ChatGPT se kop staan sake toe ná tanende belangstelling

ChatGPT se intekenskerm (Foto: Stanislav Kogiku / APA-PictureDesk / APA-PictureDesk via AFP)

OpenAI het Maandag gesê ʼn sakeweergawe van die kunsmatige intelligensie (KI)- platform, ChatGPT, sal binnekort die lig sien.

Dit lyk of ChatGPT se gewildheid taan sedert dit nege maande gelede sy geskiedkundige debuut gemaak het.

ChatGPT Enterprise sal vir sakeklante ʼn premium weergawe bied van die bot, met ondernemingsgraad sekuriteit- en privaatheidinstellings van vorige weergawes, het OpenAI in ʼn bloginskrywing gesê.

Datasekuriteit het ʼn belangrike kwessie vir OpenAI geword, met groot maatskappye soos Apple, Amazon en Samsung wat werknemers se toegang tot ChatGPT blokkeer uit vrees dat sensitiewe inligting uitgelek kan word.

“Vandag neem ons nog ʼn stap na ʼn KI-assistent vir sakeondernemings, wat kan help met enige taak en pasgemaak is vir jou organisasie, en wat jou maatskappy se data kan beskerm,” het OpenAI gesê.

Die ChatGPT-sakeweergawe lyk soos Bing Chat Enterprise, ʼn aanbieding deur Microsoft, wat dieselfde OpenAI-tegnologie deur ʼn massiewe vennootskap gebruik.

ChatGPT Enterprise sal deur GPT-4 aangedryf word. Sakeklante sal spesiale voordele hê, soos beter spoed.

“Ons glo KI kan elke aspek van ons werkslewe ophef en spanne kreatiewer en produktiewer maak,” het die maatskappy gesê.

Dit het bygevoeg dat maatskappye soos Carlyle, die Estée Lauder-maatskappye en PwC vroeg reeds ChatGPT begin gebruik het.

Die uitreiking kom omdat ChatGPT sukkel om die opgewondenheid wat dit veroorsaak het in die weke nadat dit uitgereik is, te ewenaar. Dit was die app wat die vinnigste is ter wêreld afgelaai is.

Volgens die Similarweb- analitiese maatskappy, het ChatGPT se verkeer met byna 10% in Junie en weer in Julie gedaal.

Similarweb voorspel dat rofweg een kwart van ChatGPT se gebruikers wêreldwyd in die 18 tot 24 jaar demografie val.

OpenAI kry ook teenkanting van nuuswebwerwe en ander platforms soos X (voorheen bekend as Twitter) en Reddit, wat OpenAI-webbekruipers verhinder om data vir KI-modelopleiding te verkry.

Die Pew-navorsingsentrum het Maandag ʼn verslag uitgereik wat ook dui op ʼn algemene huiwering oor KI en ChatGPT.

Tweederdes van respondente in die VSA, wat al van ChatGPT gehoor het, sê hulle bekommernis is hoofsaaklik dat die regering nie ver genoeg sal gaan om die gebruik te reguleer nie.

Die navorsing dui ook aan dat 52% van Amerikaners sê hulle voel meer bekommerd as opgewonde oor die toenemende gebruik van KI.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

Maroela Media, moet asseblief nie dink omdat hier geen repliek gelewer is nie, word dit nie gelees of interessant gevind nie. Inteendeel… hierdie klas artikels word waardeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.