Dodetal styg ná Maleisië-modderstorting

Die kampeerterrein in Batang Kali (16 Desember 2022) (Foto: Arif Kartono/AFP)

Reddingswerkers in Maleisië is Saterdag steeds op soek na oorlewendes en liggame waar die dodetal ná ʼn modderstorting tot 23 gestyg het, insluitend ses kinders.

Tien mense word steeds vermis ná die tragedie Vrydag ʼn kampeerterrein op ʼn organiese plaas naby Batang Kali, net buite Kuala Lumpur, getref het.

Beamptes sê daar was meer as 90 mense, waarvan meeste reeds geslaap het, op die kampeerterrein toe die modderstorting gebeur het. Minstens 61 mense is veilig gevind of gered.

Twee van die slagoffers, vermoedelik ʼn ma en haar kind, is in ʼn omhelsing gevind waar hulle onder die grond begrawe is, het Norazam Khamis, direkteur van die Selangor- brand en reddingsdiens, Vrydag aan verslaggewers gesê.

Die plaas het nie ʼn lisensie vir die kampeerterrein nie en die eienaars kan vervolg word as daar bevind word hulle het enige wette oortree.

Eerste minister Anwar Ibrahim het Vrydag die gebied besoek en gesê finansiële hulp sal aan die families verskaf word.

Amirudin Shari, minister van Selangor, het gesê alle piekniek- en kampeerterreine in die staat sal vir ʼn week lank gesluit bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.