‘Chaos’ soos mense uit Soedan probeer vlug

Personeel van die VN word uit Port Soedan ontruim (24 April 2023) (Foto: AFP)

Duisende mense probeer tans uit Soedan vlug te midde van voortslepende konflik in dié land.

Matt Saltmarsh, ʼn woordvoerder van die Verenigde Nasies se Vlugtelingsagentskap (VNHKV), het die situasie in die land Vrydag as “chaoties” bestempel.

“Daar is groot getalle mense wat na die grense beweeg.”

Volgens Saltmarsh kan dié getalle honderdduisende wees. Baie van dié mense is vlugtelinge wat lank voor die konflik na dié Afrika-land getrek het.

Voordat die konflik begin het, het Soedan 1,13 miljoen vlugtelinge gehuisves. Die land het een van die grootste vlugtelingbevolkings in Afrika.

Onder hierdie vlugtelinge is ongeveer 800 000 Suid-Soedanese en 126 000 Eritreërs. Daar is ook 58 000 Ethiopiërs, wat hoofsaaklik in twee oostelike kampe gehuisves word.

Axel Bisschop, die VN se verteenwoordiger in Soedan, het Vrydag gesê tot soveel as 30 000 mense, hoofsaaklik Suid-Soedanese vlugtelinge, het suid van Khartoem na die Wit Nyl, nader aan hul eie grens, getrek.

Ethiopiese en Eritrese vlugtelinge beweeg ook nader aan hul eie grense.

Soedan het ongeveer 3,7 miljoen binnelandse ontheemde mense, meestal in die onstuimige westelike Darfoer-streek.

Die VN se Internasionale Organisasie vir Migrasie het Dinsdag gesê dat “ten minste 75 000 mense in Soedan deur die krisis ontheem is”.

In die Suid-Darfoer-streek is daar vermoedelik tot soveel as 37 000 mense in die stad Nyala verplaas.

Soedan grens aan Suid-Soedan, Tsjad, Egipte, Ethiopië, Eritrea, Libië en die Sentraal-Afrikaanse Republiek.

Die VN sê hy verwag drie scenario’s, naamlik Soedanese vlugtelinge wat na buurlande vlug; vlugtelinge wat tans deur Soedan gehuisves word en weer terugkeer huis toe; en vlugtelinge wat tans deur Soedan gehuisves word en nou na ander buurlande gaan trek.

“Tot dusver was die vernaamste oorgrensbewegings in die streek Soedanese wat na Tsjad gevlug het en Suid-Soedanese vlugtelinge wat na Suid-Soedan terugkeer,” het die VN gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat Suid-Afrikaners wat in Soedan vasgekeer was, na verwagting Vrydag (vandag) van Egipte na Suid-Afrika sal terugkeer.

Dr. Imtiaz Sooliman, direkteur van die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers, het bevestig die eerste groep van 38 Suid-Afrikaners is reeds veilig in Aswan, ʼn stad in die suide van Egipte, op die oosoewer van die Nylrivier.

Die oorblywende groep van agt Suid-Afrikaners, wat weens paspoortprobleme by die grens opgehou is, se toegang is ook verseker nadat hulle 26 uur lank moes wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.