Foto’s: Duisende beween Soleimani in begrafnisoptog

Roubeklaers gedurende vanoggend se begrafnisoptog in Bagdad (Foto: Khalid Mohammed, AP)

Duisende roubeklaers het Saterdag aan ʼn begrafnisoptog deur die strate van Bagdad in Irak deelgeneem ter nagedagtenis van genl. Qassem Soleimani en sewe ander Iranse militante wat Vrydag in ’n lugaanval in die stad omgekom het.

Voertuie met die hoës se doodskiste het vanoggend stadig tussen die skare deurgevleg. Adel Abdel-Mahdi, die premier van Irak, en Hadi al-Amiri, ʼn senior leier in Hashd al-Shaabi, het vanoggend se optog bygewoon.

Woedende roubeklaers het teen-Amerikaanse slagspreuke soos “Dood aan Amerika!” geskree terwyl hulle plakkate omhoog gehou het wat lees: “Ons is almal Soleimani en al-Muhandis.”

Maroela Media het vroeër berig Abu Mahdi al-Muhandis, die adjunkbevelvoerder van die Iranse militante groep bekend as Popular Mobilization Forces (PMF) en ’n adviseur van Soleimani, is ook in die aanval dood. Soleimani was die hoof van Iran se elite Koeds-mag.

Roubeklaers brand vanoggend ‘n Amerikaanse en Israelse vlag. Israel het die aanval op Soleimani verwelkom. (Foto: Khalil Hamra, AP)

Die liggame word later vandag na die provinsies Karbala en Najaf in die suide van Irak gevlieg vir soortgelyke begrafnisoptogte waarna die gestorwe Irakse militante in Najaf begrawe sal word.

Soleimani se liggaam sal aan Iran terugbesorg word waar hy in sy tuisdorp ter ruste gelê sal word.

Daar heers tans groot spanning in die Golf-gebied oor Soleimani se dood, met Iran wat reeds gedreig het om wraak teen die VSA te neem.

Irak se pres. Barhan Salih het Saterdag ʼn beroep op streeks- en internasionale samewerking gedoen om spanning te ontlont.

Die Amerikaanse ambassade in Bagdad, die Irakse hoofstad, het Amerikaanse burgers aangespoor om onmiddellik die land te verlaat en Amerikaanse amptenare het gesê duisende ekstra troepe sal as ʼn voorsorgmaatreël in die Midde-Ooste ontplooi word.

Brittanje het Saterdag sy burgers aangeraai om nié na Iran of Irak te reis nie.

Naledi Pandor, Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het ook vanoggend vir kalmte te midde van die spanning gevra.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.