Cullinan-diamante op Camilla se kop vir kroningseremonie

Die koningin-gemalin, Camilla. (Foto: Chris Jackson/POOL/AFP)

ʼn Stukkie glinsterende Suid-Afrikaanse geskiedenis sal deel van Camilla, die koningin-gemalin, en koning Charles III se kroningseremonie in Mei vanjaar wees.

Buckingham-paleis het Dinsdag bevestig dat sy die kroon van koningin Mary – koning Charles III se oumagrootjie – tydens dié seremonie sal dra, maar dat ʼn paar wysigings en toevoegings eers daaraan gemaak sal word.

Dié geskiedkundige kroon sal met verskeie Cullinan-diamante – geslyp uit die grootste diamant wat nog ooit gemyn is toe dit in 1905 in Suid-Afrika ontdek is – ter ere van wyle koningin Elizabeth II geset word.

Dié diamante was jare lank deel van haar persoonlike juwelierswareversameling en sy het dit dikwels as borsspelde gedra.

Dit is die eerste keer in onlangse geskiedenis dat ʼn bestaande kroon gebruik sal word vir die kroning van die koningin-gemalin en volgens die paleis word dié stap “in die belang van volhoubaarheid en doeltreffendheid” gedoen.

Koningin Mary se kroon. (Foto: Twitter/Coronation News and updates)

Dié kroon, wat meer as ʼn eeu oud is, is in opdrag van koningin Mary vir haar kroning in 1911 saam met koning George V gemaak. Vier van sy agt afwaartse boë sal nou ook verwyder word om ʼn nuwe silhoeët te skep.

Daar is bespiegel dat Camilla die koninginmoeder se kroon – wat die Koh-i-Noor-diamant bevat – vir haar kroning sou kies, maar weens dié steen se kontroversiële geskiedenis is daar eerder op koningin Victoria se kroon besluit.

Die Koh-i-Noor-steen is deur die Oos-Indiese Kompanjie in Punjab, Noord-Indië, in beslag geneem ná sy oorwinning in die Tweede Anglo-Sikh-oorlog van 1849.

Dit is daarna aan koningin Victoria gegee en was al in krone van koningin Alexandra en koningin Mary te sien. Dit is tans in die koninginmoeder se kroon – wat vir koningin Elizabeth (koningin Elizabeth II se ma) gemaak is om by haar kroning saam met haar man, koning George VI, in 1937 te dra.

Camilla het wel die koninginmoeder se kroon by koningin Elizabeth II se begrafnis in 2022 gedra.

Die regerende party van die Indiese premier, Narendra Modi, het glo kommer uitgespreek dat dié beroemde diamant ʼn onwelkome herinnering aan die Britse Ryk sou wees.

Die Suid-Afrikaanse regering het nog nie op die nuus oor die Cullinan-diamante gereageer nie, maar die koningin-gemalin is luidens mediaberigte verlede jaar afgeraai om juwele wat Cullinan-diamante bevat tydens pres. Cyril Ramaphosa se staatsbesoek aan die Verenigde Koninkryk te dra.

Koning Charles sal met die St. Edward-kroon in Westminster-abdy op 6 Mei gekroon word. Sy kroon is reeds gewysig en in die Toring van Londen aan lede van die publiek vertoon.

Die amptelike logo vir sy kroning is ook onlangs deur Buckingham-paleis onthul.

Dié blomontwerp is deur sir Jony Ive, bekend vir sy innoverende ontwerpe van Apple-toestelle, waaronder die iPhone, ontwerp en is bedoel om die koning se liefde vir die natuur te weerspieël.

Bykomende bronne: AFP/Sky News/BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Samuel ·

Na alles is die diamant (e) hul eiendom en laat hulle daarmee maak wat hulle wil.

Witbaard ·

Dis seker wat cyril in die UK gemaak het. Hy wou die diamante opeis.

Realis Thailand ·

Inhalig soos hy is sal ek nie verbaas wees as jou grappige bewering dalk waar is
Hy sal seker dit gratis wou he.

Wielspore ·

Ten spyte van die feit dat SA oor van die beste mineraal bronne beskik, trek Suid Afrikaners geen tot min voordeel uit dit. Ons beste steenkool word uitgevoer, ons beste en grootse diamante eindig in die buiteland. In ruil daarvoor voer die buiteland die massas in SA met mielie meel om hulle gelukkig te hou. Die buiteland onderhou ‘n kultuur van afhandlikheid teenoor hulle terwyl die teenoorgestelde die waarheid is. SA het die potensiaal om sterker as enige ander land in die wêreld te word omdat ons oor alle bronne beskik. Ons mense kort net die regte opleiding.

Jacobus ·

Wielspore dit is presies hoekom die buiteland apartheid as verskoning gebruik om SA te beheer. Cyril is kort- kort in die buiteland om vir nog meer te bedel.

Janice ·

Baie waar maar, Suid-Afrika (net soos die res van Afrika) wag vir dieselfde mieliemeel skenkers om alles vir hulle te doen. Hoekom wag ons nou vir ander lande om ons te kom oplei? Hoekom sit ons nie skouer aan die wiel en doen dit onsself nie?

piet ·

Is dit Louis Botha wat ons kosbare Cullinan diamant so weggegee het? Die Engelse skiet die nerwe van hulle af en hulle gee geskenke vir die “empire”. Eish.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.