Elon Musk wil Twitter alleen besit

Elon Musk. (Foto: Patrick Pleul/POOL/AFP)

Die miljardêr Elon Musk het Woensdag ʼn bod gemaak om Twitter oor te koop sodat hy alleen in besit van dié sosialemediaplatform kan wees.

Dit kom net dae nadat hy aangekondig het dat hy nie by Twitter se raad sal aansluit nie, ten spyte van die groot aandeel wat hy onlangs in die platform bekom het.

Die wêreld se rykste man het Woensdag $54,20 per aandeel aangebied, wat dié sosialemediamaatskappy nou op $43,4 miljard waardeer.

Twitter se direksie het egter gesê dat hy die “ongevraagde” aanbod noukeurig sal hersien en ʼn besluit sal maak wat “in die beste belang van die maatskappy en al sy aandeelhouers” is.

Musk dring daarop aan dat hy die enigste persoon is wat die volle potensiaal van die platform kan ontsluit.

“Ek het in Twitter belê omdat ek glo in die platform se potensiaal om vrye spraak oor die hele wêreld te bevorder. Ek glo vryheid van spraak is ʼn maatskaplike noodsaaklikheid vir ʼn funksionerende demokrasie,” het Musk in sy aansoek by die Amerikaanse aandele-sekuriteite-owerheid (SEC) gesê.

“Sedert ek my belegging gemaak het, besef ek egter dat die maatskappy nie sal floreer of hierdie maatskaplike noodsaaklikheid in sy huidige vorm sal dien nie.”

“Twitter moet as ʼn private maatskappy getransformeer word – gevolglik bied ek aan om 100% van Twitter in kontant te koop.”

Musk, wat tans Twitter se grootste aandeelhouer is, het gesê hierdie is sy beste en laaste aanbod. Hy beplan ook om sy posisie as aandeelhouer te heroorweeg indien sy aanbod verwerp word.

Wedbush-ontleders het gesê die Twitter-raad sal waarskynlik gedwing word om die bod te aanvaar of ʼn ander koper te soek.

Musk het voorheen op Twitter gegrap dat indien hy die platform besit, hy sy kantore in San Francisco in die VSA in ʼn skuiling vir haweloses sal omskep en alle advertensies van die platform sal verwyder – wat Twitter se hoofbron van inkomste is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

De Villiers ·

Wow! Hopelik sal hy Trump weer toelaat om saam te tweet as hy dit reg kry om Twitter te koop!!

Ek mis vir Trump :(

Marius ·

Vryheid van spraak ??? Jy het nie eers meer seggenskap oor jou eie liggaam nie. All regerings wêreldwyd is daarteen. Dink nie hy gaan ver kom nie. Of jy onderwerp jou aan die reëls of jy word uitgehaal.

piet ·

Ek wonder wat in hierdie ou se kop aangaan as hy saans gaan slaap. Hy is is egter so skatryk dat al sou hy om een of ander rede miljarde verloor hy steeds ‘n ryk man sal wees. As jy so ryk is, moet jy net sorg dat jy oral ‘n vinger in die pie het. Ek wil egter nie so ryk wees nie, te veel goed om oor te dink of oor te worry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.