Djokovic se kop dalk deur vir Australiese Ope

Serwië se Novak Djokovic (Foto: Oli Scarff/AFP)

Novak Djokovic gaan heel waarskynlik ’n visum toegestaan word om volgende jaar aan die Australiese Ope deel te neem.

“Daar is nog niks amptelik nie,” het die oningeënte Serwiese tennisster egter aan verslaggewers gesê nadat hy Maandagaand sy openingswedstryd by die ATP-eindtoernooi in Turyn gewen het.

Die Australiese uitsaaier ABC het wel Dinsdag berig die Australiese regering het reeds besluit om ’n visum aan Djokovic toe te staan. Dít ten spyte daarvan dat hy verlede jaar vir drie jaar verban is om vir ’n nuwe Australiese visum aansoek te doen.

“Die ABC het berigte in The Guardian bevestig dat Andrew Giles, minister van immigrasie, daardie verbod omgekeer het, en Djokovic waarskynlik ’n visum gaan toestaan om terug te keer na Australië vir die toernooi in Januarie.”

Djokovic sê hy wag nog vir bevestiging. “[My prokureurs] kommunikeer met die regering van Australië. Dit is al wat ek vir nou kan sê.”

Craig Tiley, hoof van die Australiese Ope, het verlede maand gesê hy het onlangs tyd saam met Djokovic deurgebring en die Serwiër het dit duidelik gestel dat hy graag in Januarie sal wil terugkeer vir die toernooi in Melbourne.

“Hy het gesê dat hy natuurlik daarvan sal hou om na Australië terug te keer, maar hy weet dit gaan uiteindelik ’n besluit vir die federale regering wees. Hy het daardie kwessie aanvaar. Dit is ’n private saak tussen hulle.”

Karen Andrews, Australië se gewese minister van binnelandse sake, voel egter nie Djokovic behoort spesiale behandeling te ontvang nie.

“Dit sal ’n klap in die gesig wees vir daardie mense in Australië wat die regte ding gedoen het, ingeënt is en alles gedoen het wat hulle moes doen, as Novak Djokovic skielik weer in die land toegelaat word bloot omdat hy een van die wêreld se beste tennisspelers met baie miljoene dollars is,” het sy verlede maand aan ABC-radio gesê.

Die Serwiese tennisster is kort voor vanjaar se Australiese Ope uit Australië gedeporteer nadat die regering sy visum gekanselleer het. Dít nadat hy op sosiale media bekend gemaak het dat hy mediese vrystelling bekom het om in die Australiese Ope te speel sonder bewys dat hy ten volle teen Covid-19 ingeënt is.

Djokovic het eindelik twee Grand Slams misgeloop weens sy weiering om die Covid-19-entstof te ontvang.

Australië het sedertdien sy vereiste vir besoekers om bewys van Covid-19-inenting te toon, opgehef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Treurwilger ·

Puik nuus!
Watter wêreld leef ons in dat ‘n perdfris, super gesonde Novak moet dankbaar voel om bloot sy beroep te beoefen.
Hy sal net versigtig moet wees om nie té veel in die media kwyt te raak nie; Karen Andrews is net een voorbeeld van die algemene onvermoë van die publiek om onderskeid te tref tussen ‘n regte krimineel en ‘n belaglike tydelike verbod op ‘n sportman.

George ·

Die feit bly, hy het die wet oortree deur om te lieg op sy incoming card, wat wettiglike dokument is, met wete dat hy dit onveragsaam, soos die krimineel, is dit dieselfde wet wat hy oortree het. Eks bly hy kan jol, maar wens mense wil dit besef, maak nie saak wat nie, hy het die wet oortree.

Treurwilger ·

Hy het nie.
Jy deel Andrews se gebrek aan oordeelsvermoë.
Die HOF het sy dokumente in orde bevind.
Die minister het hom daarná weer hof toe laat sleep en as gevaarlike persoon beskryf wat die 10% oningeënte Australiërs negatief sal beïnvloed.
Gaan lees weer die misrabele berigte.
Wat ‘n klad op ‘n land se reputasie as sogenaamde sportliefhebbers.

George ·

Glad nie n klad nie. As die burgers dit moet doen om te kan werk, moet die buitelanders ook, eenvoudig. Gelukkig kan opinies verskil.

George ·

Ek wonder net of die Ausies dan enige iemand wat gelieg het op hul Incoming Passanger Cards (wat n wettiglike dokument is) gaan toelaat om in te kom voor hul 3jaar opskorting klaar is?

Oros Soros ·

Die Ausies is bang hulle ope loop dieselfde pad as Wimbledon. Die Novak saak is ook nie ‘n gewone een nie en het buitengewone politieke inmenging gehad van ‘n regering wat nou geskiedenis is.

George ·

n regering wat dieselfde reels en regulasies toegapas het ongeag wie jy is, dit is wat die Djokeviche so kwaad gemaak het, dat hy nie in Oz bo die wet is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.