Eerste kinders uit kabelkar in Pakistan gered

ʼn Soldaat hang van ʼn helikopter tydens die reddingspoging (22 Augustus 2023) (Foto: – / AFP)

Weermaghelikopters en glykabelkenners het Dinsdagaand reeds vier kinders uit ʼn groep van agt mense gered wat ure lank in ʼn kabelkar hoog bo ʼn ravyn in ʼn afgeleë gebied van Pakistan gehang het. Beamptes sê die donkerte verhinder tans pogings om die res te red.

Die gevaarlike reddingspoging het begin toe ʼn helikopter twee kinders na veiligheid gebring het net voor dit donker geword het. Die helikopter moes toe egter terugkeer na die basis.

Reddingsbeamptes het daarna ʼn kabel gebruik om te voorkom dat die kabelkar in die vallei neerstort. ʼn Glykabel is gebruik om nog twee kinders te red.

“Glykabel-kenners en ander siviele en weermagkenners en kabeloperateurs is op die toneel en staan ons by in die reddingspoging,” het adjunk-kommissaris Tanveer Ur Rehman gesê. “Die reddingspoging duur voort, maar die helikopters kan nie in die donker vlieg nie,” het Bilal Faizi van die Pakistanse 1122-nooddiens gesê.

Ses skoliere en twee volwassenes het in die kabelkarretjie gery toe ʼn kabel op ʼn hoogte van sowat 365 meter in die middel van die rit gebreek het. Die kabelkar is in ʼn afgeleë, bergagtige deel van die noordwestelike Khyber Pakhtunkhwa-provinsie geleë.

Verskeie weermaghelikopters het vroeër in die dag verkenningswerk gedoen en ʼn bemanningslid het kos, water en medisyne aan die groep verskaf, het Ur Rehman vroeër aan AFP gesê.

“Dit is ʼn delikate operasie en verg uiterste akkuraatheid. Die helikopter kan nie te naby aan die kabelkar beweeg nie, aangesien die lugdruk dit moontlik die enigste kabel, wat tans die kabelkarretjie dra, kan laat breek.”

Angstige toeskouers het aan weerskante van die ravyn bymekaar gekom, ʼn paar uur van enige groot dorp.

“Elke keer wat die helikopter die reddingsbeampte nader aan die kabelkarretjie laat sak het, het wind die kabelkarretjie laat skud en die kinders het uit vrees begin skree,” het Ghulamulla, voorsitter van die Allai-valleigebied, aan Geo News gesê.

Die kabelkarretjie het omstreeks 07:00 (0200 GMT) gebreek. Inwoners het van moskee-luidsprekers gebruik gemaak om beamptes reg oor die Allai-vallei in kennis te stel.

Skoolhoof Ali Asghar Khan het telefonies aan AFP gesê die kinders is tienerseuns en skoliere aan sy staatskool Battangi Pashto.

Die skool is in ʼn bergagtige gebied geleë en daar is nie enige veilige brûe nie, so die kabelkarretjie word gereeld ingespan.

“Die ouers staan by die kabelkarretjiestasie en wag. Wat kan hulle doen? Hulle moet vir die reddingsbeamptes wag om hul kinders na veiligheid te bring. Ons is almal baie bekommerd.”

Abid Ur Rehman, ʼn onderwyser van ʼn ander skool in die gebied, het gesê sowat 500 mense het reeds saamgedrom om die reddingspoging te aanskou.

“Ouers en vroue huil vir die veiligheid van hul kinders,” het hy aan AFP gesê.

In 2017 is 10 mense dood toe ʼn kabel gebreek het. Passasiers het in ʼn ravyn naby die hoofstad Islamabad na hul dood geval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dana ·

Here hou asseblief U hand oor die passasiers van die kabelkarretjie asook die reddingswerkers. Ek bid dat almal na veiligheid gebring sal word. Die vrees…. ek kan my dit nie vooorstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.