‘Ek is dankbaar ek lewe,’ sê Aussie-seevaarder

Tim Shaddock (Foto: Ulises Ruiz/AFP)

“Ek is dankbaar. Ek lewe.”

Só het Tim Shaddock, ʼn Australiese seevaarder wat saam met sy hond in die Stille Oseaan rondgedobber het, gesê.

Shaddock (54) is saam met sy hond Bella deur die bemanning van ʼn Mexikaanse tunavistreiler uit die water gered nadat hulle twee maande lank op rou vis en reënwater op hul boot oorleef het.

Die twee boesemvriende het Dinsdag by die Mexikaanse hawe van Manzanillo aangekom.

Shaddock was maer, met ʼn bos baard en deurmekaar hare. Hy het ʼn rooi pet op sy kop gehad met ʼn logo van die vissersmaatskappy, Grupomar, wie se vaartuig tot sy en Bella se redding gekom het.

Maroela Media het vroeër berig Shaddock en Bella het in April vanjaar van die Mexikaanse kusstad La Paz op ʼn katamaran vertrek en sou sowat 6 000 km vaar voordat hulle in tropiese gebied van Frans-Polinesië sou anker gooi.

Die twee is egter gestrand op die diepsee gelaat nadat rowwe seetoestande die vaartuig beskadig en die elektroniese toestelle onbruikbaar gelaat het.

“Aan die kaptein en die vissersmaatskappy wat my lewe gered het – wat sê ʼn mens? Ek is net so dankbaar,” het Shaddock aan plaaslike verslaggewers gesê.

“Ek is lewend. Ek het regtig gedink ek gaan dit nie maak nie. So baie, baie dankie.”

Dit gaan beter …

(Foto: Chris Mins/Facebook)

Shaddock het Dinsdag aan verslaggewers gesê dat hy “oukei” voel.

“Dit gaan beter as hoe ek gevoel het voor ons gekry is. My gesondheid was vir ʼn ruk redelik sleg en ek was taamlik honger.”

Terwyl Shaddock die verslaggewers se vrae beantwoord het, het hy geglimlag, maar ook by tye emosioneel geraak.

“Ek het baie vis gevang, veral nadat my kos opgeraak het.”

Hy het egter sy kookgerei in die proses verloor en het dus “baie soesji” geëet, het hy spottenderwys gesê terwyl hy na sy liggaam wys en vertel hoe “maer” hy geword het.

Volgens Shaddock was daar “baie, baie, baie slegte dae”, maar ook “goeies”.

“Die moegheid was die moeilikste deel. Jy is altyd besig om iets reg te maak.

“Ek het probeer om geluk binne myself te vind. Ek het ook baie eensaam gevoel. Ek het baie keer in die see gegaan en dit geniet om binne die water te wees.”

ʼn Mooi lewe …

Die matroos het Bella, wat hy in Mexiko aangeneem het, geloof.

Volgens Shaddock het dié vierpotige hom op die water agtervolg ná verskeie mislukte pogings om vir haar ʼn ander huis te kry.

“Sy is ongelooflik. Daardie hond is iets anders,” het hy gelag. “Ek is net dankbaar sy leef. Sy is baie dapper.”

Bella het nie by Shaddock aangesluit vir die nuuskonferensie nie omdat sy aan boord van die Grupomar-vaartuig gebly het.

Shaddock het gesê hy sien daarna uit om met sy familie en vriende by die huis te herenig en “net rustig te wees”.

Hy sal “waarskynlik nie” weer in die nabye toekoms see toe gaan nie, het hy erken.

“Ek sal seker altyd in die water wees, hoewel ek nie weet hoe ver in die see ek sal gaan nie.”

Vir die eienaar van die Grupomar-maatskappy, Antonio Suarez, was die redding ʼn bewys dat “die lewe mooi is”.

“Ons was daarvoor verantwoordelik om die lewe van ʼn mens en die hondjie wat hom vergesel het te red,” het hy gesê.

“Ons het mediese dienste op ons vaartuie. Hy was in goeie hande.”

Suarez het gesê die boot wat Shaddock en Bella opgelaai het, was die oudste in die maatskappy se vloot.

“Die reis wat dié boot onderneem het om Shaddock se lewe te red, sou waarskynlik die vaartuig se laaste reis wees.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mieke ·

Dis so lekker om vir ‘n slag goeie nuus te lees! Bly dat Shaddock en Bella weer veilig en tussen hulle eie mense kan wees!

JohanR ·

Dink net ou hoe lekker dit nou gaan wees om al daai hare orals af te skeur, en tande te borsel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.