Dodetal styg ná migrante in vragmotor-sleepwa gevind is

(Foto: Jordan Vonderhaar/Getty Images/AFP)

Die dodetal van migrante wat vandeesweek in ’n bloedig warm vragmotor-sleepwa in Texas gevind is, het tot 51 gestyg.

Die Amerikaanse president Joe Biden het intussen die skuld vir die tragedie op “kriminele” professionele smokkelaars gepak.

Maroela Media het vroeër berig dat 46 migrante Maandag dood in dié vragmotor-sleepwa aangetref is nadat die verlate voertuig langs die pad aan die buitewyke van San Antonio aangetref is. Altesaam 16 oorlewendes, onder wie vier kinders, is lewend gevind en na die hospitaal vervoer. Vyf van die pasiënte is intussen oorlede.

Rebecca Clay-Flores, ʼn beampte van Bexar County, sê 39 mans en 12 vroue is dood. Sy het nie gesê hoeveel oorlewendes nog steeds in die hospitaal behandel word nie, maar volgens inligting wat vroeër weergegee is, is dit moontlik dat 11 mense nog opgeneem is – onder wie vier kinders.

Die Mexikaanse president Andrés Manuel Lopez Obrador sê 22 van die slagoffers was Mexikaans, sewe van Guatemala en twee van Honduras.

“Dis ʼn groot tragedie,” het hy aan verslaggewers gesê.

Die polisie het Dinsdag bevestig dat twee mans by die adres in hegtenis geneem is waar die vragmotor-sleepwa geregistreer is. Juan Francisco D’Luna-Bilbao en Juan Claudio D’Luna-Mendez is albei Mexikaanse burgers wie se Amerikaanse toeristevisums verval het. Luidens hofdokumente was hul ook in besit van verskeie vuurwapens.

Die departement van binnelandse veiligheid het aangekondig dat hulle ʼn strafregtelike ondersoek van stapel gestuur het terwyl Biden teenoor mensehandelsindikate uitgevaar het.

“Die tragiese verlies aan lewe in San Antonio is angswekkend en hartverskeurend.

“Die voorval onderstreep die noodsaaklikheid om die multimiljard dollar kriminele smokkelbedryf hok te slaan wat migrante uitbuit. Dit lei tot veels te veel onskuldige sterftes.”

ʼn Soortgelyke tragedie het in 2017 in San Antonio afgespeel toe tien migrante in ʼn vragmotor se sleepwa dood gevind is. Tientalle is met hitte-uitputting en dehidrasie in die hospitaal opgeneem. Die vragmotorbestuurder het later skuld beken op aanklagte wat met die sterftes verband hou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Miena ·

Sjoe Ja-Nee! Dis erg jong. Wys net dat dinge nie net in ons “geliefde SA” deurmekaar en onderstebo is nie. Jammer dat mense so tot te sterwe gegaan het.

Harley Davidson ·

Dit is wat pres Trump wou gedoen het die onwettige immigrante uithou toe hy gestenig is ” sometime you need to be cruel to be kind”

Jaco ·

Terwyl Trump president was, is al sy aksies teen onwettige immigrante deur die hoogheilige Demokrate uitgekryt as rassisties. Maar dieselfde hoogheilige Demokrate is al amper ‘n jaar en ‘n half in beheer (hulle beheer die Withuis, die albei huise van die Kongres), maar immigrante word nog steeds in Amerika ingesmokkel. Wat dan nou van die “human rights” georiënteerde Demokrate se mooi oop immigrasiebeleid?
Ek het self oorweeg om van Mexiko af bloot net in Amerika in te stap. Met al die menseregte vergrype teen my as wit Suid-Afrikaner, behoort ek mos maklik in Amerika in te kom. Menseregte word dan so mooi daar deur die Demokrate gerespekteer….

Aai ·

Met al vandag se tegnologie kan ek nogsteeds nie verstaan hoe is dit nie moontlik om van binne oop te maak?

Kokerboom ·

Spreek liewer die oorsake van onwettige immigrante wêreldwyd aan. Vernietig ook kartelle betrokke by sulke handel.

Elna ·

Joe Biden se oopgrense-beleid is hier die skuldige party. Joe Biden het n manier om altyd iemand anders te blameer, hy is n slap-alie president. Shame on you, mr Biden.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.