David Cameron terug in Britse kabinet

david-cameron

David Cameron. (Foto: Facebook)

Brittanje se voormalige eerste minister David Cameron (57) het Maandag in ʼn skokwending ʼn terugkeer tot die Britse kabinet as minister van buitelandse sake gemaak.

Dít volg nadat eerste minister Rishi Sunak kabinetskommelinge gemaak het in die aanloop tot ʼn algemene verkiesing wat na verwagting volgende jaar sal plaasvind.

Sunak het onder meer sy minister van binnelandse sake, Suella Braverman, die trekpas gegee. Dit volg nadat kritici Braverman daarvan beskuldig het dat sy olie op die oorlogsvuur tussen Israel en Palestina gegooi het tydens betogings – vir en teen Palestina – die afgelope weke in Brittanje.

Hy het Braverman met James Cleverly – wat as minister van buitelandse sake gedien het – vervang.

Cameron se terugkeer is deur baie mense as ʼn “verrassende aanstelling” beskryf.

Hy het in 2016 as Brittanje se eerste minister bedank toe die Britte besluit het om die Europese Unie (EU) te verlaat in ʼn stap wat later as Brexit bekend gestaan het. Hy het destyds gesê die besluit moet eerbiedig word, maar dat hy nie die “kaptein” gaan wees wat die skip deur die moeilike onderhandelinge met die EU gaan stuur nie.

Cameron sê hy het sy nuwe rol as minister van buitelandse sake egter met blydskap aanvaar aangesien verskeie “internasionale uitdagings” Brittanje in die gesig staar.

“Hoewel ek vir sewe jaar op die politieke kantlyn  was, hoop ek dat my ervaring – as Konserwatiewe Party-leier vir 11 jaar en eerste minister vir ses jaar – my sal help om die eerste minister by te staan om hierdie uitdagings te pak.”

Die veranderings aan die kabinet was die eerste groot skommeling sedert Sunak in Oktober verlede jaar die leisels oorgeneem het.

Braverman het nie kommentaar op die veranderings gelewer nie, maar bloot gesê dat dit een van die grootste voorregte in haar lewe was om as minister van binnelandse sake te dien.

“Ek sal mettertyd meer sê.”

Intussen is daar verdeeldheid oor Cameron se aanstelling, selfs onder politieke ontleders wat effens onkant betrap is deur die aankondiging.

Verskeie kommentators reken Cameron se aanstelling hou regstreeks verband met die algemene verkiesing van volgende jaar, terwyl ander skepties is of hy wel die nodige stemme vir die Konserwatiewe Party sal inwin en enige verskil sal maak.

Hoewel Cameron ʼn hoëprofiel-leier met sterk bande wêreldwyd is, het ʼn peiling in September aangedui dat net 45% van volwassenes in Brittanje hom steun.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.