Drie sterftes dalk met aappokke verbind

Gesondheidswerkers kyk of mense wat van oorsee af kom simptome van aappokke het. (Foto: Arun Sankar/AFP)

Drie sterftes is nou al aangemeld wat moontlik verband kan hou met aappokke. Spanje het Saterdag die tweede sterfgeval aangemeld wat volgens dié land se medici met aappokke verbind kan word. Brasilië het ook een sterfgeval aangemeld.

Dit is nie heeltemal duidelik of aappokke wel tot hierdie sterftes gelei het nie, met nadoodse ondersoeke wat nog afgehandel moet word. Brasiliaanse owerhede het ook daarop gewys dat die oorledene aan ander ernstige mediese toestande gely het.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is meer as 18 000 voorvalle buite Afrika nou al sedert Mei aangemeld. Dié organisasie het die uitbreking nou al tot ʼn gesondheidsnoodgeval verklaar.

Spanje is die ergste getref, met 4 298 gevalle wat reeds hier aangemeld is. “Van die 3 750 pasiënte word 120 in die hospitaal behandel en twee het gesterf,” lui ʼn verslag deur Spaanse owerhede. Die slagoffers is twee jong mans en verdere inligting word nou ingewin oor die presiese oorsaak van hul dood.

Dié foto is in 2011 geneem tydens ’n uitbreking van aappokke in die Kongo. (Foto: AFP)

Die Brasiliaanse slagoffer is ook ʼn man en is Donderdag in Belo Horizonte oorlede. Die land se gesondheidsowerhede wys egter daarop dat hy behandeling ontvang het vir ander ernstige mediese toestande ten tye van sy dood. Dit sluit kankerbehandeling in. Amper 1 000 gevalle is nou al in Brasilië aangemeld.

Simptome sluit in ʼn hoë koors, geswelde limfkliere en ʼn uitslag soortgelyk aan dié van waterpokkies. Volgens die WGO word pasiënte gewoonlik vir pyn en sekondêre infeksies behandel. “In baie min gevalle moet lewensbedreigende komplikasies soos enkefalitis (inflammasie van die brein) behandel word.”

Catherine Smallwood, senior noodbeampte by die WGO in Europa, het beklemtoon dat die siekte meestal vanself genees, sonder dat enige behandeling nodig is. “Ons fokus nou daarop om die verspreiding van die siekte te bekamp.”

Die siekte word steeds oorwegend onder mans wat in seksuele aktiwiteite met ander mans betrokke is, waargeneem. Die WGO het dié mans aangeraai om seksuele aktiwiteite tot net een maat te beperk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Manie ·

Die strate word weer goed gepatrolleer vanmôre, so kom ons probeer weer verbykom. Hanteer dit dieselfde soos die destydse Knoffel en Beet resep.

Johan ·

Die “ander ernstige mediese toestande” (ko-morbiditeite) speel ook ‘n kritieke rol!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.