʼn aantal scenario’s, waaronder radiolugtyd en stroming, albumverkope en die gebruik in advertensies en flieks. Opnameregte beheer die reproduksie en verspreiding van ʼn liedjie.

Die Warner Music Group hanteer sedert 2013 die meeste van Bowie se katalogus en het verlede jaar opnames van 2000 tot 2016 hierby gevoeg.

Die aankondiging deur WCM kom slegs enkele dae voordat Bowie op 8 Januarie 75 jaar oud sou word, en op die sesde herdenking van sy afsterwe op 10 Januarie 2016.

Die Britse sanger en liedjieskrywer is in die ouderdom van 69 oorlede ná ʼn 18 maande lange stryd teen kanker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

RS ·

Dit doen jy as jy alreeds oorgenoeg…meer as wat jy kan tel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.