Deense kinders nie meer ingeënt teen Covid-19

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Terwyl Amerika druk om kinders jonger as vyf jaar met die Covod-19-entstof in te ent, het Denemarke die inenting van alle kinders onder 18 afgeskaf. Hierdie besluit is verlede maand ingestel.

Volgens die departement van gesondheid in Denemarke het hulle besluit dat kinders nie meer teen Covid-19 ingeënt hoef te word nie, aangesien hulle slegs selde ernstig siek word van die virus.

Vanaf 1 Julie is kinders nie meer die eerste dosis toegedien nie en die tweede dosis sal van 1 September af nie meer aan kinders toegedien word nie.

“Slegs individuele kinders met onderliggende toestande sal steeds die opsie van die inenting hê, met verwysing van ’n dokter,” bevestig die departement.

Maroela Media het vroeër berig Denemarke het reeds in April sy grootskaalse Covid-19-inentingsveldtog opgeskort. Hy het in Februarie reeds alle beperkings wat met die koronaviruspandemie verband hou, afgeskaf.

Inentings vir jong kinders in Amerika

Amerikaanse gesondheidsowerhede het Saterdag die Pfizer- en Moderna-Covid-19-entstowwe vir kinders van vyf jaar en jonger goedgekeur. Dit is dus nou die eerste land wat die gebruik van die sogenaamde mRNA-entstowwe vir kinders so jonk soos ses maande goedgekeur het.

Die Amerikaanse kos-en-medisyne-owerheid (FDA) het Vrydag die entstof vir jong kinders gemagtig. Hulle moes voorheen minstens vyf jaar wees om die entstof te ontvang.

Ongeveer 20 miljoen Amerikaanse kinders kom nou volgens hul ouderdom in aanmerking vir die nuwe entstowwe.

Pres. Joe Biden het belowe dat ouers reeds volgende week afsprake kan begin skeduleer om hul jong kinders by hospitale, klinieke, apteke en dokterskantore te laat inent.

Hy het Saterdag in ’n verklaring gesê dat hy die entstowwe as “veilig (en) hoogs doeltreffend” beskou.

Die Moderna-entstof, wat in twee dosisse per maand uitmekaar toegedien word, sal beskikbaar wees vir kinders van ses maande tot vyf jaar in verminderde dosisse van 25 mikrogram (die helfte van die hoeveelheid wat kinders van ses tot 11 jaar toegedien word, en ’n kwart van die dosis vir diegene wat 12 jaar en ouer is).

Die Pfizer-BioNTech-entstof is nou gemagtig vir kinders van ses maande tot vier jaar, en sal in dosisse van drie mikrogram per dosis gegee word – een tiende van die volwasse dosis.

Die verskil is egter dat kinders drie dosisse sal ontvang – die eerste twee drie weke uitmekaar, gevolg deur ’n derde agt weke later.

Daar is vasgestel dat die newe-effekte van die Moderna-entstof minder ernstig is.

Ongeveer ’n kwart van jong kinders wat Moderna ontvang, het koors ontwikkel, veral ná die tweede dosis – maar dit het gewoonlik nie meer as ’n dag geduur nie.

Hoewel kinders oor die algemeen minder kwesbaar vir Covid-19 is, is sowat 480 kinders onder vyf jaar in die VSA aan die virus dood.

Sogenaamde lang Covid is ook ’n risiko, asook multisisteem- inflammatoriese sindroom, ’n seldsame maar ernstige post-virale toestand wat onder kinders voorkom.

Pfizer het gesê hy hoop om vroeg in Julie by die Europese Medisyne-agentskap aansoek te doen vir magtiging om sy entstowwe aan Europese kinders in hierdie ouderdomsgroep te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Groen Ghoen ·

Mnr. Biden het bloot dit gelees wat op sy teleprompter verskyn het?

Hennie Biebouw ·

Mens bejeën die Skandinawiese lande, wat grootliks die Weste se hoofstroom media en hul Covid histerie en fear mongering vrygespring het. Hul het maar almal stil stil aangegaan en hul beleid op feite en navorsing gebasseer.

Korrelkop ·

Na al die maande bly ek steeds skepties oor die inenting histeria. Self 3 inentings gehad maar nogtans Covid opgedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.