Ebola versprei na stad, bedreig land se bure

Argieffoto (September 2018) (Foto: AP Photo/Al-hadji Kudra Maliro, File)

Owerhede in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) het ʼn oproep vir kalmte gedoen nadat ʼn geval van die dodelike Ebola-virus in die stad Goma aangemeld is.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het gesê die geval kan die situasie in die land op ʼn mespunt dryf omdat die stad ʼn bevolking van meer as ʼn miljoen mense het. Goma lê op die grens van die DRK en Rwanda en word ook as ʼn kultuur- en vervoermiddelpunt in die Kivu-provinsie beskou, het BBC.com berig.

Die WGO het egter vertroue uitgespreek in sy planne om die voorval te hanteer.

In die jongste geval is die siekte Sondag by ʼn 46-jarige pastoor geïdentifiseer wat ná ʼn 200 km rit per bus in Goma aangekom het. Die man het glo op die bus begin siek voel. Hy het vermoedelik deur drie padblokkades beweeg waar mense vir die siekte getoets word, sonder dat iemand besef het hy het ebola.

Volgens Carly Nzanzu, goewerneur van die streek, is die pasiënt onmiddellik geïsoleer en is die siekte gelukkig in ʼn baie vroeë stadium ontdek. Die busbestuurder en 18 ander passasiers wat saam met die pastoor gereis het, is ook reeds opgespoor en teen die virus ingeënt.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het gesê gesondheidsowerhede het Maandag ʼn noodvergadering belê om die voorval en die hantering daarvan te bespreek.

“Ons is egter vol vertroue dat die nodige maatreëls ingestel is om die verspreiding van Ebola in Goma te voorkom. Nietemin kan ons nie te versigtig wees nie,” het hy gesê.

Rwanda het in tussen gesê die land is op ʼn hoë gereedheidsbasis om Ebola-uitbreking in dié land te hanteer.

Diane Gashumba, Rwanda se gesondheidsminister, het haar na Gisenyi gehaas nadat die Goma-geval bevestig is. Sy het mense aangeraai om twee keer te dink voordat hulle na plekke reis waar die siekte geïdentifiseer is. Luidens die BBC loop mense vrylik oor die grens tussen Gisenyi en Goma wat kommer oor die moontlike verspreiding van die siekte laat toeneem.

Die siekte word nou wyd as ʼn bedreiging vir die DRK se bure gereken nadat verskeie gevalle van Ebola ook onlangs in Uganda en selfs op die grens van Suid-Soedan gerapporteer is.

Ebola is ongeveer 11 maande gelede vir die eerste keer in die ooste van die DRK gediagnoseer. Sowat 1 600 mense het reeds weens die siekte gesterf en 12 nuwe gevalle word byna daagliks aangemeld.

Volgens Medicalxpress.com is daar meer as 2 239 gevalle in Junie van die siekte gediagnoseer, wat dit die tweede grootste uitbreking van die gevreesde virus maak.

ʼn Ligpunt is dat daar sedert die grootste epidemie van die Ebola-virus, tussen 2014 tot 2016 in die weste van Afrika, ʼn entstof vir die siekte ontwikkel is. Sowat 700 pasiënte het in die DRK-uitbreking volkome van die siekte genees en 160 000 inwoners is teen die siekte ingeënt. ʼn Verdere 3 000 gesondheidswerkers is ook teen die virus ingeënt.

Ebola-virus. Argieffoto.

VN sê groter internasionale steun word benodig om Ebola te oorwin

In tussen het Mark Lowcock, noodhulpkoördineerder vir die Verenigde Nasies (VN) Maandag in Genève, Switserland, gewaarsku dat die stryd teen Ebola veel groter internasionale steun sal vereis.

Volgens die African News Agency kom Lowcock se waarskuwing nadat die dodelike siekte dreig om buite die DRK se grense te versprei en gesondheidwerkers gereeld in die land aangeval word.

Sedert Januarie is daar reeds meer as 200 aanvalle op gesondheidsfasiliteite en werkers aangeteken.

Wat is Ebola?

Ebola is ʼn virus wat aanvanklik ʼn skielike koors, intense swakheid, spierpyn en ʼn seer keel veroorsaak. Die siekte skakel dan later om na braking, diarree en interne en eksterne bloeding.

Ebola besmet mense deur noue kontak met besmette diere, insluitende sjimpansees, vlermuise en bosbokke.

Mense word verder besmet wanneer hulle direkte kontak het met die bloed, braking, ontlasting of liggaamsvloeistowwe van iemand met Ebola . Dié kontak kan wees deur ʼn stukkende vel, mond of neus.

Pasiënte sterf gewoonlik van dehidrasie en meervoudige orgaanversaking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jan ·

Ebola is n klug en n fake gaan kyk maar op youtube ebola hoax.daar bestaan glad nie so siekte nie…

Dassie ·

Jan jy weet duidelik nie waarvan jy praat nie. Tans gaan 67% vd mense wat ebola kry dood weens die siekte. So ja wat dit ookal genoem wil word dis n werklikheid dat mense sterf.

Kommerwekkend ·

‘n Siekte soos Ebola kan maklik versprei regoor Afrika weens verskeie redes met ernstige gevolge en groot getalle sterftes . Suid-Afrika is ook ‘n risiko, altans alle lande in Afrika is groot risiko’s want alle Afrika lande is derde wêreldse en onderontwikkelde lande met swak gesondheidssorg en geweldige armoede. Peste en plae en pestilensie kan maklik uitbreek en oorneem in Afrika en soos ‘n veldbrand versprei.

Ebola is nie ‘n siekte om ligtelik op te neem nie, dus wees waaksaam en moet nie gerus raak nie en vermy reise na lande waar dit alreeds uitgebreek het.

Hanna Hoekom ·

Suid-Afrika met sy oop grense sal baie vinnig moet wakkerskrik! So ook die Europese lande wat vlugtelinge uit Afrika inneem. Hierdie is meer as net n bietjie griep…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.