Foto’s: Koning Charles lê eed af

Koning Charles III praat gedurende die ampaanvaardingsraad binne die St. James-paleis in Londen. Camilla, koningin gemalin, kyk toe. (Foto: Jonathan Brady / AFP)

Charles III is Saterdag te midde van die klank van trompette, kanonvuur en uitroepe van “God bewaar die koning” amptelik tot koning van Engeland geproklameer.

Die ampaanvaardingsraad, waar Charles (73) sy eed afgelê het, is vir die eerste keer ooit uitgesaai en het die wêreld ʼn geleentheid gebied om verby die digte gordyn te loer na ʼn oomblik wat nog nooit deur lede van die publiek aanskou is nie.

Die historiese ritueel het by die St. James-paleis in Londen plaasgevind en ʼn openbare proklamasie en die klank van sewe trompette vanaf die paleis se balkon het gevolg. Die proklamasie is van ʼn reusevel papier afgelees, waarna “God bewaar die koning” uitgeroep is en die nuutbewoorde volkslied gespeel is. Die proklamasie is gelyktydig in Skotland, Noord-Ierland en Wallis uitgelees.

Dié ritueel word al duisend jaar lank gevolg om die nuus aan die nuwe koning se onderdane oor te dra.

Die proklamasie is van ʼn reusevel papier afgelees. (Foto: James Manning / AFP)

ʼn Skare van duisende mense het by die paleis saamgedrom en gejuig nadat die formele aankondiging gemaak is. Die trompetters was geklee in swierige uitrustings van rooi, blou en geel.

Hoewel Charles in beginsel sy ma, koningin Elizabeth II, se amp oorgeneem het toe sy Donderdagaand in die ouderdom van 96 oorlede is, is die amptelike seremonie die grondwetlike bevestiging van sy koningskap voor sy uiteindelike kroning.

Die seremonie het om 10:00 Londense tyd begin en is deur 200 lede van Brittanje se geheime raad bygewoon, onder wie Charles se vrou, Camilla, sy seun William en die Britse eerste minister, Liz Truss. Verteenwoordigers van die 14 lande van die Statebond, waaronder Suid-Afrika, is ook uitgenooi om die seremonie by te woon.

Charles het sy ma se “goeie voorbeeld, lewenslange liefde en onbaatsugtige diensbaarheid” tydens haar sewe dekades van heerskappy geloof en gesê hy is “diep bewus van die ontsaglike verantwoordelikheid” wat nou op sy skouers rus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Snowball ·

Op 73 dra sy persoon steeds nie die gravitas en waardigheid wat Elizabeth 2 skynbaar moeiteloos uitgestraal het nie; seker dié dat so ‘n tandlose enetjie daar uit die council flats hom doodluiters nader gehark het vir ‘n klapsoen tydens ‘n ‘meet and greet’.

Republikein in die Wes Kaap ·

Daai enetjie is die tipiese ondersteuner van die monargie. Dié met tanne en ‘n goeie werk voel vere vir die spul. En die firma weet dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.